Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Toe álles verander het
Die skildery, “Lest We Forget” deur Llise Dodd wat vir die voorblad van die boek gekies is. Foto: Verskaf

“Lockdown letters: The day the world changes” was die opskrif van ’n uitnodiging wat Michelle Vimpany, ’n inwoner van Port Elizabeth, uitgestuur het om Suid-Afrikaners aan te moedig om op skrif hul emosies tydens die inperking te verwoord.

Dié kreatiewe inisiatief het sy oorsprong te danke aan ’n tragedie wat sy en haar gesin beleef het.

Vimpany en haar gesin is kort voor die inperking weens die Covid 19-pandemie deur ’n ramp getref toe hul huis in ’n brand vernietig is.

“Ons het vinnig ’n kort vakansie geneem en rustig saam met ou vriende in die omgewing van Plettenbergbaai gesit en kuier toe ons ’n oproep ontvang wat ons lewe daadwerklik sou verander,” sê Vimpany.

“ ‘Pa, het jy geweet die huis is aan die brand?’ het ons dogter angstig oor die foon gevra.

Die Oos-Kaapse kunstenaar Llise Dodd, wie se skildery Lest We Forget! op die voorblad van Lockdown Letters pryk. Foto’s: Verskaf

“Skielik was daar geen warm bed om in te slaap nie, geen klere of persoonlike besittings nie en die ergste was dat die veilige hawe wat ons huis ons eens gebied het en waar ons gereeld dierbare vriende en familielede ontvang het, bykans heeltemal vernietig was.

“Dis is onmoontlik om te beskryf hoe ’n mens ten tyde van só ’n situasie voel. Ek was oorweldig deur emosies, sleg sowel as goed. Waarom moes dit met ons gebeur?

“Terselfdertyd was ek verbysterd oor die groothartigheid en bystand van familie, vriende, vreemdelinge en bure wat ek nooit voor die ramp eens van geweet het nie.

“Ken Holloway, ’n pastoor by die Harvest Christian Church in die Baai, het my herinner aan die jong Joodse dogter, Anne Frank, wat, toe sy en haar gesin tydens die Duitse besetting van Nederland gedurende die Tweede Wêreldoorlog weggekruip het, dagboek gehou het en my aangemoedig om ook my emosies op skrif te probeer verwoord.

“Ek het die skrywery aanvanklik maar traag aangepak, maar uiteindelik was dit ongelooflik terapeuties gewees.”

Omdat Vimpany soveel daarby baat gevind het, het sy besluit om enige persoon wat wil en kan skryf via sosiale media aan te moedig om dieselfde te doen.

Michelle Vimpany, samesteller van die boek Lock Down Letters, met van die bydraes deur verskeie Suid-Afrikaners wat gedurende die inperkings-tydperk met opgekropte emosies geswoeg het.

“Talle mense wêreldwyd het, en moet steeds, deur opgekropte emosies wroeg as gevolg van die verskriklike inperkingstydperk,” sê sy.

Uit die menigte briewe en poësie wat mense van oor Suid-Afrika heen aan haar gestuur het is 40 briewe, waarvan 19 mense vir die eerste keer ’n skryfstuk aangebied het, gekies wat nou in die boek Lockdown Letters – Lest we Forget! gepubliseer sal word.

Sonia Strümpfer, ’n bekende Oos-Kaapse kunstenaar, is die kunskoördineerder van Lockdown Letters en het op haar beurt weer deur die sosialemediaplatform Facebook kunstenaars aangemoedig om werk wat hulle ten tyde van die inperkingsfase geskilder het, in te dien wat as voorblad van die boek gebruik sou word.

Lest We Forget!, ’n skildery deur Llise Dodd, ’n Oos-Kaapse kunstenaar wat in die Elandsriviervallei op ’n plaas woon, se werk is uit die meer as 40 skilderye wat ontvang is daarvoor gekies.

“Ek het oorspronklik ander werk wat ek gedurende die inperkingstyd geskilder het daarvoor ingeskryf, maar twee dae voor die tyd besluit om iets spesifiek vir die besondere boek te skilder,” sê Dodd.

“My idee wou egter net nie uitwerk nie en ek moes eers gaan sit en het gebid vir ’n uitweg. Daarna het ek begin skilder en Lest We Forget!, die naam van my skildery, het net gebeur; sonder konsep-, ontwerp- of kleurbeplanning.”

Daar is ook 12 ander kunswerke deur Suid-Afrikaanse kunstenaars in die boek opgeneem wat van 1 November 2020 beskikbaar sal wees.

Stuur e-pos na michelle.vimpany@mentorscollective. co.za of besoek haar webtuistes by mentorscollective.co.za of web.facebook.com/Mentors-Collective-108115094322709 om die boek te koop, vir meer inligting of om aan toekomstige Mentors Collective-projekte deel te neem.

Meer oor:  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.