Kinder- en Jeugfiksie (14+)
Toring van jasmyn
Derick van der Walt
TAFELBERG, R195
Dit kos ’n skrywer soos Derick van der Walt om te wys ’n bloedige straattoneel ná ’n bomontploffing is ’n slim manier om ’n jeugverhaal mee te begin. Sommer vóór die eerste hoofstuk al.
Van der Walt het met romans soos Hoopvol en Willem Poprok ’n groot gehoor opgebou en sy werk is dikwels bekroon. Toring van jasmyn het die 2019-Sanlam-prys vir jeuglektuur (goud) gewen.
In dié verhaal neem die skrywer sy lesers na Istanbul. Markus se pa maak van ’n sakereis ’n vakansie toe hy Markus, Markus se grootbeksuster Nina en Neil saambring. Neil, wie se ouers onlangs gesterf het, word goedgunstiglik op die reis saamgeneem.
Markus is ongelukkig daaroor dat sy ouers geskei en sy pa met iemand anders getrou het.
Markus is ongelukkig daaroor dat sy ouers geskei en sy pa met iemand anders getrou het. Dis dalk deels waarom hy nie lus is vir ’n vakansie op dié uithoek van die aarde nie en liewer saam met sy maats in Suid-Afrika wil vakansie hou.
Die gevaar met ’n eksotiese vakansie is dat jy deur die inwoners uitsluitlik as toeris behandel en met klatergoud oorval word: Die stad en die mense bly onbekend. Maar vroeg in die boek reeds sê Nina: “Ek wil nie net die toeristegoed . . . sien nie. Ek wil weet hoe julle lewens werk.”
Dit gebeur toe dat die speseryverkoper Sahib die jonger karakters se pad kruis en hulle aan sy familie aan die ander kant van die “spoorlyn” voorstel. Maar Sahib is dalk nie wie hy voorgee om te wees nie . . .
Toring van jasmyn vibreer met energie. Dit geld ook die emosionele sy: Die karakters het probleme met hulleself en met mekaar wat goed uitgespeel word.
Die deurlopende lyn wat alles en almal in hierdie boek byeentrek en byeenhóú, is die politieke onrus in Turkye en die onderstrominge wat daarmee saamgaan. Soos propperse toeriste word Markus en sy medereisigers teen die direkte gevolge hiervan beskerm, maar hulle kan kwalik onbewus bly van die geweld en politieke woelinge in dié land. Maar te danke aan Sahib word Markus en veral Nina netjies in die middel van die geweld neergesit: Hulle word méér as toeriste.
Wat die boek selfs interessanter maak, is daardie straattoneel aan die begin.
Dis asof die skrywer sy lesers uitdaag om self antwoorde te vind op vrae soos: Hoekom is daardie toneel juis dáár geplaas? Hoekom dit hoegenaamd by die boek insluit? Wanneer en hoe gaan die bomontploffing ’n direkte invloed op die hoofkarakters se lewens hê? Gáán dit ooit?
Al is Toring van jasmyn die wenner in ’n kompetisie vir jeuglektuur, sal volwasse lesers ook vreugde daaruit put.
J.B. Roux is ’n vryskutresensent van Riebeek-Wes.