
Lien Botha
Die deelnemers aan die tweede Week van die Afrikaanse roman in September in die Lae Lande is pas aangekondig, asook komende Nederlandse vertalings van werk deur Afrikaanse skrywers.
Van 16 tot 25 September tree Lien Botha, Simon Bruinders, Ena Jansen, Marlene van Niekerk, Francois Smith en Marita van der Vyver by verskeie geleenthede daar op. Karin Hougaard sal vir musiek sorg.
Een van die belangrike aspekte van vanjaar se program is die verskeidenheid en veelsydigheid van die deelnemers, het Ingrid Glorie, koördineerder van die program, gesê. Bruinders is ook ’n akteur, Botha ook ’n fotograaf en Van Niekerk sal as ’n romanskrywer en digter optree.
“Die openingsaand word in ’n geskiedkundige paviljoen in die Amsterdamse Vondelpark gehou. Reg voor dié paviljoen is die visdam wat Elisabeth Eybers beskryf het in haar gedig ‘Twee kleuters in die Vondelpark’. Bruinders gaan praat by die kasteel De Schaffelaar in Barneveld. Van Niekerk besoek die Poëziecentrum in Gent, wat ’n skitterende Afrikaanse poësieversameling huisves.”
Die slotbyeenkoms sal gehou word in die Letterkundig Museum in Den Haag, waar ’n uitstalling ingerig gaan word van foto’s en briewe van Afrikaanse skrywers in die argiewe van die museum.

Marlene van Niekerk
Hierdie byeenkoms word georganiseer in samewerking met die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde, wat vanjaar sy 250ste bestaansjaar vier.
Benewens klein byeenkomste, skakel die program ook in by “bestaande byeenkomste wat geweldig baie mense trek”. Van Niekerk gaan gedigte voordra tydens die Nacht van de Poëzie in Utrecht.
“Dit is elke jaar ’n geweldige happening, met omtrent 2 100 besoekers. En Botha gaan ’n kreatiewe skryf-werkwinkel aanbied op die jaarlikse Schrijfdag, die belangrikste in sy soort in

Ena Jansen
Nederland,” sê Glorie.
In die week sal drie nuwe Nederlandse vertalings van Afrikaanse boeke bekend gestel word: dié van Soos familie van Ena Jansen, Die sideboard van Bruinders en Verliesfontein van Karel Schoeman.
“Verder probeer ons ook aandag vra vir die moontlikheid om in Nederland en België Afrikaanse boeke deur druk-op-aanvraag te bestel. Wanneer ’n boek só beskikbaar is, kan die Nederlandse en Vlaamse leser dit by sy vaste boekwinkel bestel.
“Een van die doelwitte van die week is verder om Afrikaanse skrywers en Nederlandse en Vlaamse skrywers met mekaar in kontak te bring. Ons is geweldig trots dat onder meer die bekende skrywer Adriaan van Dis en die historikus Martin Bossenbroek, wat De Boerenoorlog geskryf het, ’n boek wat ook in Afrikaans vertaal is, reeds hul medewerking toegesê het.”
.