Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Tom Gouws se ‘besigheid met die dood’
Tom Gouws

Tom Gouws (1961-2018) was ’n enigmatiese en veelsydige mens, wat as’t ware in verskillende wêrelde geleef het.

In die kort lewenskets wat hy tot die US Woordfees se Versindaba 2010-bundel bygedra het, het hy homself “ ’n wiskundige, letterkundige, onderwysspesialis, skrywer, bekroonde dramaturg [ . . . ] en digter” genoem.

Hy het ook na sy werk by Elijah Africa, ’n internasionale bedieningsnetwerk, verwys.

Tot voor sy verrassende opwagting in 2010 by die US Woordfees en voorlesings op ’n glansgeleentheid in die Lanzerac, het Gouws jare lank selde sy verskyning op literêre byeenkomste gemaak.

Maar wie was Tom Gouws? Hy het al sy akademiese kwalifikasies aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (nou die Noordwes-Universiteit) verwerf, baie ywerig aan die studentelewe deelgeneem en was een van die departement Afrikaans en Nederlands se topstudente.

Die gedig van Tom Gouws wat in sy begrafnisbrief opgeneem is.

Sy MA oor Antjie Krog het glo die hoogste punt behaal wat nog aan ’n verhandeling in dié department toegeken is. Ná ’n kort tyd in die onderwys was hy verbonde aan sy alma mater se Vaaldriehoek-kampus, die universiteite van Pretoria en Bophuthatswana (tans die Mafikeng-kampus van die Noordwes-Universiteit) en die Graduate Academy of Southern Africa.

Sy administratiewe vaardighede en doseerwerk het hom gesogte poste aan tersiêre instellings laat beklee. Voor 1994 het Gouws in Mafikeng eerstehands die onrus in die land ervaar en is hy, volgens hom, “met traanrook en rubberkoeëls geskiet omdat [hy] nie sonder die studente die kampus wou verlaat nie”.

In die onstuimige tye toe dié wat teen verandering gekant was, probeer het om die voormalige tuisland te laat bly voortbestaan, het Gouws en enkele kollegas “bewoë by ’n moeë pres. Lucas Mangope gaan pleit [ . . . ] om asseblief tog nie die universiteit te sluit nie”.

Gouws het sy bekering in 1993 op ’n Leeskring-geleentheid op Welkom aan die literêre gemeenskap bekend gemaak. Waarmee hy hom alles buite die literêre bedryf besig gehou het, is nie verder as sy onmiddellike kring en geestelike bedieningsveld, huisgemeentes en -apostels bekend nie. Vir dié het hy elke Maandag “elektroniese manna” gestuur en geestelike boeke geskryf.

Die stem van die groot gesinsman en vader van ses het stilgeword. In sy klasse kon hy soos ’n wafferse lekeprediker studente meevoer.

Vroeër het hy wel in die Noorde ’n handvol jong akademici help voorberei om “bediening” in die poësie voort te sit: Jong mense wat goed in die literatuurwetenskap onderlê is, deeglik teksgerig kon lees en moeite gedoen het om met entoesiasme studente te wen.

Intussen het Gouws voortgegaan om ywerig gedigte te skryf. Sy heg gestruktureerde, intellektualistiese bundels het getuig van wye belesenheid in verskillende dissiplines en ’n voortsetting van elemente van die poetica van sy Potchefstroomse mentor, die befaamde digter en akademikus prof. T.T. Cloete.

Hy het uiteindelik altesaam vyf digbundels gepubliseer. Sy debuutbundel, Diaspora (1990), bevat heelparty gedigte uit die persoonlike sfeer en erotiese gedigte, wat baie aan Cloete se werk en werkwyse herinner. Daarna volg Troglodiet (1995), wat in okerkleurige ink gedruk is, waarin die digter oor Afrika en ’n persoonlik biologiese geskiedenis in “hierdie vreemde vasteland van donker afrika” (p. 47) skryf en met D.J. Opperman in gesprek tree. Syspoor (2002), Ligloop (2010) en Stigmata (2012) het almal sterk intertekstuele elemente getoon en bevat talle motto’s en verwysings na ander skrywers se werk.

Al die bundels getuig van Gouws se voorliefde vir die gebruik van tradisionele verstegniese hulpmiddels, wat hy in versvorme soos die ballade, sonnet en villanelle aangewend het asof hy sy vaardigheid telkens self uitdaag.

In vele opsigte was Cloete deurgaans Gouws se “vaderdigter”; ook in mindere mate Opperman, wie se bemoeienis met en verwondering oor Afrika, in sy intellektualistiese poësie met ’n dikwels religieuse wending voortgesit word (kyk byvoorbeeld Gouws se reeks van 24 gedigte oor David Livingstone in Syspoor).

Vir die literatuurhistorikus J.C. Kannemeyer was hy met sy tipiese beeldvorming en verspatroon “weinig meer as ’n Cloete-kloon”. Veral in sy vroeë werk het Gouws se gedigte duidelike beïnvloeding getoon. Die erotiese in Cloete se poësie is opmerklik deur Gouws nagevolg, terwyl hy ook die bundel Bloudruk: Erotiese verhale (1995) saamgestel en van ’n erudiete inleiding voorsien het.

Al het Gouws sedert sy bekering buite of grootliks onsigbaar vir die akademiese wêreld gestaan, kon hy nie van die betowering van die poësie wegkom nie. Gelukkig het sy digterskap ’n stygende lyn getoon en het hy vir Ligloop in 2011 die ATKV-Woordveertjie vir poësie ontvang het. Erkenning vir Gouws se werk het ook gekom toe André P. Brink 19 van sy gedigte in Groot Verseboek (2008) opgeneem het.

Gouws het voorts bekroonde dramas en radiodramas die lig laat sien en bundels essays en kortkortverhale saamgestel.

As resensent en kritikus was hy nie bang om met groot selfvertroue gedurfde evaluerings te maak wat soms teen die heersende opvattings ingegaan het nie. Sy resensies in die pers het van hooggestemde lofprysings tot totale debunking gewissel.

Gouws se doktorsgraad het oor Breyten Breytenbach, Krog en Cloete se poësie gehandel. Wanneer hy een van hulle geresenseer het, het hy met verrassende insigte vorendag gekom. Sy resensies het ongelukkig soms die kol gemis (soos dié oor Joan Hambidge) en kon oorkrities of selfs venynig wees.

Gouws se resensie van die debuutdigter Ruan Fourie se ’n Ope brief aan Dorian Gray (2017) en die betrek van ’n apokriewe opmerking deur prof. A.P. Grové het die wenkbroue laat lig; so ook die vermanende vinger na medeskrywers, wat volgens hom moreel ontaard het.

Gouws het hom in talle gedigte bemoei met bekendes wat op onnatuurlike wyse aan hul einde gekom het en as’t ware letterlik lykgedigte (soms sélf literêre lykskending?) oor hulle geskryf. Dit sluit in Mohandas Gandhi, Marilyn Monroe, Johan Heyns, Koos Prinsloo, Chris Louw, Eugène Terre’Blanche en Inge Lotz.

En, asof hy dit kon voorspel het, verklaar hy in een van sy gedigte “hier te lande doen die dood goed besigheid met digters” (Troglodiet, p. 59). Sy laaste bundel, Stigmata, het die tema van verwonding deurvors asof Gouws as gekwelde mens ’n poëtiese voorbode sou kon gehad het.

Danksy die veelkantigheid van sy bydrae as digter, akademikus en godsman verdien hy om onthou en verder krities verken te word.

* Marais is ’n letterkundige en skrywer.

Meer oor:  Tom Gouws  |  Dood  |  Digter  |  Hulde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.