Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Trantraal bevestig sy reputasie as digter

Alles het niet kom wôd deur Nathan Trantraal. Uitgewer: Kwela. Prys: R200. Resensent: Louis Esterhuizen

Nathan Trantraal het in 2013 gedebuteer met Chokers en survivors, ’n bundel wat met sowel die Ingrid Jonker-prys as ’n ATKV-Woordveertjie vir poësie bekroon is. Met Alles het niet kom wôd dig Tran-traal voort op die bekende tematiek van sy debuut, maar nou is die toon meer teruggehoue, by tye selfs teer en gevul met patos.

Die sardoniese humor is steeds teenwoordig, maar word nou aangevul met ’n groter verskeidenheid verstegnieke, waaronder ironie, beeldspraak (veral die vergelyking), parallelisme en die paradoks die opvallendste is.

Trouens, Trantraal se volgehoue hantering van ironie is besonder indrukwekkend, soos dit reeds met die dubbelduiding van die bundeltitel geaktiveer word: enersyds dui die titel op die Bybelse interpretasie van alles wat “nuut” word, dog andersyds bevat dit ook die eksistensiële “niet” waarvolgens alles niks word. Hierdie ironiese spel word dan verder deur die opdrag voor in die bundel bekragtig wanneer ons lees: “Lelik is my offer / maa ek bring it met liefde”, want dit is juis dié teenstelling tussen “lelik” en “liefde” wat skering en inslag vorm van hierdie teks.

Nie net word die religieuse reeds met die openingsgedig, wat ook die titelgedig van die bundel is, geaktiveer nie, maar dit word deurlopend volgehou tot met die slotgedig. Ook illustreer die titelgedig, waarvolgens ’n Pentekostalistiese doopseremonie in die koue see beskryf word, op humoristiese wyse die hoofkenmerke van hierdie bundel, sowel ­tematies as stilisties:

Ek wietie wat met gieste gebeu

as hulle innie sea gejaag wôd ie

Ek wietie of hulle vedrink of

oppie wate float soes skruf ie

maa ek is sieke

ek het met minner dywels

deerie wate gegan

as wat ek mee ytgekom et

Telkens word die godsdienstema egter op ironiese wyse gerelativeer deur dit nie net te integreer met bepaalde maatskaplike euwels soos pornografie, dobbel en veral dwelms nie, maar dit stu voort na die slotreëls van die sluitvers “Gebed zonder end”:

Ek drai om en sê starag:

“Kykie straat se naam, Gebed zonder end”

Annemarie sê, “Ja, dis mooi

Jy moet daaroor skrywe”

in haa stem wat klink

soese tightrope tussen twie buildings

en sy stap vêder

Ek staan nog ’n bietjie en biewe

innie warm wind

en try ommie irony te vang

soes butterflies wattie

na my toe wil kommie

Inderdaad bevat hierdie bundel talle onthoubare verse, soos die onthutsende “Cash for gold” waarvolgens die honger digter probeer bepaal of die medalje wat hy by wyse van prystoekenning ontvang het, gemaak is van koper of brons, want: “Assit copper is issit ’n paa dae se kos / assit bronze is beteken it niks vi my nie” en ook die gedig wat oor die postreënboogdroom handel, “Fiction en estrangement”: “En ôs, omdat ôs lief vi Jesus / was, het ôs ôs klippe neegesit / Ammel het hystoe gegan / Hulle na hulle hyse langsie sea / ôs na ôs shacks / langs poeletjies stagnant wate / waa die gif in vegifnis / ôs ammel / siek gemaak et”.

Dit is egter met die twee verse oor sy dogtertjie wat die digter toon tot watter mate van teerheid en versvernuf hy in staat is: die gestroopte dog delikate “Jaloesiegieste” waarvolgens die persona nie van sy “lam” wil praat nie, sodat “die dywel” nie van haar kan kennis neem nie, maar veral “Die man wat ie kinnes vang” (bl. 40). Die man waarteen die persona waarsku, is hoeka die

“white man” wat haar siel sal steel “en virrie dywel offer / as nogge down payment / vi sy hemel op aarde”.

As sulks tree dié twee gedigte onverwags in gesprek met Ingrid Jonker se bekende gedig “Toemaar, die donker man”.

Ten slotte wil ek terugkeer na wat ek as die vernaamste pluspunt van hierdie bundel beskou: die afgeronde geheel wat dit maak. Een van die motto’s wat gebruik word, is ’n uitspraak deur Heinrich von Kleist: “Paradise is now shut and locked, barred by angels, so now / we must go forward, around the world and see if somehow, / somewhere, there is a back-way in.”

Nie net verskaf dié aanhaling ’n uiters belangrike sleutel tot die bundel nie, maar dit het ook direk betrekking op die omslag, waarvolgens ’n dreigende engel met ’n spies ter hand troon oor ’n weerlose monnikfiguur in swart gewaad.

Dit is dan juis hierdie paradoksale ingesteldheid wat aan die digter sy “way-back in” verskaf: enersyds sy digkuns, dog andersyds die patos – en begrip – wat hy het vir die wêreld en die mense waaroor hy skryf, want immers is sowel die hemel as die hel in ons almal teenwoordig “soes swat embroidery op swat godyne” (“Swart embroidery”).

En dit is nie altyd ’n gemaklike proses nie. Of jy daarvan hou, al dan nie: Alles het niet kom wôd bevat direkte en eerlike poësie; ontstellende gedigte wat opnuut Trantraal se reputasie as belangrike stem in die Afrikaanse digkuns bevestig.

  • Louis Esterhuizen is ’n digter en tekspraktisyn wat ook vryskuttaalversorging en -manuskripontwikkeling doen.
Meer oor:  Nathan Trantraal  |  Gedigte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.