Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Tuin van Digters uitgestel tot einde November

Die Tuin van Digters word steeds vanjaar in Wellington gehou, maar dit word terselfdertyd virtueel aangebied en is tot November uitgestel.

“Ons hou die regulasies dop om te kyk hoeveel mense ingevolge die staat van inperking teen daardie tyd wel byeenkomste mag bywoon,” sê Francois Lötter, feesorganiseerder en bestuurder van die Breytenbach-kultuursentrum waar die fees vanjaar die negende keer gehou word.

Die Breytenbach-kultuursentrum in Wellington.

“Ons gaan die verskillende dele van die terrein so gebruik dat ’n gesonder afstand gehandhaaf kan word.”

Hoewel dit gewoonlik in September aangebied word, duur dit vanjaar van 27 tot 29 November.

Dit word vir die volgende drie jaar in samewerking met NB-Uitgewers aangebied.

Die Dagbreek Trust is die hoofborg.

Die fees word gewoonlik in September aangebied op die naweek die naaste aan die verjaardag (16 September) van die digter Breyten Breytenbach. Hy het as skoolkind saam met sy ouers in die gebou gewoon, wat vandag die Breytenbach-kultuursentrum huisves.

Vanjaar is die tema “grendels slotte sleutels”, met verwysing na ’n versreël uit ’n gedig van N.P. van Wyk Louw wat lui: “slotreëls is altyd sleutels meer as slotte”.

Dit het in sy bundel Tristia verskyn.

“Ons wil hierdie geleentheid graag laat plaasvind,” sê Lötter. “Ons wil positief bly en nie in sak en as gaan sit nie. Ons probeer om by die omstandighede aan te pas. En daarom is hierdie versreël so gepas. Jy moet soek na daardie slot se sleutel en kyk wat jy daarmee kan doen. Die woordkeuse is ’n lekker kombinasie van Louw (wat vanjaar 50 jaar gelede dood is) en die inperking.”

Daniel Hugo Foto: Marlene Malan

Terwyl die finale program eers in Oktober bekend gemaak word, word die digter en vertaler Daniel Hugo op die fees gehuldig.

“Die dryfkrag agter die huldiging was prof. Yves T’Sjoen (hoogleraar in Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Gent) wat agter my rug met Francois gekonkel het,” sê Hugo.

“Dit het my onkant gevang, ja. Maar dit is ’n geweldige eer vir enige digter om by die Tuin van Digters gehuldig te word, daar waar Breyten Breytenbach se skeppende gees rondsweef.”

Lötter sê dit is ’n inklusiewe Afrikaanse fees.

“Daarom handel een van die gesprekke, wat ek nou al kan noem, oor die belangrikheid van Kaaps as digtaal. Afrikaans het verskillende dialekte. Jy moet by ander kan leer.”

Gesprekke word gevoer met digters van verskeie nuwe digbundels, hoofsaaklik in Afrikaans, maar spesifiek ook bundels wat in Kaaps uitgegee is.

Daar is ook ’n gesprek, “So jy dink jy is ’n digter”, wat handel oor wat egte en vals poësie is.

Die fokus op Afrikaanse digters en gedigte se vertalings in ander tale en andersom, spesifiek Nederlands en Vlaams, sowel as die blootstelling van Afrikaans aan Xhosa en omgekeerd word voortgesit.

Terselfdertyd word potensiële Afrikaanse digters uit die verskillende gemeenskappe aan nuwe idees en skeppendheid blootgestel. Hulle kry die geleentheid om hul talent op die verhoog aan te bied.

Dit is ’n uitvloeisel van twee amptelike digkuns-projekte wat deur die Breytenbach-kultuursentrum aangebied word: die Hoop-projek van jong Afrikaanse digters by die Weltevrede Sekondêre Skool in Wellington, en die digter Diana Ferrus se Mengelmoesdigters.

Die feeskunstenaars is die landskapkunstenaar Estelle Marais van Port Elizabeth, Joubert Stander van die Strand, en Sandra Hanekom van Piketberg. Die opening sal op 27 November in die galery en virtueel plaasvind.

“Die inperking het ’n moeilike tyd teweeggebring,” sê Lötter.

“Maar baie digters word gemotiveer deur iets wat nie aangenaam is nie. Die fees sal ook praat oor hoe die inperking digters en ander mense van die gemeenskap raak. Die fees gaan voort, maar die regulasies van die Covid-19-pandemie sal dit bepaal.”

• Hugo se huldiging word op 27 November net na die opening van die feesuitstalling gehou. Digters wat al gehuldig is, sluit in Breytenbach, Adam Small, Wilma Stockenström en T.T. Cloete.

Meer oor:  Francois Lötter  |  Daniel Hugo  |  Wellington  |  Tuin Van Digters  |  Boeke  |  Feeste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.