Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Toekoms-es bekyk die hede

Harry Kalmer se nuutste roman is vol tergende knope en is tegelykertyd ’n teer liefdesverhaal, ’n eko- en politieke skelskrif oor die wêreld se vernietigingsgang, en ’n besinning oor oudword en die dood, skryf Jean Meiring.

Harry Kalmer Foto: Joanne Olivier

In ’n land sonder voëls deur Harry Kalmer. Uitgewer: Penguin. Prys: R280.

Voëls vlerk en snawel groen en grys – én ironies – uit die woordehok op die voorplat van Harry Kalmer se jongste roman.

Vir selfs die matig opmerksame leser roep dié beeld oombliklik die vooraansig van Lien Botha se eweneens futuristiese en distopiese roman Wonderboom (2015) op waar ’n weerbarstigheid vlerke en blare in volkleur die bodeel van die boektitel uitdruis.

Dít is geen terloopsheid nie. Daardie boek open met ’n foto van rooivlerkspreeus en ’n toneel waarin die hoofkarakter, Magriet Vos, van die “effe bitter en taai” vleis van ’n spreeu, ’n hele dessertlepel vol, ’n oorlewingsmaal maak.

Ook in Alettie van den Heever se tamaai en meesal donker toekomsboek Stof (2018) is voëls byna volkome afwesig, buiten vir byvoorbeeld ’n opgestopte janfrederik wat aan ’n spieëltjie hang (bl. 35).

Voëls is immers brandwagte wat die toekoms in hul murg saamdra.

Die verteller is dalk nie te vertrou nie.

In sy nuutste boek keer die voorste troebadoer van die Goudstad – wat verlede jaar met A Thousand Tales of Johannesburg: A City Novel (2017), die Engelse weergawe van ’n Duisend stories oor Johannesburg: ’n Stadsroman (2014), die Barry Ronge-fiksieprys verower het – sy rug op sy veelbesonge tuisstad, op die Mei­straat van Vlieger Bothma en die Hillbrow van Jos Goosen.

Ook wend hy sy oog, voorheen gewoonlik op die verlede gerig, soos Botha en Van den Heever, vir ’n verandering ’n klompie dekades die toekoms in.

’n Ruk ná Mandela se afsterwe het die blinkoog nuwe Suid-Afrika in chaos verval.

In ’n referendum 15 jaar terug word die instelling van die ekonokrasie bekragtig.

Ná die Chaos kom die Wending dus.

Als word vir almal geprivatiseer en vyfjaarliks stem kiesers vir hul voorkeur-korporasie wat vir die parlement en regering van weleer sal instaan.

Só gebeur dit dan dat ’n Koreaanse maatskappy, die Korporasie vir Ekonomiese Bemagtiging, hier te lande die septer in die hand opneem en die nuwe Suid-Afrika ’n verdere “nuwe” vooraan kry.

Tegelykertyd delf die Noordelike Halfrond ysig die onderspit.

Klimaatvlugtelinge steier met sakke geld van dobberende bote af en rykmansmuurbuurte rys oral uit die haaikaal niks.

Maar die nuwe rus en duurte kos ’n stewige prys.

Baie vryhede word ingekort. Byna nes in die Middeleeue verg heelwat aktiwiteite ’n owerheidslisensie, byvoorbeeld om heel onskuldig honde aan te hou of om ’n Bybel op jou bedkassie te laat lê.

Soos in Wonderboom en Stof sit Kalmer hier ’n vel deursienpapier oor die hedendaagse, herkenbare Suid-Afrika. Die basiese geografie is nog daar, maar streke en stede het nuwe name en vars betekenisladings.

Soos in die dae van die VOC klink daar uit die Korporasie-lose hinterland vir baie ’n helder roepstem op. Dis van dáár waar die Zonistas hul versetgang teen die Korporasie voer.

Ook hef Kalmer die dwingelandy van rasse- en etniese grense, wat deur vandag se bril-lense deprimerend genoeg onverskuifbaar blyk, verfrissend en relativerend op.

Daar is immers ’n nuwe heersersklas wat sonder aansien des persoons Suid-Afrikaners van voor en ná 1994 insluit.

Tog kan nuwe aankomelinge uit die Ooste maklik genoeg uitgeken word: Hulle praat deur slim simtolkmasjiene Afrikaans, maar strompel soms oor die inheemse idioom.

Ruiterlose sweeftuie swiep verby en waar die verteller, Adam Burger (lesers kom sy naam eers op bl. 57 teë), met die lig van die gordyn hom bevind – in ’n seedorpie buite Jungsimi 4, oftewel “[l]ekker ou Durbs” (bl. 200) – is die beskerming teen die son swakker as in die stede.

As die sonfluit dáár waarskuwend blaas, tas almal na hul skutbril en pyl die naaste boombedekking of onderdak tegemoet.

Adam is daarnatoe gestuur vir “traumaverlof” omdat sy vrou “ingespuit [is]” (bl. 27). Dis derhalwe seker nie vreemd dat die vrou in die draadhok in die super­mark­ingang uit sy seestaardery aflei dat hy ook sy hand aan selfmoord gaan waag nie (bl. 62).

Maar gou lok die einste vrou, in ’n aandrok getooi, met vonkelwyn en ’n dik skaaptjop vir Adam die hinterland in. Sodoende begin vir hom ’n tog met onwerklike swenke en draaie – een klein stuk Die Uile, die leeuestuk Apocalypse Now.

In drie dele vou die verhaal oop: eers kom “Fladdering”, dan “Vlug”, en laastens “Land”. In ’n sin stel dié dubbelsinnige binnetitels die verhaal se boog gelyk aan die trajek van ’n voël.

Soos byna al Kalmer se vorige prosawerke – dink maar aan die speurverhaal Kniediep (1998) en ’n Duisend stories – word die hier-en-nou en die toe op ’n slim en openbarende wyse deurmekaargeknoop.

In die openingsdeel, “Fladdering”, stapel Adam se ek-vertelling in die hede in korterige flitse op. Hulle word deur ewe beknopte aflewerings afgewissel waarin Adam sy ontslape vrou, Sybille, uit die toekoms uit direk aanspreek.

Wanneer hy in die openingsin van die boek vir haar sê hy is “nou al agtien maande hier” (bl. 9), wonder die leser presies waar hy is. Dié onsekerheid word nooit opgeklaar nie. Is hy dalk in ’n tronk of sit hy, soos die verteller in Die dao van Daan van der Walt (2018), êrens in selfopgelegde afsondering?

Dit is in daardie onbekende plek dat Adam – met ’n sagte eggo van Magdalena in Kalmer se Briewe aan ’n rooi dak (in verskeie gedaantes tussen 2001 en 2007) – uit die toekoms uit sê dat hy ’n nuwe taal aanleer: “die taal van onthou” (bl. 11).

Maar sodra ’n mens die blad omkeer, kondig Adam in die hede aan: “Ek praat dalk die taal van onthou, maar ek het my leesbril vergeet.”

Sodoende weet aandagtige lesers dat hulle nou in hul pasoppens moet wees. Hiér is ’n verteller aan die woord wat dalk nie ten volle te vertrou is nie.

Daar is eweneens ’n soortgelyke waarskuwing opgesluit in Adam se stil bepeinsing oor waarom hy al terugkykend vir Sybille aanspreek: “Maar hoe weet ek jy onthou dit dieselfde as ek? Het ons dit eenders ervaar? Was ek binne die oomblik?” (bl. 53).

In die vertelling-in-die-hede herken die leser die bekende Kalmer-humor, wat soos die kopieskrywer wat hy voorheen was sy karakters met ’n verkwikkende dosis woordvaardigheid en spitsvondigheid seën. Daar is byvoorbeeld nou ’n “skynson” pleks van regte “sonskyn” (bl. 26); om net een slukkie hardehout te neem is “soos om jou sussie te soen” (bl. 57).

Ook is die karakters se name byna sonder uitsondering betekenisvol; soms roep hulle ouer Kalmer-karakters in herinnering.

In die Sybille-stukke is daar weer ’n elegiese toon wat in Kalmer se oeuvre betreklik seldsaam is, maar tog in onder meer Briewe aan ’n rooi dak en Groceries: Stories oor huishoudelike produkte (2006) merkbaar is.

In die tweede deel, “Vlug”, stu die verhaal terugblikloos vinnig in die hede voort, die hinterland se bloedbelope boskasie deur.

En dan, in “Land”, word die hede-vertelling weer eens met die terugskouende gesprek met Sybille afgewissel.

Uiteindelik besef ’n mens terdeë dat dít wat telkens as die waarheid voorgehou word, dalk iets volledig anders is. Só val die skille keer op keer van ’n mens se oë af totdat jy in die finale instansie nie mooi wys is wat wat is en wie se woorde geglo kan word nie.

Die sentrale motief van ’n wêreld sonder voëls word subtiel en op ’n verskeidenheid vlakke ontgin. Trouens, die eerste melding daarvan dat die wêreld se voëlbevolking aan’t kwyn is, duik eers op bl. 84 op. Later in die boek, wanneer voëls verrassend as’t ware uit die niet verskyn, bied dít ’n sweem van hoop. Maar kan die leser dit vertrou?

Aan bome in die hinterland hang daar onverwags voëls, onderstebo soos vlermuise.

Die Korporasie se alomteenwoordige polisiediens heet “sentinels” (op Afrikaans: brandwagte). Dís die tipe kanarie wat tradisioneel in mynskagte afgelanseer is om te peil of daar asem dáár te kry is. Adam en Sybille se dogter, wat ’n kwarteeu terug as 14-jarige soos Proserpina die niet in verdwyn het, heet Jemima, wat op Arabies “klein duifie” beteken.

Selfs met die derde leesslag lewer In ’n land sonder voëls tergende knope op. Dis tegelykertyd baie dinge: ’n teer liefdesverhaal; ’n eko- en politieke skelskrif oor die wêreld se skynbaar onkeerbare vernietigingsgang; ’n besinning oor getrouheid en verraad, oudword en die dood.

Enduit is dit ’n meesterlike en uiters vindingryke verbeeldingsvlug wat met ’n es deur die toekoms die nou bepieker.

Dit verg van die leser ’n dapperheid wat wel heerlik beloon word. Met nuwe oë en ore.

Selfs die hadida se gekrys klink nou na ’n engelekoor.

  • Jean Meiring is ’n Johannesburgse regsgeleerde en vryskutresensent.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.