Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Sy hou aan skryf tot die storie klaar is

Die bekende prentjie van ‘hear no evil, see no evil, speak no evil’ was die impuls vir Dibi Breytenbach se drieluik Dowe gode, Blinde gode en Stom gode. Sy gesels met Elretha Britz oor Stom gode wat onlangs verskyn het en haar skryfwerk oor die algemeen. 

“Toe ek klaar is met Dowe gode, besef ek die storie is nog nie klaar nie. En toe ek klaar is met Blinde gode, gebeur dieselfde. Maar nóú, ná Stom gode, is ek klaar. Dit was nie slim van my om twee drieluike ná mekaar te skryf nie.”

Die misdaadfiksie-skrywer Dibi Breytenbach. Foto: Verskaf

Die regsgeleerde Dibi Breytenbach gesels onderhoudend oor haar nuwe boek, Stom gode, haar skryfwerk oor die algemeen en oor haar beroep. Maar voordat jy dink haar rekenaar het nou stom geraak soos haar gode, hoor jy ’n volgende boek is al sterk besig om vorm aan te neem.

Breytenbach skryf misdaadfiksie wat in wese handel oor die verraad van mense in magsposisies teenoor die naïewes. Dit kom reeds in haar eerste drieluik, Heiliger, Saliger en Vrediger, aan die bod.

Al haar verhale is gegrond op dit wat sy die beste ken, naamlik polisieondersoeke, maar dit eindig nie daar nie. Die mens wat misdaad pleeg, dit is waarin sy dieper delf.

“Ek stel veral belang in die mens se psige en wat veroorsaak dat jy die keuse maak om iemand leed aan te doen. En glo my, mense kies om misdaad te pleeg. Dit gebeur nie per ongeluk nie.”

In Stom gode is die hoofkarakter, soos in die vorige twee boeke, O’Malley. Sy is nou tot hoof van hul speurtak bevorder en ’n kolonel.

Nadat Aella byna die ewigheid ingestuur is en in Avignon, Frankryk, gaan aansterk het, is sy terug in die Afrikabos. Skaars is sy en haar Franse geliefde op haar tuisgrond of hulle word betrek by ’n ondersoek na karkasse wat in die veld gevind is. Renosters. Dit word gou deur nog lyke opgevolg wat dié van die bende stropers is. Daardie skieter moet opgespoor word, want boendoegeweld is onaanvaarbaar, ongeag hoe skuldig die slagoffer mag wees.

Maar die beeld van ’n ander figuur het Aella uit Avignon gevolg, dié van ’n straatkind wat Zoeloe praat en Afrikaans verstaan. Hoe het hy daar gekom, weet sy ma dit en hoe kry Aella die kind terug by die huis? Meer nog, wie was vir sy lot verantwoordelik? In Afrika se nat veld doem die antwoorde gaandeweg op en dit is afskuwelik.

Nare werklikhede

Die voorblad van Dibi Breytenbach se laaste boek in die ‘Gode’-drieluik.

“Ons lewe in ’n gruwelike samelewing waar misdadigers hoogty vier. Moord is ’n werklikheid, renosterstropery is ’n werklikheid. Die bedrog en diefstal wat daarmee gepaardgaan om die misdade te verdoesel is ook ’n werklikheid.

“As ek as skrywer kan help om dit deur my stories te belig, voel ek dat ek ’n klein deel doen in die bekamping daarvan,” sê Breytenbach.

Al weet sy hoe ’n polisieondersoek werk en het sy al na “baie, baie slagoffers” geluister, doen sy steeds deeglik navorsing vir haar boeke.

Die belangrikste aspek is volgens haar die gevolge van mense se keuses en die onomkeerbaarheid daarvan in die geval van moord. “Dink net, oomblikke gelede was daar nog ’n mens en nou is hy weg. Vir altyd. Dit kan jy op geen manier herstel nie.”

As die mens dit tog net vooraf kan besef.

Opmerklik in haar romans is die eko-draad, asook elemente van kinderhandel, aspekte waarmee sy ten nouste in haar beroep te doen kry. Geen wonder dus die Zoeloe-kind maak ’n draai in Stom gode nie.

Die begin

Breytenbach vertel sy en haar skrywer-broer, Henk Breytenbach, het op skool hul stories vir mekaar gewys en kritiek gegee. “Ons was twee regte bleeksiele.”

Sy sou ná skool musiek studeer, maar daar was nie geld vir heeltydse studie nie, toe kry sy ’n werk by die departement justisie. Omdat sy nie “somme kan doen nie, nie prakties is nie, nie met haar hande kan werk nie,” studeer sy toe maar in die regte.

Om boeke te skryf en te publiseer was nooit in haar gedagtes nie totdat ’n skrikmaker-kankerdiagnose haar ’n emmerskoplys laat opstel het. Boaan die lys was die uitgee van ’n manuskrip wat min of meer voltooid was.

Die diagnose was verkeerd, maar haar eerste boek, Saliger, is by Lapa gekeur. Dryfkrag – sy noem dit masochisme – het ingeskop en tot ses boeke in ses jaar gelei.

Dieselfde “masochisme” maak dat sy jaar in en jaar uit elke oggend lank voor werk sowat ’n uur klavier oefen. Sy leer nou Chopin se Fantaisie Impromptu.

Haar musiekliefde en -kennis vind ook neerslag in haar boeke en op Spotify kan lesers gaan luister na die werke waarna van die karakters luister. In Stom gode kom heelparty Franse komponiste ter sprake soos Satie, Ravel, Debussy en veral sy “Clair du Lune”. Daarby is Aella ’n bekwame pianis.

Teen die tyd dat Breytenbach vroegoggend die klavier oopslaan, het sy reeds ’n ent met haar skryfwerk gevorder. Sy staan dikwels 02:00 se kant op en begin dan skryf.

“Ek slaap net soveel soos julle. Ek slaap net anders,” beweer sy. Dit is egter moeilik om te glo vyf minute êrens deur die dag help om soveel nagslaap in te haal.

Soos skryf en klavierspeel vir Breytenbach ’n uitdaging is waarvan sy die doelwit móét bereik, is hekel ook.

“Ek is hopeloos met hekel, maar dit was my inperkingsaktiwiteit en nadat ek die pogings uitmekaar getrek en bolle wol in die asblik wou gooi, het ek besluit dit werk te duur uit. Ek moet die uitdaging baasraak.”

Sy het haarself deur YouTube touwys gemaak en is amper klaar met ’n dubbelbedkombers. Dit is egter die einde van daardie prent, meen sy.

Maar skryf is vir haar soos tandeborsel. Soos asemhaal. “Ek voel skuldig as ek die dag nie geskryf het nie.”

Lesers kan dus uitsien na nog baie boeke uit Dibi Breytenbach se beroepskennis en ’n goeie skeut verbeelding, vermoedelik alles misdaadfiksie, want dit is wat sy die beste ken.

Sy werk heeltyds as regsgeleerde en woon saam met haar man en twee kinders op ’n klein dorpie in Suid-Afrika.

Stom gode (R280) is uitgegee deur Lapa en is ook as e-boek (R238) beskikbaar.

Meer oor:  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.