Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Toe wit laaities besef hulle bly eintlik in Afrika

Memoire

Between Rock & a Hard Place

Carsten Rasch

MF BOOKS, R240

Ons is almal slim genoeg om te weet dat geskiedenis deur die wenner geskryf word.

’n Vinnige besoek aan sahistory.org.za sal jou leer dat die huidige regering nie toelaat dat feite in die pad staan van bevrydingsorganisasie-retoriek nie. Die feite moet by hulle storie pas, nie andersom nie.

Baie skole bied nie eens meer geskiedenis as vak aan nie. Dit het ’n politieke tameletjie geword wat almal probeer vermy. Intussen word ons kinders groot sonder dat hulle weet waar hulle vandaan kom. Soos gewoonlik wys Suid-Afrikaners weer inisiatief as hulle regering die bal aanslaan. Hulle skryf sommer self hul geskiedenis.

Die laaste paar jaar was die wit underground van die 80’s baie besig om hul eie struggle neer te skryf en op film te sit. Koos Kombuis se Seks & drugs & boere­musiek, Al Lovejoy se Acid Alex, Roger Lucy se outobiografie en dan rolprente soos Punk in Africa en Michael Cross se bydrae tot die genre met flieks oor Radio Rats en Bernoldus Niemand.

Populêre kultuur word ingespan om geskiedenis as vermaak aan te bied – een manier waarop die stories gaan oorleef in ’n era waarin geskiedenis se voortbestaan bedreig word deur politiek, media, waninligting en mense soos Donald Trump se Twitter-rekening.

Van hierdie bydraes, en hierby sluit ek die bogenoemdes uit, is nie altyd so feitelik korrek nie. Soos reeds gesê: Geskiedenis word deur die wenner geskryf. Dit geld ook vir die groot verskeidenheid van memoires oor daardie dekade wat besig is om meer en meer te raak.

In party gevalle, soos met die Sugarman-rolprent, is dit moeilik om te verstaan hoekom ons die ANC nodig gehad het om Suid-Afrika te bevry. Wit underground-popkultuur van die 80’s het dit sommer mos eiehandig gedoen. Die verskil tussen die terme “underground” en “anti-apartheid” word ook gryser en gryser met elke skrywe of elke nuwe filmraampie wat daardie tydperk se beuel blaas.

(Interessant om te sien hoe die meeste van dié boeke oor underground-kultuur gaan, wat weer eens ’n bewys is dat die hoofstroom-kultuur van die dag onnatuurlik was. Jy sien nou nie eintlik veel boeke oor Bles nie, nè?)

Welkom aan Carsten Rasch, die nuutste toevoeging tot die genre en ook die ou wat ’n heel nuwe perspektief en vars asem na die genre bring.

Anders as Lovejoy was hy nie ’n dwelmhandelaar nie. Wel, nie voltyds nie. Anders as Lucy is hy nie deur die veiligheidspolisie gejaag nie. Hy was gewilder by die ouens van Sanab. Anders as Koos Kombuis was hy nie ’n rockster nie. Hy het wel in kommersieel onsuksesvolle groepe gespeel.

Welkom by die storie van Jan en alleman in die 80’s. Die underground-Jan en alleman. Die ou wat, soos almal wat effe anders gelyk het in daardie tyd, afgetrek is in padversperrings, obseen betas is deur die SAP in ’n poging om dwelms op jou te kry en aan die ontvangkant was van traanrook en persoonlike beledigings.

Carsten was nie beroemd nie. Ek dink nie eens hy was berug nie.

In kraakvars taal met stewige woordkeuses en stywe, goed deurdenkte sinskonstruksie vertel hy hoofstuk vir hoofstuk die verhaal van sy lewe. Carsten was nie beroemd nie. Ek dink nie eens hy was berug nie. Hy was net een van daai ouens wat vasgeskop het teen die reëls van die dag, ’n buitestander geword het deur keuse eerder as lot en dit oorleef het om sy storie te vertel.

Cas (soos hy op skool bekend gestaan het) en sy vriend Hoffie (wat ’n groot rol in die boek speel) was my seniors op skool. Hulle was die definisie van cool kids voordat die term nog bestaan het. Hulle mag laat uitgebly het, met meisies wat ouer as hulle was uitgehang het en selfs stad toe gegaan het wanneer hulle wou.

Ons was almal jaloers. Noudat ek Between Rock & a Hard Place gelees het, is ek minder jaloers op sy kinderjare. Die onderwyser wat sy buiging in die boek maak, Budgie, as die uitdeler van vele rottanghoue, het my ook gereeld beetgekry. Daar is dus darem ooreenkomste uit ons kinderdae.

Die grootste verrassing van Rasch se boek is natuurlik dat hy soveel detail kan onthou deur die waas van drank en dwelms. Aan die een kant kry jy die idee dat baie van hierdie stories al vele male vertel is en aan die ander kant kan jy sien dat hy behoorlik navorsing gedoen het oor wat hy te vertel het. Die struktuur van die boek is een van die dinge wat dit so leesbaar maak. Kort, kragtige, amper impressionistiese hoofstukke, wat oor individue of individuele dade gaan, maar tog inpas by die breër narratief van die boek. Dis slim geskryf.

Hy vang die paranoia van daai tyd vas toe die polisie kon doen wat hulle wou sonder enige gevolge en reperkussies van bo.

Die taalgebruik, Kaapstad- pre-hipster-patois en Kaaps het hy vasgevat en word outentiek gebruik. Dit voel nie geforseerd nie, hoewel ek nie hou van sy gebruik van die woord “darkie” nie. Ek gee nie om vir sy regverdiging dat dit deur nierassige mense in die 80’s gebruik is nie. Selfs toe was daar onder sekere mense ’n probleem met daai woord. In elk geval, dis sy boek, so dis sy keuse.

Sy dialoog is ook ongeforseerd en vloei gemaklik. Hy trap nooit op die landmyne waarop daar so gereeld getrap word deur skrywers in hierdie genre nie. Hy is nooit uitasem nie. Hy is in totale beheer van die storie en vertel dit sonder om te entoesiasties of te weggevoer te raak.

Hy vang die paranoia van daai tyd vas toe die polisie kon doen wat hulle wou sonder enige gevolge en reperkussies van bo. Hy vang die geboorte vas van die cross­over-klanke van Suid-Afrika, die tyd toe wit laaities besef het dat hulle eintlik in Afrika bly en dit mag gebruik in hul musiek. Johnny Clegg, Hotline, Bright Blue . . . Hy kyk na ’n tyd in die vorige bedeling toe kuns betekenis gehad het en veranderinge teweeg gebring het.

Die bonus is dat hy rêrig en natuurlik snaaks is.

Anders as baie boeke in hierdie genre verloor hy nie stoom na die einde toe nie. Om die waarheid te sê, hy tel spoed op. Rasch is ’n skrywer van formaat en ek hoop om in die toekoms meer van sy werk te sien.

Deon Maas is die skrywer van die pas verskene Witboy in Berlyn.

Meer oor:  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.