Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Suiker Britz wou homself ‘uithaal’ oor swak gesondheid

Die baasspeurder Suiker Britz het kort voordat hy sy eie lewe geneem het, aan ’n skrywer gesê as hy sy been moet verloor, sal hy “homself uithaal”.

Mariana Veiga (middel) was een van die gaste wat die bespreking oor die boek oor Suiker Britz bygewoon het. By haar is die outeurs Anemari Jansen en Stéfaans Coetzee. Foto: Susan Cilliers

Britz was in daardie stadium baie siek aan onder meer kanker en diabetes. Om sy eie lewe te neem sou vir hom as speurder ’n natuurlike uitweg wees, het Anemari Jansen, medeskrywer van ’n nuwe boek oor sy lewe, Woensdag op die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom gesê.

Britz (74) het homself in November 2018 ten aanskoue van sy vrou, Annetjie, geskiet. “Dit was ’n skok, maar ons moes werk met wat ons het,” het Jansen by die ATKV-Boeke-Oase gesê. Britz is dood terwyl daar nog aan die boek gewerk is. “Dis jammer dat hy nie die eindproduk kon beleef nie, maar ons het deurgaans probeer om sy stem te behou,” het Jansen gesê.

Stéfaans Coetzee is die medeskrywer van die boek Suiker Britz: dossier van ’n speurbaas. Dis die tweede onlangse boek met Coetzee as medeskrywer. Die ander boek is sy lewensverhaal: Wit Wolf, die Worcester-bomplanter se storie van bevryding.

Coetzee was 19 jaar in die tronk weens sy betrokkenheid by die Worcester-bomaanval in Desember 1996 waarin drie kinders en een volwassene dood en 67 mense beseer is. Hy was toe deel van die Wit Wolwe-beweging, maar het in 2007 van hulle weggebreek.

Coetzee het Woensdag vertel hoe hy in die tronk tot bekering gekom en verander het. “Indien jy wil, kan die tronk ’n leerproses word. Enigiemand kan verander. Dis nie my ouers of kinderjare se skuld dat ek misdaad gepleeg het nie. Almal weet moord is verkeerd, ongeag jou verlede.”

Izak du Plessis (regs) het die gesprek in die ATKV-Boeke-Oase in Potchefstroom oor die boek oor Suiker Britz gelei. By hom is die outeurs, Anemari Jansen en Stéfaans Coetzee. Foto: Susan Cilliers

Coetzee het juis vir Jansen leer ken toe hy ’n boek wat hy in die tronk geskryf het aan haar gestuur het vir ’n mening. Hy is vier jaar gelede op parool vrygelaat. Jansen het hom weer gevra om te help met die boek oor Britz omdat sy oorweldig was deur al die saakdossiere.

Só het Coetzee gehelp met navorsing deur al die dossiere te bestudeer, en self ook van die hoofstukke te skryf. “Die binnekennis oor sake en die betrokkenes wat ek in die tronk opgedoen het, het my baie gehelp om te weet waarna om te soek.”

Die boek oor Suiker Britz.

Coetzee en Jansen het sowat 17 van Britz se interessantste sake gekies om oor te skryf, onder meer die Gert van Rooyen-saak, die Kerkstraatbom in 1983 en Barend Strydom se moordtog in 1988 op Kerkplein in Pretoria.

Jansen onthou nog hoe stip Britz met sy blou oë vir ’n mens kon kyk en gesê het hy lieg nooit nie. Jansen, wat ook ’n boek oor die Vlakplaasbevelvoerder Eugene de Kock geskryf het, sê die skryfproses neem jou lewe in so ’n mate in beslag dat jy aan feitlik niks anders kan dink nie. “Jy raak heeltemal vasgevang en obsessief.”

Coetzee onthou weer hoe Britz altyd beklemtoon het hy was deel van ’n span in die polisie en dat hy nié ’n “Byleveld” is nie. “Almal in die tronk het egter geweet hy en (onder andere) Piet Byleveld is topspeurders.”

Op ’n vraag uit die gehoor hoe hy in die tronk oorleef het, het Coetzee Woensdag gesê, dis “net genade”.

“Die Here was goed vir my, dis ’n wonderwerk dat ek vandag vir swart mense kos gee. Om ‘Die Stem’ te sing en die ou Suid-Afrikaanse landsvlag rond te swaai, is nie ’n uitweg nie. Kom ons vat eerder hande en werk saam.”

* Die boekgesprek oor Wit Wolf is Vrydag 10:30 by die Boeke-Oase.

Meer oor:  Aardklop  |  Suiker Britz  |  Potchefstroom  |  Selfdood  |  Boek  |  Diabetes  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.