Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Tragedie by Jan Taks geskilder

Johann van Loggerenberg se oorsig oor die aftakeling van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is belangrik en interessant, maar Nellie Brand-Jonker wonder hoeveel daarvan Jan Alleman sal verstaan.

Death and Taxes: How SARS Made Hitmen, Drug Dealers & Tax Dodgers Pay Their Dues deur Johann van Loggerenberg. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R270.

As jy die gewilde Netflix-misdaadreeks Narcos oor die gewelddadige lewe van Pablo Escobar en georganiseerde misdaad in Colombia gekyk het en dalk dink dit gebeur nie in Suid-Afrika nie, sal hierdie boek jou tot ander insigte bring.

In Death and Taxes laat Johann van Loggerenberg, ’n voormalige beampte van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), ’n mens besef watter enorme werklikheid georganiseerde misdaad in Suid-Afrika is. Soos te wagte duik die name van ’n swetterjoel berugte belastingontduikers en skelms op – van Radovan Krejcir, Brett Kebble, Glenn Agliotti en Jackie Selebi tot Calla Botha, Marietjie Prinsloo van Krion-Ponziskemafaam, en Barry Tannenbaum, wat ’n farmaseutiese Ponziskema bedryf het.

Van Loggerenberg, wat homself as ’n belastingspeurder beskryf, het in 2015 ná 16 jaar by die SAID bedank terwyl hy die hoof was van ’n eenheid wat ondersoeke na belastingontduikers gedoen het.

Death and Taxes laat ’n mens besef watter skreiende onreg die gebeure by die SAID vir alle Suid-Afrikaners was.

Die boek fokus op ’n magdom groot sake wat deur die SAID ondersoek is, byvoorbeeld Dave King wie se belastingsaak 13 jaar geduur het. Wie onthou nog vir Metcash en die BTW-eise wat hy ingedien het vir vals transaksies? Ook die ondersoek en vervolging van die sokkerbaas

Irvin Khoza vir belastingontduiking kry ’n hoofstuk. Ander name wat ’n klokkie sal lui, is dié van Billy Rautenbach wat Hyundai Motor Distributors begin het en hoe hy belasting ontduik het met invoertariewe op ingevoerde motors. Jy kan selfs meer uitvind oor hoe die SAID te werk gegaan het met oudpres. Jacob Zuma en

Julius Malema se belastingsake.

Van Loggerenberg pak elke saak hoofstuk vir hoofstuk aan, maar verduidelik ook hoe belastingwetgewing werk, die beginsel van “betaal nou, argumenteer later”, en staan ’n hele hoofstuk af aan die verskillende skelmstreke wat gebruik word om belasting te ontduik.

Dit is Van Loggerenberg se tweede boek. Sy vorige een (geskryf saam met Adrian Lackay), Rogue: The Inside Story of SARS’s Elite Crime-busting Unit (2016), het gehandel oor die gebeure wat gelei het tot sy bedanking en tot die feitlike ineenstorting van die SAID.

Ook sy nuutste boek fokus op die verhaal van hoe die SAID se belangrike rol as “belastingpolisie” verbrokkel het weens dié gebeure en die gebrekkige vermoë van ander wetstoepassers om sulke groot misdadigers te ondersoek en suksesvol te vervolg.

Death and Taxes laat ’n mens besef watter skreiende onreg die gebeure by die SAID vir alle Suid-Afrikaners was: Dit belig die rol wat dié instelling in die verlede gespeel het om groot name in die onderwêreld aan die pen te laat ry en verduidelik wie almal baat vind by die huidige aftakeling van die instelling.

Net in 2016 het amper R60 miljard Suid-Afrika onwettig verlaat en nagenoeg 9 miljoen verdagte transaksies is deur die Finansiële Intelligensiesentrum aangemeld.

“Die gemiddelde ondersoek na ’n finansiële misdaad duur 494 uur – dus sowat 62 werksdae van agt uur elk – om te voltooi tot op die vlak waar dit aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) oorhandig kan word om te besluit of daar aangekla gaan word of nie. Selfs al werk elkeen van ons staatsondersoekers ’n jaar lank elke dag 12 uur lank, sal hulle nie eens die oppervlak oopkrap van die 9 miljoen verdagte transaksies nie,” skryf hy.

Death and Taxes eindig op ’n donker noot, en hoewel dit sekerlik ’n belangrike boek met hope interessante inligting is, is dit nie maklik leesbaar nie. Almal wat ’n onderneming bedryf en belasting betaal, sal hierin belang stel, maar uiteindelik is dit komplekse leesstof wat waarskynlik verteerbaarder sal wees vir mense in die belastingbedryf.

  • Nellie Brand-Jonker is ’n sakejoernalis van Netwerk24.
Meer oor:  Johann Van Loggerenberg  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.