Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Takealot verkoop nie meer e-boeke, sê nie hoekom

Takealot wil nie ’n woord rep oor die rede vir sy besluit om vanaf Donderdag 10 Junie nie meer e-boeke te verkoop nie.

Die e-handelaar – die grootste in die land – het kliënte wat onlangs e-boeke by hom gekoop het, in ’n nuusbrief van dié besluit ingelig; daar is egter nie ’n rede gegee nie.

Netwerk24 het Takealot om kommentaar genader, maar kon ook nie antwoorde kry nie.

“Ons het geen verdere kommentaar hieroor nie,” het Karla Levick, Takealot se kommunikasiehoof, per e-pos gesê.

Luidens die nuusbrief sal enigiemand wat ’n e-boek by Takealot gekoop het tot 30 Junie volgende jaar tyd hê om die e-boeke in hul digitale biblioteek op www.takealot.com op ’n ander toestel af te laai. Dit sal ná dié datum nie meer moontlik wees nie, maar lesers sal steeds die e-boeke (op die ander toestel) kan lees mits hulle dit afgelaai het.

Takealot se e-leser, bekend as Takealot eReader, sal ook op 11 Oktober vanjaar uit die App Store en op 23 Oktober uit die Google Play Store verdwyn.

Dié app is in die verlede pal weens tegniese probleme deur gebruikers gekritiseer. Dit is teen Donderdag in die Google Play Store 136 keer geresenseer – maar het slegs ’n gemiddelde punt van 1,5 uit 5 behaal.

“As jy jou toestel verloor, die app (Takealot eReader) per ongeluk uitwis, of jou toestel ná dié datums (in Oktober) opdateer, sal jy ongelukkig nie weer die boeke na jou toestel kan aflaai nie,” lui die nuusbrief van Takealot.

Enigiemand met vrae kan hulle tot die webblad www.takealot.com/help/faq wend en meer spesifiek na die onderhoof “eBooks” op dié blad gaan.

Zalman S. Davis sê hy hoop dat derde partye wat hul rug op e-boeke keer, uitgewers aanspoor om hul eie e-lesers te skep sodat hulle self ’n hand in die bekamping van die onwettige verspreiding van e-boeke kan hê.

Zalman S. Davis, eienaar van die onafhanklike uitgewer Minimal Press, sê hy verwelkom al hoe meer derde partye, soos Takealot, se besluit om nie meer e-boeke namens uitgewers te verkoop nie.

“Ek weet van iemand wat dit in 2017 reggekry het om ’n e-boek – die fisieke dokument – op haar selfoon afgelaai te kry. ’n E-handelaar het gesê sy e-leser is beveilig; jy kan nie die fisieke dokument aflaai nie, maar sy het dit op die een of ander manier reggekry. As sy dit reggekry het, kan enigiemand seker – en is dit nie waar al hierdie e-boeke vandaan kom wat so onwettig versprei word nie?”

Davis sê hy verkies daarom as uitgewer om self die e-boeke wat hy uitgee, te verkoop op platforms waar hy in beheer is – nie ’n derde party nie.

“Ek kan dan presies sien wat gebeur, waarheen elke e-boek gaan, hoeveel keer dit afgelaai word, en ek kan seker maak dat niemand dit aflaai wat dit nie moet aflaai nie.

“Dit bly egter ’n risiko, want ek dink nie alles is so veilig soos wat almal sê nie.”

Hy sê hy hoop dat derde partye wat hul rug op e-boeke keer, uitgewers aanspoor om hul eie e-lesers te skep sodat hulle self ’n hand in die bekamping van die onwettige verspreiding van e-boeke kan hê.

“Dit sal lekker en maklik wees as uitgewers dit doen – as ek die geld gehad het, het ek beslis.

“Hopelik sal dit dan daartoe lei dat e-boeke minder onwettig versprei word. Dit het gelukkig nog nie met my boeke gebeur nie – altans, nie waarvan ek bewus is nie.”

Meer oor:  Minimal Press  |  Google Play Store  |  App Store  |  Zalman S. Davis  |  Takealot Ereader  |  Boeke  |  Takealot  |  E-Boeke  |  Karla Levick
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.