Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Boek wat jou tot stilte ruk
Foto:

Fiksie

Die Wonderwese

Carina Stander

PROTEA, R250

Soms kom ’n boek oor jou pad wat jou ten spyte van jou aandagafleibaarheid tot stilte ruk. ’n Boek vol oerwysheid, beleë.

Die begin van ’n reismistiek wat durf om aan te kondig: “Toe was daar.” Met ’n verhelderende lig wat as’t ware daaruit skyn en die soort spel en verlustiging in en met en van taal dat dit tot ’n soort sinsverrukking lei.

’n Fantastiese boek, in elke sin van die woord. ’n Verbeeldingsvlug en ’n verbeeldingsvrug, ’n vreemd-oorrompelende, majestueus-liriese, uitspattige, bars-uit-sy-nate, genre-brekende bekoringsboek. Die boek as ’n belydenis van geloof – in die krag van die woord, en die mag van die daad, ’n bekentenis van eiebelang, hebsug en magsug wat hoogty vier in die afwesigheid van medemenslikheid en sagmoedigheid.

Die soort boek wat jy amper dadelik weet nie vir elke leser beskore sal wees nie, maar ’n uitsoekgroepie se verbeelding tot so ’n mate sal aangryp dat hulle verbyster sal staan tot die aangesig van woorde op papier.

Die soort boek wat maak dat jy sosiale media afsweer en van Netflix vergeet en lees tot jou oë bloedbelope vierkante is wat smag om verlos te word.

Die soort boek wat maak dat jy sosiale media afsweer en van Netflix vergeet en lees tot jou oë bloedbelope vierkante is wat smag om verlos te word.

Die boek wat jou kinderlik opgewonde maak, soos die eerste kennismaking met The Hobbit, en jou weer herinner hoe lewensbelangrik dit is, en bly, om te droom wanneer die buitewêreld al hoe minder sin begin maak.

’n Boek met die nodige ambisie om ’n universele verhaal van selfontdekking, die verlies aan onskuld en die stryd teen die bose te verhul in die taal van engele: Afrikaans.

Saam met veral Alettie van der Heever se Stof (2018) het Carina Stander se Die Berg­engel (2017) die Suid-Afrikaanse spekulatiewefiksie-genre as een van die mees opwindende wendings in die plaaslike Lettere sedert die jaar 2000 aangekondig.

Nes Stof het Stander ’n volgehoue belangstelling in Die Bergengel in ekokritiese vraagstukke soos die verhouding tussen mens en natuur, die uitbuiting van natuurlike hulpbronne en die sinvolle voortbestaan van die mens vooropgestel, maar uiters fassinerend het die twee romans elk op sonderlinge wyses die leser trakteer op ’n visie oor die rol wat taal en taligheid speel soos ons leef en (probeer) oor-leef. Hoe ons sin maak van wat ons het, wat ons oor tyd verloor het, en wat ons dalk (weer) in die toekoms sal kan vind of moontlik kan skep, mits ons maniere vind om behoorlik na mekaar en die natuur te luister.

Die Bergengel, nes Stof, was niks minder nie as ’n dawerende teks, juis omdat dit ten hemele verkondig het, in digterlike, digverweefde droom-sinne, hoekom dit so wonderbaarlik is om te verbeel, en te verbeeld, in Afrikaans. Die taal so strelend soos ’n stroom bevlek met sonstrale, en so onstuitbaar en lewenskragtig soos vloedwater.

Afrikaans: ’n taal so soepel en aanpasbaar in die roman dat dit haas onmoontlik is om te verbeel dat ons moes wag vir ’n Knysna-bos kunstenaar-digter-nimf om ons eie antwoord op Tolkien en George R.R Martin te skep.

Daar is slegs twee vrae wat saak maak wanneer daar na die Die Wonderwese verwys word: Een: In watter mate kan die opvolg op ’n reeds indrukwekkende eerste roman in die reeks voortbou op dit wat geslaagd was?

Die taal so strelend soos ’n stroom bevlek met sonstrale, en so onstuitbaar en lewenskragtig soos vloedwater.

Tweedens: Kan Die Wonderwese so beïndruk dat lesers wat met Die Bergengel gesukkel het, die reeks nog ’n kans sal gee?

Aanhangers van Die Berg­engel sal verheug wees om te verneem dat die skrywer elke laaste greintjie van die liries-episodiese vertelstyl behou het. Van die inleidingsparagraaf wat begin met die woorde “Die lied was ’n bergstroom . . .” is dit duidelik dat die digterlike instinkte van die skrywer net so sterk sal figureer in Die Wonderwese soos die omhelsing van intieme tonele tussen geliefdes en bloedstollende oomblikke waar die vertoon van en misbruik van mag jou laat sidder. Eerder as blote mooiskrywery ontgin Stander ’n eiesoortige harts-Afrikaans: ’n verledetydsfladdering waar woorde wortel skiet en beelde soos die helderste hallusinasies voor jou geestesoog verskyn.

Omdat Stander kan voortborduur op karakters en landskappe reeds bekend aan lesers is daar meer ruimte om haar hoofkarakter, Eron Vergerger, seun van Alida en klokmaker Gibor, laag vir laag oop te skryf, om sy fisiese en geestesreis tot in die kleinste, oortuigendste detail te laat lewe.

Onmiskenbaar is die jong Eron – nou ’n fris en aantreklike jong man, koppig dog sensitief, gefolterd dog begeesterd – soos ’n jong Anakin Skywalker, met ’n fantastiese nuutgeskape kunshand, se velle stryd teen die uitgeslape, sjarmante steltstapper en kulkunstenaar, Velvel Azazel. Onvoorspelbaar, beduidend meer ontstellend en met heelwat meer ambivalensie en skakering is die sentrale stryd in Die Wonderwese nie bloot die goeie teen die bose nie, maar die dekadensie en verval van onverdraagsaamheid en haat teenoor die opbouende krag van stilte, sagtheid en liefde.

Die Wonderwese is die ene betowering. Die Waterplek beloof om alle verwagtinge te oortref.

Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en -resensent van Stellenbosch.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.