Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Thuli se kinderboek gaan kinders ubuntu-waardes leer
Thuli Madonsela Donderdag by haar boekbekendstelling. Foto: Jana Marx

Haar mooiste kleintydherinnering is hoe sy en haar sibbes grootoog om die vuur in haar ouma se rondawel na stories sit en luister het.

Vandag weet prof. Thuli Madonsela hierdie Afrika-fabels het haar waardes soos ubuntu, integriteit, waarheid, meelewing, geduld, respek en veerkragtigheid geleer.

Madonsela en haar familie het Donderdag die kinderboek Melo’s Kingdom in Sandton bekend gestel.

Net soos dit “ ’n dorpie neem om ’n kind groot te maak” het “ ’n dorpie saam aan haar boek gewerk” het sy geskerts.

Melo’s Kingdom is vernoem na haar kleindogter en “prinses”, Melokuhle of net Melo.

Madonsela se medeskrywers is Melo se ma en pa, Wenzile Madonsela-Msimanga en Khulekile Msimanga, en haar oupa aan haar vaderskant, Zedekiah Msimanga.

Mosilo Mothepu, wat in Madonsela se termyn as openbare beskermer die fluitjie oor die Gupta-maatskappy Trillian Capital Management en Eskom geblaas het, was een van die gaste.

Die sangeres Yvonne Chaka Chaka het ook vinnig kom gesig wys, terwyl Elana Afrika-Bredenkamp die paneel gefasiliteer het.

Die kleurvolle hardebandboek deur Christian Art Publishers handel oor die avonture van Melo en haar dieremaatjies. Elke storie sluit ’n relevante Bybelvers, ’n gebed, ’n paar vrae oor interessante feite en ’n prettige aktiwiteit in.

Die idee vir die boek het op ’n vliegtuig terug van Londen ontstaan toe Madonsela na die rolprent Christopher Robin gekyk het.

Sy het die titel Melo’s Kingdom gekies, want as diep gelowige wil sy hê elke kind moet weet hulle is ’n prins of prinses in God se koninkryk.

Mense wat ander gelowe aanhang moet hulle egter nie hierteen blind staar nie, sê sy, en die Opperwese van hul keuse se naam daar invul. Die beginsels van menswees bly volgens haar immers dieselfde.

“Ons is almal prinse of prinsesse, want elkeen hier is die dogter, seun of watter gender jy ook al mee identifiseer, van ’n skepper. Ek is ’n kind van die Here. Jy noem God dalk anders, soos Allah of Jehovah. Maar ons moet ons plek in die tapisserie van die lewe vind. Jy moet weet waar jy inpas en dat jy deel van ’n geheelbeeld is.”

Die boek leer kinders ook dat familie en die gemeenskap belangrik is en Madonsela hoop dat die storietyd gehaltetyd vir ouers, grootouers en kinders sal beteken.

“Soos die fabels en spreekwoorde waarmee ons grootgeword het, is die stories soos vervat in Melo’s Kingdom karaktervormend. Ek hoop dat die stories die storietye sal terugbring waar families saam sit en lees en stories vertel.

“Ons leef in ’n gebroke wêreld. Ons kort hoop in ’n tyd van groot onsekerheid. Ons wil uiteindelik hê kinders moet gelukkig wees, maar hulle moet ook dinge kom verander.”

Wenzile Madonsela-Msimanga, prof. Thuli Madonsela en Sua du Plessis, uitgewer van die boek. Foto: Jana Marx
Wenzile Madonsela-Msimanga met klein Melo en prof. Thuli Madonsela Donderdag op die boekbekendstelling van Mello’s Kingdom in Sandton. Foto: Jana Marx

Dít kan net gebeur as kinders stewig geanker is en weet wie hulle is, meen Madonsela.

“Gelukkige mense maak nie ander mense seer nie. Jy kweek dan ’n genesende generasie,” het Wenzile gesê.

En natuurlik hoop sy Melo se avonture kweek ’n liefde vir lees by kinders.

“Om ’n liefde vir lees op ’n jong ouderdom te kweek, gee ’n kind ’n voorsprong op soveel vlakke. Dit bou selfvertroue en maatskaplik-emosionele vaardighede. Dit brei hul woordeskat uit en help hulle om sin te maak van die wêreld om hulle. Lees stimuleer ook die verbeelding en help jong kinders om taal- en luistervaardighede te leer wat baie nodig is in vandag se tye.”

Maar belangriker nog: Kinders moet ’n morele riglyn hê en Madonsela glo Melo’s Kingdom kan dít op ’n lekker manier leer.

Melo’s Kingdom is beskikbaar by alle hoofstroomboekwinkels en aanlyn.

Meer oor:  Kinderboek  |  Thuli Madonsela
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.