Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Swaarkry vloei soos ’n soetloop uit haar pen

Soetloop deur E. Kotze. Uitgewer: Kwela Boeke. Prys: R285. Resensent: Riette Rust

Ag, nee! Tog net nie weer ’n storie oor armblankes nie, dink jy dalk. Maar E. ­Kotze se Soetloop is soveel meer.

Die verhaal speel af in die vroeë 20ste eeu aan die Weskus. Dit is vol kleurryke karakters wat alles in hul vermoë doen om bo hul omstandighede uit te styg en só betekenis in die lewe te probeer vind. Die belangrikheid van die roman lê in die vasvang van ’n waardevolle deel van ons taalgeskiedenis. Die taalgebruik is Afrikaans se wins en hoort altyd deel van sprekers se verwysingsraamwerk te wees.

E. Kotze se tydskrif- en kortverhale het van haar ’n huishoudelike naam gemaak. In 1983 is sy as belangrike kortverhaalskrywer erken toe Halfkrone vir die nagmaal met die Eugène Marais-prys bekroon is.

In Soetloop val die klem op verhoudings. Veral op dit wat ongesê bly. Kattie, oftewel Tomasina, vorm die kern van die verhaal. Sy is die jongste van Claas en Ellen Prins se 11 kinders – getraumatiseer deur armoede, ouers wat bymekaar verby leef en later ook drankmisbruik. Weens Kattie se liefdelose kinderjare beskou sy haarself as ’n “glips”. “Ongevraagd. In almal se pad, ’n gatvlieg van wie daar so gou moontlik ontslae geraak moes word.”

Die romantitel dui op water wat brak of soet kan wees. Die letterlike soetloop is ’n plek waar vroue hul wasgoed was. “Wanneer dit reën, dreineer ’n soetloop, vars soos neut, waarskynlik in ondergrondse are af see toe en slaan op die strand tussen die kalkklip en ronderug-granietrotse uit.” Ook die lewe kan brak of soet wees.

Kotze vertel die verhaal met deernis en humor, dit raak nooit swaar nie. Swaarkry was ook nie altyd deel van Kattie se lewe nie. As kind op die plaas De Hoop in Agterbaai is haar gesin selfs eers as deel van die Boereadel beskou.

Maar toe verloor hulle die plaas en volg ’n “rampspoedige uittog”. Die Prinse moet ’n nuwe tuiste op Laaggelee probeer skep. Maar dis toe nie, soos wat Kattie gehoop het, ’n dorp met groen gras waarop bokkies huppel nie.

Kattie is nog op skool toe sy uitgeplaas word na die gesin se ou tuiste, De Hoop. Daar swaai die aanstellerige Ant Esther die septer en word die skoolmeisie bloot ’n stuurdingetjie. De Hoop bly deurentyd “die splinter in die oog van die Prinse wat krap en krap totdat die seerkry naderhand lekker word”. Tog is die plaas vir Kattie soos ’n tweede tuiste.

Kattie besef algaande dat De Hoop bo blink maar onder stink is. Wanneer sy dit nie meer kan uithou nie, beland sy by die Van Aardes van Aardendal in die Swartland. Daar leer sy dít ken waarna sy vir die res van haar lewe sal hunker: ’n wêreld van musiek, boeke en sofistikasie.

Die Van Aarde-kinders, Theo en Aldo, word uiteindelik groot en Kattie moet ’n ander heenkome vind. Uitkoms kom in die vorm van Mike Laumbaart. Sy is nie verlief nie, nog minder fisiek aangetrokke, maar sy aanvaar sy huweliksaansoek. Algaande weerspieël Kattie en Mike se ­huwelik haar ouers s’n. Dit is nie die plek waar sy haar wou bevind nie.

Mike is nie juis die toonbeeld van standvastigheid nie en saam swerf die gesin van die een dorp na die ander. Kattie, daarenteen, is ’n doelgerigte, sterk vrou. Ook eiewillig. Sy kry dit reg om kop bo water te hou en haar huwelik op ’n manier te laat werk.

Veel kritiek teen Soetloop is daar nie. ’n Woordelys sou wel nuttig gewees het, veral vir taalnavorsing en jonger lesers. Nie almal weet wat byvoorbeeld “kotter”, “vief”, “tasaaltjies”, “rapat” of “strawasies” beteken nie.

Soetloop se sukses lê in die beskrywing van die milieu, die treffende taalgebruik en in die geloofwaardigheid en ontwikkeling van die karakters. Dit is boonop ’n toeganklike lekkerleesroman.

Engelse woorde wat verafrikaans is, dra tot die roman se ryk tekstuur by. Daar is byvoorbeeld ’n “kenfroetfles”, “porriets” en “aaiskriem”.

Kotze se beskrywings laat jou dikwels glimlag. Iemand se buurman is “ ’n ou langbeen met ’n los kopvel”, terwyl iemand anders se ma ’n “donslip” het. ’n Bleek seun “wat g’n ruiter is nie”, lyk weer “soos ’n sleg gevulde sakkie ­aartappels”.

Die skryfwerk is besonder visueel. Hoe treffend is “die woestyn blom: ’n bont mat rol oor die rooisand oop” nie!

Niemand kan Kotze se passie vir skryf miskyk nie. Dit borrel deur elke reël. Wanneer jy Soetloop toemaak, sal Kattie se verhaal jou bybly. Jy sal waarskynlik lus kry om ál E. Kotze se werk wat jy dalk misgeloop het, te lees. Dadelik.

Mag daar nog baie soetlope uit haar ­rekenaar vloei.

  • Riette Rust is ’n skrywer en joernalis.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.