Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Taljaard takel omstrede temas in sielkundige riller
Gerda Taljaard

Gerda Taljaard se jongste roman, Die laksman se dogter, is soos ’n wegholspooktrein en so donker soos 90%-kakao-Lindtsjokolade. Deborah Steinmair het met haar gesels.

Gerda Taljaard-Gilson woon saam met haar man, Rodger, en drie Deense honde in ’n boomryke voorstad in die ou Pretoria-Oos, in ’n lieflike ou huis wat bitter koud is in die winter.

Sy lyk soos ’n sigeunerin: Kleurvol, misterieus, verstrooid en lakonies, en het ’n donker humorsin. Haar skryfwerk het nog altyd na pikdonker geneig: twee romans, Kelder en ’n Engel in die hoenderhok en ’n bundel kortverhale, Maansiek. Sy was ’n bydraer in vele kortverhaalbundels. Sy is as akademikus aan Unisa verbonde.

Die laksman se dogter is huishoudelike noir, so donker soos 90%-kakao-Lindtsjokolade, soos Nick Cave se ballades. Dis ’n naelbyt- sielkundige riller wat omstrede temas – soos dwelmverslawing, die doodstraf, genadedood, afknouery, selfdood, bekruiping deur die media – vreesloos takel. Dis soos ’n pretparkwegholspooktrein wat in ’n verlate mynskag geraamtes opjaag.

Oor die genre sê sy: “ ’n Huis is ’n plek waar jy veronderstel is om veilig en geborge te voel, maar dis dikwels eerder ’n slagveld as gevolg van onderdrukking, manipulering, afknouery, geweld en ja, verslawing. In Die laksman se dogter word die huisgesin se geluk en geborgenheid bedreig deur die enigste dogter se dwelmverslawing. Heroïen verander haar van ’n liefdevolle kind tot ’n manipulerende, selfsugtige mens wat uiteindelik tot moord in staat is.”

Sy reken ouers voel dikwels verantwoordelik vir hul kinders se verslawing en hoewel omgewingsfaktore wel ’n groot rol speel, is verslawing ook oorerflik. “Tieners is geneig om hul verslawing op iemand anders te blameer, maar ek weet van hoeveel mense wat ’n keuse gemaak het om beheer te neem oor hul lewe. Soos die hoofkarakter in Irvine Welsh se Trainspotting opgemerk het: “Choose a life. Choose a job. Choose a career. Choose a family. Choose a f***ing big television . . .”

Só het die boek ontstaan: “Ek het eintlik maar uiting gegee aan my grootste vrees: Om ’n kind te hê wat ’n verslaafde is.” Sy trek haar skouers op. “Ek het toe nooit ’n kind gehad nie. Dis baie soos Lionel Shriver (ook kinderloos) se motivering om We Need to Talk About Kevin te skryf: Dat ’n kind van haar as ’n massamoordenaar kon ontpop.

“Toe kom ek agter dat geweldig baie van ons vriende en kennisse se kinders verslaaf is en letterlik op straat bly. En niemand praat eintlik daaroor nie. Eindelik het ’n vriendin openlik met my daaroor gepraat. Ek het haar gevra of ek die gegewe kan gebruik, maar nie noodwendig die karakters nie. Byvoorbeeld die feit dat haar huwelik dit nie kon hou nie. ’n Mens wonder: Wat doen so iets aan ’n huwelik, aan verhoudings, hoe hanteer jy so iets?”

Sy reken mense verwag eenvoudig dat ’n ma of ouers onmiddellik van hul babas gaan hou. Wanneer dit nie gebeur nie, is dit so ’n groot skande dat niemand daaroor wil praat nie. “Ek het hier en daar al ’n vriendin gehad wat vir my gesê het dit het haar letterlik drie maande geneem om vat te kry aan haar kind,” vertel sy.

Kinders figureer sterk in haar boeke. “Dis ook maar ’n geval van: As ’n vrou kan ek uit ’n man se perspektief skryf, jy hoef nie noodwendig in ’n situasie te wees om daaroor te skryf nie. Ek het susters en vriendinne met kinders.”

Marcella, die kind in die boek, is besonder duidelik geteken. Taljaard vertel daar is elemente van haar susters se kinders, maar daar is ook iets van haarself as kind in Marcella. “My ma het my vertel ek het eendag vir haar gesê ek voel naar. Toe dink sy ek is siek, maar ek verduidelik: My hart voel naar. Sulke tipe van goedjies.”

Wanneer dit kom by die tema van afknouery en die skade wat dit aanrig, het sy inspirasie geput uit Margaret Atwood se Cat’s Eye.

Oor die hoofkarakter/verteller Rosaria vertel sy: Sy is half-Katoliek en half-Protestants (soos ek). ’n Vriend van my se ouers het ná die Tweede Wêreldoorlog uit Italië na Suid-Afrika gekom. Uit hierdie verskillende oorde kry ek my inspirasie en idees.”

Haar gunstelingskrywers is Julia Leigh, Margaret Atwood, Hilary Mantel, Marilynne Robinson en Ian McEwan. “Dan die ouer Afrikaanse skrywers soos Anna M. Louw, Henriëtte Grové, Wilma Stockenström en Petra Müller.”

Wat is ’n goeie boek? “Dis hipnotiserend, dit trek jou in, soveel so dat alles anders wegval en vervaag sodat tyd nie meer bestaan nie.”

Taljaard het die grootste lof vir Fourie Botha en Elzebet Stubbe wat die Afrikaanse fiksie-uitgewers by Penguin Random House SA is, sowel as Ryno Posthumus, die bemarker. “Hulle behandel skrywers met respek en dra hul belange op die hart.”

Met Die laksman se dogter wou sy iets sê oor die kompleksiteit van die menslike bestaan, verduidelik sy; dat daar nie klinkklare antwoorde is vir kwessies soos genadedood, om jou eie lewe te neem of die doodstraf nie: “Net wanneer jy dink iets is geregverdig, duik daar ’n magdom ander vraagstukke op.”

Meer oor:  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.