SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Boeke
Storie sprei uit in vele onverwagte vertakkings

In sy aweregse misdaadromandebuut skryf Beyers de Vos soos ’n verkleurmannetjie wat iedereen van sy karakters wórd. En net soos in ’n regte stad waaier die stukke van sy komplekse storie vanaf die kern uit, skryf Valda Jansen.

Wrok deur Beyers de Vos. Uitgewer: Penguin. Prys: R250.

Elke misdaadromanskrywer wil ’n eie skryfstyl ontwikkel met die wete daar moet ook “ooreenkomste” met ander skrywers en boeke wees – spesifieke kenmerke waaraan misdaadromans moet voldoen. In dié genre volg die leser dikwels die speurder of polisiebeampte soos ’n skaduwee, maar in hierdie debuutroman van Beyers de Vos werk dinge anders.

Reeds met die intrapslag wag daar ook in Wrok ’n lewelose liggaam. En ’n swart speurder wat probleme het met wit kollegas. Suid-Afrika se donker geskiedenis staan voorop: rassevooroordeel, armoede, gesinsmoord, dwelmmisbruik.

Benjamin Rust, ’n student, word doodgeskiet terwyl hy sy motor parkeer. Van oorkant die straat sien sy tweelingsuster, Freya, hoe alles gebeur en sy gewaar ook ’n man in ’n rooi Mercedes. Oor die verloop van die volgende paar maande spoor Freya die man op, agtervolg hom en begin skietlesse neem met die idee om haar broer se dood te wreek.

Die storie sprei veel wyer uit en die skrywer laat die kollig val op verskeie karakters, wat die leser die een ná die ander leer ken: Slick, die dwelmhandelaar met die tragiese verlede; die polisievrou Nolwazi; ’n korrupte polisieman wat bande het met Slick; meneer Oktober, die onderwyser wat sy dogter saans wanneer sy uitgaan agtervolg om haar te beskerm.

De Vos skryf soos ’n verkleurmannetjie. Hy wórd Slick. Of Freya. Of Pretoria. Of Ben. As leser weet jy nie mooi met watter karakter jy die meeste simpatie het nie. Jy treur saam met Freya oor haar broer, soos op bl. 105: “Freya sit in die middel van die vertrek soos ’n ster wat geval het.” Selfs Slick, die wrede dwelmhandelaar, is ’n tragiese figuur met ’n swaar, swáár verlede. Dae, weke, maande lank stap die leser saam met Slick, ry saam met hom trein, hardloop saam met hom as agtjarige seuntjie van die huis af weg.

Lui lesers sal sukkel met Wrok. Jy moet heeltyd bybly. Kophou. Terugblaai. Wie het nou weer wát gesê? Hoe lank gelede het die moord op Benjamin Rust plaasgevind? Ook die skrywer blaai terug in die storie. In die Vooraf-afdelings sien en hoor die leser wat met Benjamin Rust gebeur, die geheime wat hy vir sy suster wegsteek en watter wrewel uiteindelik daartoe lei dat hy doodgeskiet word. Selfs die graffiti speel ’n rol, word ’n karakter. Dis ’n teken van rebellie, mymer inspekteur Nolwazi, en op bl. 268: “Graffiti word aan Pretoria se beskeie strate as ’n ekstra laag lewe geskenk, dink sy dikwels.”

Soos in ’n stad waaier stukke van die storie vanaf die kern uit. Die leser vermoed die kern van die storie is die moord op Ben Rust, maar dan trek die skrywer die drade wat hieruit spruit, tydsaam, geduldig los.

Die roman het gevolglik baie vertakkings met karakters wat aanvanklik lyk of hulle niks met die misdaad uit te waai het nie. Uiteindelik is daar sprake van meer as een moord, meer as een skuldige, en ’n speurder wat nie altyd daarin slaag om al die los drade bymekaar te bring nie. Lesers van misdaadromans sou tog wou sien dat geregtigheid seëvier, al gebeur dit ook net in boeke. Maar inspekteur Nolwazi weet “vir elke TV-moord is daar ’n rede. Maar hier? Hier is regte moorde sinloos, toevallig, tragies. Moordsake is vervelig, morsig; polisiebeamptes sinies.” (bl. 239).

De Vos illustreer sy vakmanskap ook in die manier hoe hy taal aanwend. Ek het die boek met ’n potlood in die hand gelees om sinne soos “Langs die water gloei groot wilgerbome in die son” (bl. 33) te onderstreep. En op bl. 237: “In die laatnamiddag ondergaan Pretoria vir ’n kort ruk ’n transformasie. Stof kom lê op alles en almal. Die geure van die veld vul die strate, reuke wat herinner aan geel gras, bosveldsonsondergange en die ontwaking van leeus uit hul middagslaap. Die metaalskynsel van die rustelose stad word ’n paar uur uitgewis. Die verkeer neem af. Die haastige voetgangers verdwyn. Die stad se gebrom verander, die geklop teen sement en staal versag, verdof. Ook die wind verander; die stad veroerwoud.”

Die storie speel af in die mooie Pretoria, die Jakarandastad, maar die leser leer ook ’n ánder Pretoria ken, ’n stad van woede en wrewel. Die skrywer speel met die begrippe wrok, wreek en wraak.

Slick is die spil waarom alles draai. Hy skep werk vir studente en skoolkinders. Hy ry trein, want dis gerieflik en goedkoop. Hy weet hoe om hom onsigbaar te maak sodat niemand hom kan herken of agterna onthou nie.

Die simboliek van die name van sommige karakters val op. Abraham Oktober verloor sy vrou, dus het hy niemand meer wat hom op sy naam noem nie. Selfs die skrywer verwys na hom as meneer Oktober. Freya sê háár naam beteken engel van wraak.

Die kleur pers speel eweneens ’n rol: die pers van die jakarandabloeisels in die stad; die moerbeie wat Freya as kind eet; “Wraak is ’n pers ding” is ook die titel van een van die laaste afdelings in die boek.

Meneer Oktober maak die heeltyd lysies, dalk omdat dit hom ’n mate van beheer gee. Hierdie lysies wat hy maak, oor sy vrou en sy seun wat dood is, vertel vir die leser meer oor die gemis as wat ellelange bladsye sou doen. Op bl. 194 lys hy dinge wat hy van sy vrou mis: “Hoe sy soos karamel en reën geruik het . . . Hoe sy gesê het ‘o-vrek-kyk’oe-laat-issit’.” En wat hy nié van haar mis nie, is die stilte wat sy in haar rondgedra het, dat sy in die geheim nié in God geglo het nie, dat sy sjokolade uit die huis verban het, maar veral dat sy swak was.

Daar is ook ’n lys dinge wat ’n leser uit hierdie boek kan leer: om dood te maak laat ’n mens lewend voel; hoe mooi Pretoria ook in die winter kan wees; die gesigloses, die weerloses, die haweloses word wreed aangerand in die donker en geen haan kraai daarna nie; die magteloosheid van ’n leser wat net kan toekyk . . . ’n wreekmisdaad is dalk nie ’n oplossing nie – wat as dit boemerang?

  • Valda Jansen is ’n skrywer en vryskutjoernalis van Kaapstad.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.