Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Gevangenes in Australië soek Afrikaanse boeke
Deon Meyer Foto: Alet Pretorius
Die e-pos wat die misdaadskrywer Deon Meyer vanuit Australië ontvang het. Foto: Facebook

Die misdaadskrywer Deon Meyer het ’n e-pos met ’n vreemde versoek vanuit Australië ontvang: Gevangenes in tronke daar wil sy boeke lees – in Afrikaans.

Die e-pos, wat Meyer op Facebook gedeel het, is deur ene Danielle geskryf, wat by die Metropolitan Remand and Reception Centre (MRRC) buite Sydney werk. Die biblioteek van dié maksimumveiligheidstronk vir mans “sukkel om Afrikaanse boeke vir Afrikaanssprekende gevangenes te kry”.

“Ons het nie ’n begroting vir boeke nie en soek skenkings of boeke wat teen afslag te koop is sodat ons die gevangenes kan bedien,” skryf Danielle.

“Sal jy dit dalk oorweeg om van jou baie gewilde boeke aan ons te skenk? Ek gaan in September familie in Suid-Afrika besoek en kan die boeke dalk afhaal, as dit iets is wat jy sal oorweeg.”

Meyer het aan Netwerk24 gesê hy het reeds op die e-pos gereageer en vasgestel dit is “definitief eg” en nie ’n skelmstreek nie. Hy sê hoewel hy al in die verlede deur korrektiewe dienste in Suid-Afrika genader is om van sy boeke te skenk, was hierdie versoek ’n “interessante een”.

“Ek was nogal verras dat daar genoeg Afrikaanssprekendes in ’n Australiese tronk is wat boeke soek, dat hulle lees, en dat hulle Afrikaanse misdaadfiksie soek,” sê hy.

“Die groter verrassing: ’n Mens dink Suid-Afrikaners gaan soontoe en dan is die verwagting dat hulle redelik vermoënde mense is, maar dan gebeur so iets (hulle gaan tronk toe). Beslis eienaardig,” sê hy.

Ek was nogal verras dat daar genoeg Afrikaanssprekendes in ’n Australiese tronk is wat boeke soek, dat hulle lees, en dat hulle Afrikaanse misdaadfiksie soek
Deon Meyer, skrywer

Hy is egter nie verras dat gevangenes ook verknog aan sy werk en misdaadfiksie is nie.

“Dit gaan nie soseer oor my nie, maar oor misdaadfiksie in die geheel: Saam met romantiese fiksie is daar omtrent nie ’n land waar dit (misdaadfiksie) nie die gewildste van alle genres is nie,” sê hy.

Gaan hy die versoek toestaan?

“Ja, ek gaan ’n plan maak. Dit is darem vir ’n goeie doel,” sê hy laggend.

Hy het nog nie besluit watter van sy treffers en hoeveel boeke hy in September saam met Danielle na Australië gaan stuur nie.

Volgens die Australiese Statistiekeburo se jongste data, was daar in Desember verlede jaar 115 Suid-Afrikaans gebore gevangenes in Australiese tronke – 30 in Nieu-Suid-Wallis, waar die MRRC geleë is.

Die data dui nie presies aan hoeveel van dié Suid-Afrikaans gebore gevangenes Afrikaanssprekend is nie – of hoekom hulle in die tjoekie sit nie.

Meer oor:  Deon Meyer  |  Boeke  |  Misdaadfiksie  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.