Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Te veel vertel, te min gewys

Historiese Fiksie

Met die vierkleur in Parys

Renée Rautenbach Conradie

PROTEA, R195

Al klink die titel, Met die vierkleur in Parys, na ’n roman uit die tyd van ’n opwellende Afrikanernasionalisme uit die eerste deel van die 20ste eeu, is dit Renée Rautenbach Conradie se debuutroman in 2020.

Volgens die nawoord het sy baie lank aan die roman gewerk. Sy het ’n magdom van kennis oor la belle époque van Parys in 1900 opgedoen. Baie fyn besonderhede van die wêreldtentoonstelling wat in daardie jaar in dié stad gehou is, is bekom en Conradie gaan noukeurig met historiese gegewens oor die Anglo-Boereoorlog om.

Gedetailleerde beskrywings van Parys word gegee: die stad se argitektuur, die kos wat geëet is, die kleredrag. Historiese gebeurtenisse uit die jaar 1900 word betrek – selfs die kuns van Toulouse-Lautrec en ’n optrede van Jane Avril in die berugte Moulin Rouge. ’n Boheemse, kleurvolle, vinnige lewe van skrywers en kunstenaars, drank en los meisies word beskryf as ’n meesleurende sensuele ervaring vir die jong Bolandse argitek Paul Roux, wat deur die ZAR gestuur word om te help bou aan die Transvaal se uitstalling by die wêreldtentoonstelling in Parys.

Die verhaal is geyk en die gebeurtenisse ongeloofwaardig.

Die verhaal is geyk en die gebeurtenisse ongeloofwaardig. Indien jy egter meen dat die verhaal jou kan verras, slaan maar die res van hierdie paragraaf oor. Paul Roux laat sy beminde, ’n Joodse meisie van die Kaap, agter en verlang die hele tyd in die vreemde na haar.

Hy raak egter deur die “bandelose Boheemse mense” en die opwinding van die stad die spoor byster, raak met absint en ’n verloopte can-can-meisie deurmekaar en beland uiteindelik in die tronk op aanklag van moord. Deus ex machina kom hy uit die tronk. Natuurlik volg reperkussies vir sy verhouding met Miriam. Maar uiteindelik vind sy goeie inbors die oorhand.

Riana Scheepers en Leti Kleyn het enkele jare gelede ’n boek met die titel Afrikaanse skryfgids saamgestel met raad aan voornemende skrywers. In een van die afdelings in hierdie nuttige gids bespreek Chanette Paul “stylelemente vir prosa”. Sy gee praktiese raad oor die skryf van dialoog en die hantering van perspektief. Conradie pas byna elkeen van die dinge waarteen Paul waarsku in haar roman toe, van onnodige kwalifiserende teks tot inligtingstorting en melodrama, onnodige kletsery (“ ‘Bonjour,’ sê die man. / ‘Bonjour,’ antwoord Paul hom.”) en onrealistiese taalgebruik (“ ‘Verdomp!’ mompel hy weer.”). Emosies word telkens uitgestippel.

As die leser egter haastig oor al die clichés en lomp vertelling kan lees, bied die roman ’n groot bron van inligting oor Parys, die wêreldtentoonstelling van 1900, die argitektuur, beeldende kuns en die musiekwêreld van destyds.

Willie Burger is ’n professor in die departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria.

Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.