Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Prys vir kortverhale na Chris Barnard hernoem
Chris Barnard
Chris Barnard

Die Chris Barnard-kortverhaalprys, vernoem na dié Hertzog-bekroonde Sestiger-skrywer, is die nuwe naam van die Croyez-prys wat verlede jaar die eerste keer toegeken is.

Die uitgewer Zalman S. Davis van Minimal Press, wat dié jaarlikse kortverhaalkompetisie aanbied, het besluit dat die toekenning na Barnard genoem word vanweë sy talent as kortverhaalskrywer.

“Ek is veral versot op sy kortverhaalbundel Duiwel-in-die-bos. Ek het Barnard se werk in matriek ontdek toe ek op ’n bundel, Kompas (reissketse waarin hy een van die skrywers is), en op die gepubliseerde draaiboek van die fliek Paljas in die biblioteek afgekom het. Sedertdien was ek versot op sy werk. Jare later sou ek kennis maak met sy dramas soos Die rebellie van Lafras Verwey,” sê Davis.

Die kompetisie fokus op skrywers van alle ouderdomme wat skryftalent toon.

“Ek wil wel graag die Afrikaanse taal en letterkunde onder die jeug bevorder. Daar is egter min jong mense wat in Afrikaans wil skryf. Ek wil opkomende skrywers moed gee om aan te hou skryf en deurentyd te verbeter. Iewers op ’n dag sal daar ’n deurbraak kom, maar vir eers is dit ’n lang proses van slyp, skaaf en leer.”

Die regisseur Katinka Heyns, weduwee van Barnard, wat in 2015 dood is, meen dat hy ’n goeie rolmodel vir jong skrywers is.

“Hy was goed omdat hy ook vir die verhoog en vir radio geskryf het. Hy kon baie ritmies skryf. Hy het natuurlik vir spesifieke akteurs geskryf.

“Hy het vir verskillende mediums geskryf. Dit is ’n ander aspek van sy oeuvre. Dit is goed vir jong mense om so te probeer skryf dat hul werk moontlik tot rolprente of dramas verwerk kan word.”

Hy (Barnard) was goed omdat hy ook vir die verhoog en vir radio geskryf het. Hy kon baie ritmies skryf. Hy het natuurlik vir spesifieke akteurs geskryf.
Katinka Heyns

Heyns het Barnard se kortverhale geken voordat sy hom ontmoet het.

“Ek dink (sy romans) Moerland en Mahala was albei op Tukkies vir ons voorgeskryf.”

Sy het later ’n dokumentêr oor hom gemaak en nog later het hul seun, Simon, ook ’n dokumentêr oor hom vervaardig.

“Ek het vir Chris op sy sterfbed van sy werk en kortverhale gelees,” sê Heyns, “dié waarvan hy spesifiek gehou het”.

Heyns het Barnard ontmoet toe sy en die akteur Cobus Rossouw na sy toneelstuk Pa, maak vir my ’n vlieër Pa gaan kyk het.

“Ek en Cobus het toe pas ’n fliek geskiet, en Cobus het gesê ons moet na Chris se stuk gaan kyk. So ek het vir Chris daar op die trappies ontmoet – in sy aandpak en alles. Dit was ons eerste gesprek.”

Dit was lank voordat Heyns met haar eerste man, die regisseur Koos Roets, getroud is.

“Ná daardie aand in die teater het ek hom nog ’n keer gesien en ons het oor rolprente gepraat.”

Heyns en Barnard het baie projekte saam aangepak.

“Die wisselwerking tussen ons was regtig nogal besonders. Ons het saam geleer. Ons het saam die medium van televisie en later rolprente verken.”

Hulle is bekend om rolprente soos Die storie van Klara Viljee en Paljas, en reekse soos Onder draai die duiwel rond en Amalia.

Heyns onthou dat Barnard geen medium as minderwaardig beskou het nie.

“Simon het nie daarvan gehou dat sommige van die Sestigers neerhalend gepraat het oor die feit dat Chris vir televisie skryf nie.

“In sy dokumentêr het Simon met hom ’n gesprek hieroor gevoer, wat uiteindelik baie insiggewend was.

“Vir Chris het dit altyd gegaan oor ’n storie en karakters en of dit jou kan meevoer.”

  • Die skrywer Trisa Hugo is as die wenner in die eerste kompetisie aangewys.
  • Vanjaar is die beoordelaars Elsa Winckler, Maleen Breytenbach, Carla van der Spuy, Madelein Rust, Bernette Bergentuin, Belinda Bras-Nel en Dia van Staden. Die datum van die toekenningsaand moet nog aangekondig word.
Meer oor:  Katinka Heyns  |  Boeke  |  Chris Barnard
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.