Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Subtiele, boeiende verhaal

Fiksie

Die wolkversamelaars

Nadia de Kock

KWELA, R270

Nadia de Kock se vorige roman, Heildronk op ’n gypsyromp, het in 2009 verskyn. Nou is daar Die wolkversamelaars. Met hierdie skrywer is dit ’n geval van kwaliteit bó kwantiteit.

In Die wolkversamelaars besluit Talla om die as van Theresa, haar dierbare vriendin, in Skotland te strooi. Talla bevind haar op ’n vliegtuig op pad Skotland toe – met ’n roomysbak vol menslike as in haar bagasie. Sy is ’n “wolkversamelaar” en teken reeds op die vlug seldsame wolkformasies aan.

Die plan is om drie maande in Skotland te bly. Terwyl sy daar is, wil sy soek na ’n “storie” wat ’n nuwe tartan-patroon kan inspireer: Sy wil nie die res van haar lewe administratiewe werk doen nie, maar haar vestig as klere-ontwerper.

Sy bevind haar gou in Munro’s, ’n herberg in die Glencoe-vallei in die suide van Skotland. Die karakters met wie sy hier kennis maak, is oortuigend én interessant. Daar is Neil Lennox, die herbergbestuurder wat lyk asof hy wip wanneer hy stap. Die interessantste karakter is die eksentrieke Mikey, ’n verslonsde ou man wat by Munro’s herberg kom soek. Mikey is in sy liefde verlaat en beswerf die aarde op soek na Kate, sy geliefde.

Daar is ook Ailsa, met die hartseer in haar oë, wat beplan om haar eie wewery op die been te bring en die inspirasie vir Talla se tartan-reeks kan verskaf. En Maggie, wat skynbaar ’n oog op Connor het; en Connor self: ’n aantreklike dokter wat ’n paar maande in die herberg kom bly om hulp te verleen aan bergklimmers wat in die sneeubedekte berge om Glencoe verlore raak.

Talla dra ’n klomp bagasie saam Skotland toe, soos die gespanne verhouding met haar ma en onaangename herinneringe aan haar pa. Dan is daar Astian, met wie sy jare lank ’n verhouding gehad het, maar was hy ooit lief vir haar? Astian woon deesdae self in Skotland – ’n ontmoeting om alles finaal uit te klaar, is onvermydelik.

De Kock weef ’n subtiele, boeiende verhaal oor mense en hul dinge, oor die universele soeke na liefde en vervulling, oor die versugting na vrede met die verlede, oor “grootword” op meer as een vlak.

Die wolkversamelaars lees so vlot soos ’n populistiese roman, maar die boek sê soveel meer as die meeste boeke wat suiwer op lekkerlees gerig is: oor méns wees, die liefde, deernis, die spel tussen mense wat van mekaar hou of liewer niks met mekaar te doen wil hê nie.

’n Groot pluspunt is die treffende, liriese uitbeelding van die suide van Skotland: Dit voel asof jy dáár is – en nêrens anders wil wees nie.

Die wolkversamelaars is ’n pragtige boek. Moet dit nie misloop nie.

J.B. Roux is ’n vryskutresensent van Riebeek-Wes.

Meer oor:  Nadia De Kock  |  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.