Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Tannie Maria in haar vellies is terug

Sally AndrewFoto: Peter van Straaten

Haar jongste is ’n politieke boek, want sy is gesond vir die eerste keer in twee dekades. Sy wou nie nog ’n gemaklike boek skryf nie, sê Sally Andrew, skepper van die geliefde tannie Maria, oor haar jongste roman. Laetitia Pople het met haar gesels.

Jy ruik die Karoobossies, voel die droë lug en hitte. Só beleef die leser elke avontuur van die geliefde karakter tannie Maria soos geskep deur die skrywer Sally Andrew. Die jongste avontuur van dié raakvatter in haar geliefde vellies is nou op die winkelrakke – en tannie Maria is daarin op ’n padreis na die Limpoporivier met ’n wonderlike karakter aan haar sy. Dink Thelma and Louise. Die roman se titel is Death on the Limpopo en die gebeure speel deels in die Karoo en tussen die wildlewe van die Limpopo af.

Die derde roman volg na die wegholtreffers Recipes for Love and Murder in 2015 en in 2016 Tannie Maria & the Satanic Mechanic. Boonop is ’n televisiereeks en ’n moontlike rolprent ook in die vooruitsig.

Die omslag van Sally Andrew se derde Tannie Maria-avontuur, Death on the Limpopo.

Andrew vertel dat haar idees na haar kom op alledaagse plekke. “Dinsdae in die Spar as dit afslagdag is en twee vir die prys van een-pasellas is.” Dit is nou in Ladismith, die naaste dorp aan die wildreservaat waar sy en haar lewensmaat, Bowen Boshier, bly. “Haar avonture is fiksie, maar die landskap en die resepte is die waarheid,” sê sy. Haar liefdesverhaal met die Karoo is nog jonk tog sit die plek al diep in haar beendere, al bly sy nog nie so lank daar nie. “Ek is lief vir Afrika en die boswêreld, die Karoo voel soos ’n oerwêreld. Als voel nog bietjie soos my wittebrood daar – ek hoor die bobbejane en paddasang en sien sebras elke dag, ek voel die vrede aan en geniet die gwarriebome – hier (Kaapstad) is daar geen Afrika-gevoel nie, hier regeer die munisipaliteit als.”

Haar lewensmaat is ’n wildlewe-kunstenaar, hy het grootgeword in die Limpopo-omgewing, waar die nuwe roman afspeel, en sy kon op sy nommer druk vir verwysings en details, en die paartjie het ook ’n ruk gedurende die skryftydperk daar gebly.

Die boek is aan haar pa, Paul Andrew, wat onlangs gesterf het, opgedra asook aan almal wat gesterf het in die stryd om regverdigheid. “Toe ek onlangs die eerste boek gaan haal het, het ek ’n hemp van hom gedra as eerbetoon. Hy het my so bygestaan met die skryf van die roman.”

Sally Andrew op haar gelukkigste in die bos Foto: Bowen Boshier

Albei haar ouers was aktiviste. “Ek en hy was aktiviste, ek was in die 1980’s een. Hy het gehelp om boeke en literatuur te kry oor die aktiviste in ballingskap.”

Haar pa was baie siek en nie gereed om te sterf nie, sê sy. “Ek en Bowen het by hom en my ma ingetrek en hom versorg, ons het hom aan die gang probeer hou. Hy het die roman help redigeer as ’n leser, hy was nogal luidrugtig in sy reaksies, hy kon huil, of aan die slaap raak en soms het hy gesnork! Dan het ek maar verander aan die verhaal. Veral die toneel van die vroue en kapsels in die haarsalon, daar moes ek maar inklim en sny, dit het hom verveel!”

In haar roman worstel Maria met haar verhouding met haar pa wat ’n struggle-held was. “Waar Maria vir haar pa sing dat sy hom liefhet, sê ek dit ook eintlik aan my pa. Dit is ’n emosioneel belaaide roman, dit is ’n reis. Ek voel sy teenwoordigheid aan, maar meer nog met die afloop van die boek.”

Sy is dankbaar dat sy nog met haar ouers na die Victoria-waterval kon reis waar sy haar vroeë kinderjare deurgebring het.

’n Groot gegewe van die roman handel oor die struggle-jare. “As aktivis in die tagtigerjare het ons ’n romantiese idee gehad van die struggle, die ANC en die kampe – alles daar was egter nie above board nie. Die demokrasie wat ons hier stukkie vir stukkie gebou het, is deur die buitelandse ANC geërodeer. Die korrupsie van vandag was toe al daar, as jy na Jacob Zuma se rekord kyk. Hierdie is ’n politieke boek, my gesondheid is ná 20 jaar soveel beter dat ek nie nóg ’n cosy boek wou skryf nie.”

Sy glo nou is die tyd vir skrywers om op te staan. “Die wêreld het na regs terug geswaai, met Trump, Brexit en die stortvloed van rassisme wat ons nou van oral ervaar, ek moes dit net wys in die roman.”

Daarom het sy die karakter Zaba geskep, ’n vreeslose verslaggewer wat opdaag en na antwoorde soek, wat stry en baklei. “Sy is soos ek was – ek het vir almal politieke preke afgesteek, sy is sterk, swart en sonder suiker.”

Haar jongste is ’n politieke boek, want sy is gesond vir die eerste keer in twee dekades. Sy wou nie nog ’n gemaklike boek skryf nie, sê Sally Andrew, skepper van die geliefde tannie Maria, oor haar jongste roman. Laetitia Pople het met haar gesels.

Zaba se teenpool is tannie Maria. “Sy het ’n ingebore sin vir regverdigheid, sy gaan nie preek of haar idees in jou keel afdruk nie, maar sy staan sterk op beginsels. Sy kan die verkeerde goed sê, maar sy gaan die regte ding doen.”

In die roman probeer sy ’n spektrum van Suid-Afrikaners wys en ook die verskeidenheid wat daar is in Afrikanerskap.

“As ’n Afrikaner progressief is, is hulle intensief so, want hulle moes konserwatisme beveg. Ek delf in die Xhosa- en Afrikaans-kultuur ek gaan op tone trap, maar as jy dit nie doen nie, is jy nie besig om te dans nie. Ek glo ek behandel groepe met meelewing en empatie.”

Andrew werk reeds aan ’n vierde roman, dié keer bly tannie Maria tuis en kom die ander geliefde karakters weer na vore, belowe sy.

Death on the Limpopo: A Tannie Maria Mystery word deur Umuzi uitgegee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.