Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Totsiens aan ’n ‘eiesoortige, eksentrieke boheem’
Cas van Rensburg Foto: Michael Hammond

Die joernalis, dramaturg en skrywer Cas van Rensburg is Donderdagoggend op 76-jarige ouderdom in ’n aftreeoord op Onrus naby Hermanus dood.

Van Rensburg was ook ’n skilder en kenner van die Jungiaanse sielkunde. Hy het die laaste jaar of wat met sy gesondheid gesukkel en het aan sy hart beswyk.

Die skrywer Petrovna Metelerkamp sê sy en Van Rensburg was 36 jaar lank vriende, “deur dik en dun”.

Dan kon hy so filosofeer dat ’n mens wens daar is ’n bandopnemer langs die bottel rooiwyn.

“Dik was die goeie tye, nagte op sy stoep in Hemel & See, in Vermont, onder die Suiderkruis, met die klap van branders wat breek. Dan kon hy so filosofeer dat ’n mens wens daar is ’n bandopnemer langs die bottel rooiwyn. Gelukkig is Cas se wyshede in sy talle notaboeke bewaar, heel moontlik publiseerbaar.

“Cas het groot lof gekry vir sy eerste boek, Jou drome – die onbewuste het ál die antwoorde (JL van Schaik, 2000). Daarna het ek Die prinses in elke vrou uitgegee, wat ’n resensent laat voel het ‘soos iemand wat dae lank aan die voete van ’n ghoeroe gesit het’.

“Hier bring hy prinses Diana, Sneeuwitjie en Carl Jung bymekaar in ’n boek oor “die diepste van alle waarhede: Hoe om gewoonweg mens te wees, ‘gestroop van alle waan’, en naak”.

“Die dun tye het gekom wanneer Cas die oorlogspad gekies het. Steeks en vol geite, soos net voor die verskyning van sy wonderlike boek oor die manlike psige: In elke man ’n wond – Oscar Pistorius en al die ander met seer, donker kante.

“Met die redigering halfpad deur ’n uithaler-redakteur voltooi, skop Cas skielik vas: Hy laat nie aan sy woorde verander nie. Produksie is gestaak, die vriendskap is ná onderhandeling herstel, maar die boek moet nog verskyn.

“Teen die einde, toe Cas – nog nie 77 nie – oorwoë sê hy is ‘gereed om deur die poorte te gaan’, het hy vrede gehad. Namate hy weens hartversaking verswak het, was hy rustig. Sy laaste versoek was dat ek vir hom uit die Bybel moet lees.”

Hy het die res van ons in die joernalistiek soos bleeksiele laat lyk.

Die oudjoernalis en skrywer Karin Brynard sê Van Rensburg was een van die laaste van sy soort in die joernalistiek voordat hy afgetree het.

“Deur en deur ’n ouskool-intellektueel, ongelooflik wyd en ryklik belese, verfynd en sjarmant soos ’n Engelse lord, maar terselfdertyd ’n onbekeerbare rakker en genieter van die lewe. Hy kon tegelyk die poëtiese en die absurde in die lewe raaksien.”

Brynard sê sy het twee maal onder Van Rensburg gewerk by die ou tydskrif Insig, waarvan hy ’n stigterslid en vir twee dekades lank adjunkredakteur was.

“Die lewe was nooit saai in sy omgewing nie, want hy was wispelturig – een oomblik dawerend en donderend, dan weer kinderlik opgewonde oor ’n ‘wonderskone’ stuk skryfwerk of weekgelukkig oor ’n diep-filosofiese bepeinsing in ’n artikel, en die volgende oomblik eet ons bunnychow saam met die konstruksiewerkers van die omgewing by ’n slaptjipswinkel op die hoek en geniet dit gate uit.

“Hy het die res van ons in die joernalistiek soos bleeksiele laat lyk. Hy was ’n heerlike, eiesoortige, eksentrieke boheem. Met ’n ewe mooi stem wat die volle register van sy karakter kon uitdra.”

Van Rensburg laat nie naasbestaandes agter nie, net vriende, en hulle beplan nie ’n begrafnis nie, net ’n fees van vriende, sê Metelerkamp.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.