Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Tarzan bult sy spiere in Afrikaans

Tarzan keer terug

Edgar Rice Burroughs

Vertaal deur Louis Botha

GROEP 7 DRUKKERS, R170

Fiksie

Tarzan.

Hoe bied mens ’n probleem soos die verlede die hoof?

Hoe verteer jy bruin ou boeke deurweek van andertyd se blik en beskouinge? Wat maak mens tog met Tarzan en Jane?

Dís vrae wat opwel as ek die Amerikaanse prulskrywer Edgar Rice Burroughs (1875-1950) se tweede Tarzan-roman, Tarzan keer terug, oopknak.

Pas het die volle reeks van 24 boeke weer in Afrikaans verskyn.

Dié aapman, wat as skipbreukeling op peuterbeentjies die Afrika-kus aangedoen het en wie se adellike Britse ouers knap daarna beswyk het, strek sy kabelarms die rooihelder voorblad vol. Hy werp sy kop agteroor soos hy ’n triomfkreet uittrompetter.

Rice Burroughs, wat gesê het hy wil tog beproef met hoé sleg ’n boek hy kan wegkom, se verbeelding het ontkiem toe koningin Victoria se ryk die aardbol omarm het.

Rudyard Kipling (1865-1936) was die voorste storieman van die empaaier. The Jungle Book (1894) se neutbruin wolfseuntjie Mowgli was gou ’n ankerkarakter in die Westerse letterkundige bewussyn.

Net voor die Eerste Wêreldoorlog, toe die Britse wêrelddroom die nekslag sou kry, is Tarzan – ’n volgroeide Mowgli – gebore.

En só ontvou die avonture van ’n oerwoudbewoner wat op 20 die Weste verstommend behendig baasraak, maar telkens weer sy heenkome in die waai van ’n tak vind. Van dáár kan hy die vertroude bedreiginge van sý beskawing trotseer.

Net voor die Eerste Wêreldoorlog, toe die Britse wêrelddroom die nekslag sou kry, is Tarzan – ’n volgroeide Mowgli – gebore.

Gou het Rice Burroughs se skepping, wat hy op manslesers gerig het, norrings boekwurms in sy ysere greep. In 1918 reeds swaai hy in ’n lendedoek die silwerdoek vol.

Tarzan van die ape is só wyd geliefd dat hy tereg as die eerste werklik genre-oorspringende literêre karakter beskou word – ’n gietvorm vir mense se begeertes en waarlik ’n ikoon wat geneentheid ontlok selfs by diegene wat g’n boek gelees of rolprent gesien het nie.

Trouens, Ray Bradbury sê vir The Paris Review dat Rice Burroughs waarskynlik die mensdom se invloedrykste skrywer is.

Om in 2018 Tarzan keer terug in helder, veerkragtige Afrikaans te lees noop mens om te pieker oor waarin Tarzan se lokkrag opgesluit is. Daar ís steeds bekoring.

Enersyds is dit duidelik dat Rice Burroughs wéét hoe om ’n storie te vertel – outyds en eenvoudig.

Sy kennelik papierdun karakters haal tóg verrassend asem. Met die intrapslag sak die gravin De Coude in ’n beswyming oor die “verstommende wolkekrabbers” wat sy haar skunnig verbeel (bl. 1).

Vranker as gif is die Russiese skavuit Nikolas Rokoff, Tarzan se geswore vyand. Maar onderkry is min. Tarzan is ’n aksieman wat teen die reghoek en die swart-en-wit van die bladsy beur.

Sodoende staan die storieboog, wat nóú ’n boot, nóú Parys, dán weer die oerwoud oorspan, deurentyd krom. Lesers se verwagtinge word telkens in ’n wip gevang.

Andersyds beliggaam Tarzan, sy kleinjare onder die ape en flitse wildheid ten spyt, die waardes wat Robert Baden-Powell (1857-1941) in sy goeie-burgerskap-bybel Scouting for Boys (1908) opteken. Hy is moreel penorent, bedagsaam en hy beskerm die broses naas hom.

Sy kennelik papierdun karakters haal tóg verrassend asem.

Tewens, sy visier is skerp gerig op die heelhou van die spreekwoordelike swakkere vat – vernaam die Amerikaner Jane Porter, wat hy in die eerste boek Amerika toe gevolg het en met wie hy hier trou.

Dis sekerlik dié tradisionele waardes wat ook die eerste Afrikaanse Tarzan-boeke, wat rondom 1950 verskyn het, gewild gemaak het. In Tarzan keer terug praat die karakters weer die mooi Afrikaans, setfoutjies en al, van Louis Botha uit die 1980’s.

Van hierdie waardes het natuurlik intussen verskuif. Vroue val nie meer “met ’n hulpelose kreun . . . snikkend op die grond neer” nie (bl. 130). Ook is verwysings na “die etiek van (die) barbaarse, primitiewe stamlewe” (bl. 145) verouderd.

Tog lê Rice Burroughs se vooroordele bloot. Lesers kan – en moet – hulle onbeskermd op die keper beskou. Ook is dit so dat sy aanslag nie sonder verfyndheid of selfinsig is nie. Trouens, deurgaans vra hy of die Westerse beskawing daardie naam verdien – ook deur ’n slim draakstekery met die bekende Engelse hofuitspraak R v Dudley and Stephens (1884) oor kannibalisme ter see.

Oud, ja. Tog bult daar hiér steeds ’n spier.

  • Jean Meiring is ’n vryskutresensent van Johannesburg.
Meer oor:  Afrikaans  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.