Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Tweede boek slaag die toets

Die omgewing, tydvak en krisisoomblikke in die Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis in Jaco Wolmarans se tweede roman, ‘Skag’, voel bekend, maar die werklike verhaalgebeure bly ’n legkaart wat die leser stukkie vir stukkie moet invul, skryf Fanie Olivier.

Jaco Wolmarans

Skag deur Jaco Wolmarans. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R310.

Jaco Wolmarans se debuutroman, Bos, het vroeg verlede jaar heelwat aandag getrek en goeie resensies ontvang. Veral opvallend was die deeglike navorsing waarop dié aksieroman steun en die wyse waarop hy die nadraai van die recce-era in ’n ander konteks uitgebeeld het.

Skag is in sekere opsigte ’n dapperder boek, waarin die handeling plaasvind gedurende die laaste twee maande van 1987, ingevou tussen ’n “Vooraf” en die “Epiloog” ’n maand ná die sending van Jos Fourie.

Die skrywer plaas die gegewe vierkant in ’n bekende omgewing met herkenbare insidente in Suid-Afrika wat die leser dwing om sy ongeloof op te skort. Voorts is die roman bevolk met ministers van bestaande portefeuljes en ’n direkteur van Nasionale Intelligensie, amper almal herkenbaar, maar met ander name.

In die groter opset is die gesprekke met en oor die gevangene Nelson Mandela en die spanning oor die geheul met die vyand totdat hy op bl. 359, die voorlaaste bladsy van die roman, sy onmiskenbare verskyning maak om Fourie en sy “vriendin” te bedank vir hul optrede: “Die geskiedenis sal jou nooit kan bedank nie.”

Wolmarans het deeglike navorsing gedoen.

Skag speel af in die wêreld van binnegevegte in die regerende Nasionale Party en die opkoms van ’n militante regse vleuel. Dis die tydgees van die Rooi Gevaar, Frelimo, Unita, Swapo, ontmoetings met die ANC-in-ballingskap. Daar is wapensanksies en wapensmokkelary, die steeds groter isolasie van Suid-Afrika, Vlakplaas, woelinge binne Krygkor en die aftakeling van die kernbomprojek.

Bekende rolspelers duik oral op: die Russiese KGB, die Amerikaanse CIA, die Britse MI5 en die Suid-Afrikaanse Nasionale Intelligensie. ’n Hoofstuk, kort soos die oorgrote meerderheid, word selfs afgestaan aan die Helderberg-vliegramp om die plasing en tydsgees van die roman presies te dateer.

As ’n mens al die verskillende internasionale veiligheidsintriges – en Wolmarans sorg dat daar gedurig verskuiwings en oënskynlike (of werklike) rugstekery plaasvind – opsy skuif, is die werklike verhaalgebeure steeds ’n legkaart wat die leser stukkie vir stukkie moet invul.

Die oppervlakkige storielyn is dat Jos Fourie, ’n knap recce wat ons in “Vooraf” in aksie leer ken het, die opdrag kry om te verseker dat ’n vrag smokkelwapens wat per skip na Walvisbaai gebring word, sy bestemming bereik. Sy dekmantel is dat hy ’n duiker is wat die vrag, wat as duikapparaat gelaai is, vergesel omdat sy werkgewer hom op so ’n goedkoop manier na Suid-Afrika wil terugbring.

Die CIA, onthuts oor die verbreking van die wapenboikot, plant self ’n agent, die oulike Ashley Ramirez, aan boord. Haar aanwesigheid as passasier word verduidelik dat sy weens ’n longtoestand nie kan vlieg nie en op pad is na Suid-Afrika om navorsing te doen by die Universiteit van Kaapstad.

Sy weet dus dat Jos haar teiken is, maar hy is onbewus daarvan dat sy daarop uit is om sy sending dop te hou en uiteindelik die wapensmokkelaars by hul aankoms te ontmasker.

Daar is egter, soos in enige goeie aksieverhaal van hierdie soort, ’n onwaarskynlike skurk: kol. Swartjan Beetge. Sy agenda is sinister, want terwyl daar ’n woeste geskarrel is om dinge te stabiliseer en planne beraam word om ’n nuwe bedeling te skep, wil hy juis destabiliseer om die ou orde te bestendig. Sy plan is om skelm die kernbomprogram te reaktiveer. As hy daarin slaag om die kerntoets uit te voer, weet hy dit sal geweldige internasionale gevolge hê.

Die toets sal plaasvind in ’n skag (vandaar die titel) wat die regering vroeër gebou het juis vir daardie doel, iewers op die plaas Vastrap in die haai Kalahari.

Die fynere intriges en die brutale geweld laat ek daar, maar vir Beetge se plan om te werk moet hy verrykte uraan in die hande kry. Dit word tussen die wapens op die skip, die Vesta, versteek en só word Jos Viviers (soos hy nou heet) onwetend betrek by ’n projek waarvan hy niks weet nie. En die skone Ashley ook nie.

Die grootste deel van die handeling speel af op die Vesta, waar Jos die silinder met uraan ontdek, maar sonder om die dubbele intrige te verstaan. Ashley, wat met die intrapslag letterlik in Jos se arms val as sy struikel, hou hom dop. En ander hou weer die skip dop.

Die vaart verloop dan ook vol avontuur met aanvalle deur Nigeriese seerowers en ’n konfrontasie met die Angolese kuswag waar Jos telkens danksy sy recce-agtergrond die vyand soos ’n wafferse James Bond en MacGyver uitoorlê.

By die Woordfees
Die topverkoper-misdaadromanskrywer Rudie van Rensburg vra op 11 Maart om 17:00 in die Boektent Jaco Wolmarans uit oor Skag. Kaartjies kos R65 by Compu­­tick­et of R85 by die deur.

Ashley help so ’n bietjie, ook om in sy arms te lê. Haar probleem is natuurlik om onbetrokke te bly, soos die CIA-base in die VSA haar gedurig vermaan. Sy is ook ’n totaal ongeloofwaardige stem vir idees rondom manlike chauvinisme en die Suid-Afrikaanse politiek.

Jos, weer, wroeg oor verhoudings, ook die heftige, eenmalige omgang met die vrou van lt. Struwig op Langebaan, waar hy gestasioneer is. Hierdie aspek van die roman is besonder teleurstellend deurgedink of ten minste verwoord, net soos Jos se omgaan met ideologie en politieke filosofie. Ek meen veral laasgenoemde is baie belangrik in ’n roman van hierdie aard, veral omdat dit die weerspieëling van ’n groot debat onder Afrikaners van daardie tyd is. Ewe onoortuigend is Wolmarans se politiek korrekte voorstelling rondom die Boesmanveewagter op Vastrap, N//arson.

Veilig in Walvisbaai hou die storie nie op nie, maar beweeg die aksie van die see deur die woestyn en duine van Namibië tot in die sandwêreld van die Kalahari. Beetge se onsmaaklike handlanger, Lucky Costa, neem intussen beheer oor en stoot die aantal lyke waarvoor hy verantwoordelik is, meedoënloos op . . .

Om die ingewikkelde internasionale spioenasie- en teenspioenasiewêrelde en die botsende partye binne die plaaslike politiek uit te lê, is hier nie nodig nie. Die leser wat daarin sou belang stel, kry genoeg geleentheid om daardie legkaart te bou en die intriges te ontrafel.

Deur sy hoofstukke kort te hou, en telkens die verspringende plek van aksie duidelik aan te dui, slaag die skrywer daarin om vaart sowel as spanning te skep, beter as in sy debuut. Ek het my bedenkinge rondom die uitbou van karakters reeds geopper, maar ek vermoed dat dit ’n “regstelling” was ná besprekings van sy debuut. Effense slordighede en mooiskrywery hier en daar is nie werklik so hinderlik nie, en word in ieder geval weggevee deur die baie stukke voortreflike beskrywing rondom aksietonele.

Soos in Bos is dit duidelik dat Wolmarans deeglike navorsing gedoen het, soos ook duidelik word deur die afdeling “Bedankings” aan die einde. Hy kry dit verder reg om deur middel van karakters as segspersone sekere tegniese dinge aan die leser as leek verstaanbaar te maak.

Skag slaag in die meeste opsigte uitstekend die gevreesde “tweedeboek-toets”. Die roman se herskepping van ’n era en enkele maande rondom krisisoomblikke in die Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis – sonder om prekerig te raak – is ongewoon en sekerlik iets waardeur baie lesers geboei sal word.

  • Fanie Olivier is ’n digter, vertaler en afgetrede akademikus.
Meer oor:  Jaco Wolmarans  |  Woordfees  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.