Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Storie vir kinders smeul behoorlik

Kinder-en jeugfiksie

Brand

Fanie Viljoen

TAFELBERG, R190

Fanie Viljoen se jeugromans, soos Breinbliksem (2005) en Onderwêreld (2008), is deur jong lesers opgeslurp. Met sy jongste titel, Brand, is ’n mens – dalk weens die aweregse voorblad – voor die lees al onthuts én opgewonde.

Ook dié Viljoen-roman se hoofkarakters is effens van die pad af: Arian se broer en susters is hul ouers se trots, maar Arian slenter eenkant rond. Hy neem nie aan sport deel nie, vaar akademies nie goed nie en het nie veel respek vir sy onderwysers nie. Hy het ’n obsessie met vuur: lesers word vroeg al daarop voorberei dat Arian se piromaniese streep op iets aardskuddends gaan uitloop.

Dan is daar Estie, ook ’n alleenkind. Sy rook, miskien ’n aanduiding dat alles by die huis nie is soos dit moet wees nie: Estie se ma is nie te lank gelede nie dood. Die nuwe vrou in haar pa se lewe probeer ma speel. Dit veroorsaak konflik, ook tussen Estie en haar pa.

Estie raak, net van sien, verlief op Arian. Sy neem ongesiens foto’s van hom wat sy teen haar kamermuur plak; sy agtervolg hom selfs.

Die wonder van Brand lê grootliks in die karakterisering en die stelselmatige voorstel – in presies die regte pas – van die karakters aan lesers. Al is die hoofkarakters nie ’n tradisionele held en heldin nie, is daar ’n deernis met hulle – en ook die vermoede dat die cliché dat daar in álmal iets goeds is, waar is.

Nadat die karakters aan lesers voorgestel en Arian en Estie goed in hul lewensomstandighede geplaas is, is dit asof die verhaal vanself sy loop neem. En ’n klimaks bereik wat die leser uitasem laat.

Brand is een van die leesbaarste jeugromans wat tot nog toe vanjaar verskyn het.

J.B. Roux is ’n vryskutresensent van Riebeek-Wes.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.