Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Tumi staan gestroop in haar boek

Tumi Morake is terug met ’n knal. Kyk maar na haar foto en vergelyk dit met die een op die omslag van haar boek.

Tumi Morake

“Dit was ’n moeilike tyd toe die foto vir die omslag van And Then Mama Said geneem is,” erken sy. “Dit was ’n tyd van groot uitdagings. Maar nou is ek terug en reg vir alles wat na my kant toe kom.”

Morake se langverwagte boek is nou op die rakke. Menige nuuskierige sal dit lees bloot om te weet wat agter die skerms in die vermaaklikheidswêreld aangaan.

“Dis nie ’n skinderboek nie,” sê sy. “Ek deel my eie ondervindings van hoe ek moes veg om te wees waar ek nou is. Ek gee die leser insig in ’n wêreld wat almal meen so sexy en glansryk is maar wat eintlik baie leliker is as wat enigiemand wil erken.

“Ek kerm en kla nie. Ek gee net so ’n effens ander perspektief op die vermaaklikheidsbedryf. Dis nie my biografie nie, net ’n versameling herinneringe uit my lewe. Ek deel gebeure wat my persoonlikheid gevorm het.

“Ek is baie gevra om my storie te vertel en toe doen ek dit deur met my ma (Tebogo Joyce Morake) se stem te praat. Ek het ook my persoonlikheid op die verhoog op haar geskoei. So eer ek die vrou wat my regtig gemaak het wie ek vandag is.”

Die omslag van die boek.

Morake is bekend as skerpskertser, aktrise, omroeper, vervaardiger en veral iemand wat nie skroom om haar sête sê nie. Sy is gewoond aan die openbare oog.

Tog erken sy dat die boek haar laat voel of sy kaal voor mense staan.

“Wanneer iets geskryf is, staan dit daar vir enigiemand om dit te interpreteer soos hy wil. Dis hoekom sosiale media vir my ook so skrikwekkend is. Dis ’n gesiglose bravado wat mense gebruik wat nie iemand in die gesig kan kyk en sê wat hulle van hom dink nie. Mense raak dinge kwyt en gee nie om hoe dit ander beïnvloed nie.”

Wanneer sy oor haar ma praat, is dit asof haar stem verander, versag: “Ek wil ’n vrou wees soos wat sy was. Sy het nie voorgegee om perfek te wees nie, maar sy was wys omdat sy uit die lewe geleer het. Sy was 20 jaar lank ’n verpleegster en die beste in haar beroep.”

Wanneer Morake haar eie beroep beskryf, sê sy sy is ’n vermaker.

“Ek weet wat ek doen en ek doen dit goed. So hou my dop. Ek is hier en gaan hier bly.”

*Die boek is uitgegee deur Penguin Random House en is nou in Exclusive Books, Bargain Books, Loot, Takealot en Reader’s Warehouse te koop.

Meer oor:  Tumi Morake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.