Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Ter ere van ons beste vriend

Op 11 en 12 April kom ’n stuk of 20 letterkundiges by die Universiteit Stellenbosch bymekaar om te gesels oor honde in die literatuur van Suider-Afrika. Andries Visagie vertel aan Elmari Rautenbach waar die idee aan ’n hondekongres vandaan kom.

’n Toneel uit ’n opvoering deur die Tsjeggiese regisseur Kornél Mundruczó wat J.M. Coetzee se Disgrace in 2012 as ’n koproduksie deur sewe Europese kunstefeeste op die planke gebring het. Die debuut was in Wene. By die Universiteit Stellenbosch se hondekongres later vandeesmaand bespreek Henrietta Mondry van die Universiteit van Canter­bury in Nieu-Seeland dié roman aan die hand van honde en rou.

Hoekom juis honde?

Honde is net mooi oral in die literatuur, waarskynlik omdat die hond die mens se oudste mak gemaakte metgesel is.

Dit is dikwels honde wat mense toegang bied tot die groter wêreld van ander dierespesies omdat hulle vertrouelinge van die mens is en tog ook niemenslik.

As ’n soort grensspesie vervul hulle dus ’n bemiddelaarsfunksie. Om dié rede is honde in die literatuur dikwels die skerm waarop moeilik verstaanbare spanninge in die mens se bestaan op aarde geprojekteer word.

By ’n kongres verlede jaar van die informele mens-dier-studievereniging wat diere in die letterkunde as vertrekpunt neem, was ’n hele paar boeiende referate oor honde. Een was Susan McHugh s’n oor die uitwissing van die Inuïete se honde in Kanada om die Inuïete te dwing om by die moderne Kanadese staat aan te pas. Dis hoekom ons besluit het op ’n kongres net oor honde.

In die programnotas word aangehaal uit “Ondersoeke van ’n hond” waarin Franz Kafka skryf: “Alle kennis, die totaliteit van ­alle vrae en antwoorde is opgesluit in die hond.” Hoe sluit die kongres hierby aan?

Kafka se uitspraak is ’n heerlik oordrewe stelling wat aan ons as navorsers vrypas gee om erns te maak met honde in die literatuur. In Kafka se kortverhaal worstel ’n ou hond met vrae oor sy eie bestaansrede. Vir die duur van die kongres gaan ons, soos Kafka, besin oor die poorte wat honde binne die literatuur open.

Wat is byvoorbeeld die belang van die immer verbasterende rooi honde in Willem Anker se roman Buys? Wat verklap hulle oor die omstrede en afvallige Voortrekker Coenraad de Buys wat kleurpurisme oorboord gegooi het en die grondlegger van die bruin Buys-volk was? Wat suggereer hulle oor roofdieragtige elemente in die Suid-Afrikaanse samelewing sedert die einde van die 18de eeu?

Uiteindelik wil die literatuur ons wys op die mens se uiteenlopende verhoudings met die omgewing en met ander spesies wat sy unieke aard bepaal. Die resultate sal hopelik genoeg stof bied vir die saamstel van ’n mooi akademiese boek gewy aan honde in die Suider-Afrikaanse literatuur.

Dink maar aan honde op boekvoorblaaie: Jock of the Bushveld, Disgrace, die Engelse Triomf, met snuffelende honde voor ’n paar leë yskaste, Buys,Op ’n dag ’n hond van John Miles (die lettertipe die ene hondesterte), die mombakkies van Eben Venter se Wolf wolf . . . Die siftingsproses moes uitmergelend gewees het?

Eintlik nie. Ek en my mede-organiseerders, Joan-Mari Barendse, Dan Wylie en Sam ­Naidu, het besluit om ons brood op die waters te werp en was aangenaam verras met die fassinerende referaatvoorstelle.

So gaan Joan-Mari Barendse aan die hand van Oswald Pirow se roman Ashambeni kyk na die funksie van weerwolwe en die bonatuurlike in Pirow se ietwat vergete boek, terwyl die historikus Sandra Swart se bydrae gaan oor die geskiedenis van honde in wetstoepassing in Suid-Afrika. Min mense weet eintlik goed opgeleide speurhonde uit Suid-Afrika was in die 1950’s wêreldwyd in aanvraag. Toe honde sedert die 1970’s egter al hoe meer opgelei is om skares in die townships in toom te hou, het dié stand van sake verander.

Jacomien van Niekerk bekyk die bekende Jakkals en Wolf-stories in Afrikaans, waar in die ou orale vertellings uit die Khoi-verhaalskat die wolf in werklikheid ’n hiëna is.

Catherine du Toit vergelyk Miles se Op ’n dag ’n hond met die werk van die Franse skrywer Michel Houellebecq en hoe albei skrywers honde as gidse en getuies inspan.

Dit is dikwels honde wat mense in die religie na die hiernamaals begelei en sodoende ’n goddelike funksie vervul.

Die hoofreferaat word gelewer deur Karla Armbruster van die Webster-Universiteit in Missouri wat haar eie boek oor honde in die Engelse letterkunde skryf . . .

Dan Wylie van die Rhodes-Universiteit het ons op haar spoor geplaas. Karla stel belang in die spanning tussen wildheid en die makmaak van honde. Sy gaan ook aan honneursstudente in die literêre teorie ’n inleiding bied in die ekokritiek, ’n kennisterrein wat dikwels parallel loop met die mens-dier-studie.

Hoekom raak honde se leed mense soms méér as mense se leed – ook in stories?

Honde is diere wat hul selfstandigheid prysgegee het om pasmaatspesies van die mens te word. Hulle besit daarom ’n sekere weerloosheid en afhanklikheid van die mens, wat gereeld op onverskillige en wrede maniere met honde omgaan.

Die band tussen mense en honde is dikwels baie diep. Hondenavorsers, byvoorbeeld die span Hongaarse dieregedragkenners onder leiding van Ádám Miklósi, het oor die laaste jare ontdek in watter mate honde op hul mense ingestel is: Honde boots dikwels mense na en is byvoorbeeld die enigste dier wat ook gaap wanneer ’n mens gaap.

Dié herkenning en assosiasie van honde met mense is net een voorbeeld van die noue band wat oor die eeue tussen mense en honde ontstaan het. Dis daarom heeltemal verstaanbaar dat hondeliefhebbers groot hartseer ervaar wanneer hulle geliefde metgeselle doodgaan. Ek voel byvoorbeeld diep geraak deur ’n gedig soos “Hond en Gracie” van Lina Spies in haar jongste bundel Sulamiet, wat die vuurdood van ’n hond en kat betreur.

Om te rou oor ’n blinde hond wat klavier speel

Voor haar dood in 2011 het die blinde  terriër van die kunstenaar en skrywer Laurie Anderson en die Velvet Underground-sanger Lou Reed dikwels haar eienaars se gaste vermaak met haar klawerbordspel. 

In 2015 het die  68-jarige Anderson haar   rolprent Heart of a Dog uitgereik. Hierin kombineer sy animasie, tuisvideo’s en filmskote  wat dikwels uit die oogpunt van ’n hond geskiet is, en praat  oor haar rouproses – nie net oor haar troeteldier nie, maar ook haar man en ma.

Op die hondekongres kyk Marius Crous van die Nelson Mandela-Universiteit in Port Elizabeth nie net hoe kunstenaars diere as objekte van rou aangryp nie, maar ook na   Anderson se subteks:  die Tibettaanse  boek van die dood. Die Boeddhiste glo jy moet die dood sonder selfbejammering benader. 

Begin 2016 het Anderson haar fliek opgevolg deur ’n hondekonsert in Central Park. Hier het al die musiek klanke bevat wat net honde kon hoor. 

  • Die kongres vind plaas by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Studie (Stias). Vir navrae: e-pos agvisagie@sun.ac.za.
Meer oor:  Honde  |  Letterkunde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.