Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Taal se geite, giere kan ’n digter verlei op vele maniere

Hoe kom jy aan ’n gedig? Dit is ’n vraag wat ek gereeld moet beantwoord – by leeskringe, boekbekendstellings, braaivleisvure en ander literêre biegsessies.

’n Gedig kan op baie maniere ontstaan. ’n Spesifieke ervaring of emosie gee meestal aanleiding tot ’n vers, maar die taal self kan ook as inspirasie vir die digter dien.

Die taal as muse kan op verskillende versterreine woelig wees. Ek dink veral aan rym en woordassosiasie.

As die digter met ’n vaste rymskema werk, kan dit hom lei tot onverwags treffende vondste. In “Wildernis” – sy paarrymende koeplette oor Eugène Marais – vind D.J. Opperman byvoorbeeld ’n unieke rym op “kamer” in die volgende strofe: “Met die jare word die kamer / daagliks onherbergsamer.”

Die hartseer lewenseinde van die verslaafde digter word dan ten slotte ontstellend treffend berym:

buite agter ’n miershoop lê

die maer lyk van Eugène Marais.

Dan is daar ook die soort kreatiewe proses wat deur woordassosiasies gedryf word. Opperman het dit soos volg in sy gedig “Paars poëtica” beskryf:

Woord wek woord

en wederwoord,

en die gedig

ontstaan dan,

ensovoort.

Hy sluit die vers af deur te beweer dat die digter maar net die handlanger is, want die gedig is inderwaarheid “sy eie bouer en argitek”. Deur die digter ’n handlanger te noem, speel Opperman met die betekenis van sy eie naam: ’n opperman is ’n handlanger in die boubedryf.

Breyten Breytenbach is natuurlik die grootmeester van woord- en klankassosiasies, soos onder meer blyk uit die volgende reëls uit sy bundel Voetskrif: “want jy is die hitte van my palms / jy is die pitte van my dadels / die hittete van my daad”. So kom ’n bekoorlike klank- en betekenisketting tot stand. Die taal skep as ’t ware sy eie momentum, en die digter word meegesleur.

Daar is nog ’n manier waarop die taal as sodanig ’n digter in beweging kan bring, en dit is deur middel van die etimologie. Die oorsprong en geskiedenis van ’n spesifieke woord kan die digter op ’n bepaalde moment fassineer. En alles wat ’n versemaker boei, daag hom uit tot ’n gedig.

Peter Blum het ’n indrukwekkende vers geskryf met die titel “Woordafleiding”. Daarin speur hy die oorsprong van die woord “dorp” na. Hy spel dit self soos volg uit: “Etimologies dus breek ek jou oop, / soos ’n mens die harde dop van neute kraak”.

Hy ontdek dat “dorp” verband hou met “trop”, “tribus” (Latyn vir ’n volkstam) en “treiben” (Duits vir dryf of aanjaag). Sy digterlike verbeelding gaan dan op loop en hy stel hom voor hoe die standvastige dorp soos ’n skaaptrop die oop veld kies en uiteindelik deur ’n innerlike dryfkrag die buitenste ruimte invaar. Selfs “die kerk ruk sy penwortels los / en durf die bult aan soos ’n tamaai slak”. Dié nogal oneerbiedige beeld doem altyd by my op as ek ’n plattelandse toringkerk sien en verskaf my dan eindelose plesier.

Terug by Eugène Marais. Sy ikoniese vers “Winternag” verwoord heel moontlik die waarnemings van ’n brandwag tydens ’n oorlog. Die gedig is al gekritiseer en misverstaan vanweë die ongewone woord “skade” in die volgende reëls:

so wyd as die Heer se genade,

lê die velde in sterlig en skade.

Sommige kritici het “skade” doodgewoon as rymdwang – ’n digterlike lompheid – beskou. Ander weer het gemeen dat dit dui op die verwoesting van die “brande” wat in die direk daarop volgende reël ter sprake kom. Maar “skade” is natuurlik net ’n ou variant van “skadu” of “skaduwee”.

Die vorm “skade” kom nog voor in die plantnaam “nagskade” (“night-shade” in Engels) wat ook as “nastergal” bekend staan. Sy onryp bessies bevat ’n gif wat by mens en dier die dood kan veroorsaak.

Daar het onlangs ’n nastergal in ons tuin opgeslaan. Terwyl ek die swart bessies met die nodige ontsag staan en bewonder, dink ek aan Marais se “euforiese vergiftiging” ter bestryding van die “hesperiese neerslagtigheid” wat primate teen sononder oorval.

“Nastergal” roep ook “swartgallig” op – ’n woord wat dikwels in verband met Marais gebruik word. En “swartgallig” is die letterlike vertaling van “melancholies”, wat oorspronklik uit Grieks kom.

Ek herinner my toe ook die woord “nagskade” as alternatiewe benaming vir die plant. En onkeerbaar weerklink die frase “sterlig en skade” in my kop.

Toe het die digter in my nie meer ’n keuse nie en moes ek die volgende etimologies geïnspireerde gedig neerpen. Opperman se koeplette oor Marais, met die miershoop in die slot, laat ook hulle intertekstuele invloed geld.

Nagskade

dit was ’n melancholiese nag –

met sy sintuie brandend op wag

knaag aan sy binneste die termiet

van verlange, die blinde verdriet

die papier lê verlate en kaal

onder die leeslig se dowwe straal

“die velde in sterlig en skade”

kom glim in die taal se genade

die liefde van ’n lieflike vrou

verbleek tot mank woorde in die kou

sing die oostewind snags weer ysig

roer die nastergal van sy gedig

Meer oor:  Daniel Hugo  |  Rubriek  |  Gedigte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.