Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Uit die bankboewe se binnekring

Allan Heyl praat in ‘Bank Robber’ die eerste keer uit die binnekring van die berugte Stander-bankrowerbende. Dis ’n meesleurende, ongelooflike leeservaring, skryf Theunis Engelbrecht, maar Heyl kon gerus die sluier ’n aks hoër gelig het?.

Bank Robber: My Time with André Stander deur Allan Heyl. Uitgewer: Penguin. Prys: R280.

Allan Heyl is die enigste oorlewende lid van die berugte Stander-bende wat in die vroeë 1980’s Suid-Afrikaners se verbeelding aangegryp het met hulle waagmoed en onverskrokkenheid. Die ander lede – André Stander en Patrick Lee McCall – is albei doodgeskiet.

Heyl, wat in 1977 die eerste keer tronk toe gestuur is vir rooftogte by banke, het Stander en McCall daardie jaar in die Zonderwater-gevangenis leer ken. Die twee het in Augustus 1983 ontsnap en in Oktober teruggekeer om Heyl te help om ook op die vlug te slaan. Daarna volg, in net drie maande, die rooftogte by ’n aantal banke – so baie dat ’n mens nie kan glo hulle het so lank daarin geslaag om die polisie te ontwyk nie. Hulle leef in luukse in ’n huis in die spogbuurt Houghton, waar Stander verskriklik suip en hom aan gesellinne vergryp. Hulle misdade raak ál meer roekeloos en vreesloos.

Drie maande later was Heyl op pad na die Griekse eiland Hydra toe die polisie vir McCall in die huis in Houghton vastrap en hy homself doodskiet. Twee weke later word Stander deur die polisie in Florida in die VSA doodgeskiet. Heyl vlug na Engeland, waar hy ook ’n aantal banke beroof. Hy word nege jaar tronkstraf opgelê, waarvan hy vyf jaar uitdien voordat hy in 1991 aan Suid-Afrika uitgelewer word.

In 1993 word hy 18 jaar tronkstraf opgelê vir die rooftogte saam met Stander, plus die oorspronklike vonnis van 15 jaar voor hy uit Zonderwater ontsnap het. Toe hy op 18 Mei 2005 op parool vrygelaat is, was hy 54 jaar oud, waarvan hy 27 agter tralies was. Ná sy vrylating het Heyl ’n suksesvolle loopbaan as motiveringspreker begin.

Die Stander-sage het die publiek se verbeelding so aangegryp dat daar in 2003 selfs ’n rolprent oor hulle vervaardig is. Hierin is Stander uitgebeeld as ’n anti-apartheidsheld omdat hy emosioneel geskaad is nadat hy as polisieman betrokke was by die skietdood van ’n swart betoger by ’n protesoptog teen die apartheidsregering. In sy voorwoord maak Heyl dit duidelik dié beskouing van Stander is uit die duim gesuig. Hy het hom ook heeltemal van die rolprent gedistansieer.

Heyl skryf in die voorwoord Bank Robber is ’n feitelike weergawe van wat gebeur het en nie ’n verromantiseerde een nie. Hy sê ook hy probeer nie hulle dade goedpraat nie en spreek ’n diep gevoel van skuld, vernedering en berou uit “for the way I allowed myself to hurtle down the slope of moral disintegration”.

Met dié agtergrondgegewe in gedagte is Heyl se vertelling inderdaad meevoerend. Hy skryf openhartig, dog sonder om stroperig of emosioneel te wees, oor sy ongelukkige kinder- en jeugjare as ’n introverte depressielyer met ’n minderwaardigheidskompleks en geen selfbeeld nie.

Hy vertel stap vir stap en sonder veel omhaal van woorde chronologies hoe alles in sy lewe gebeur het. Sy vertelling oor sy jare in die Zonderwater-gevangenis bly ’n mens by, en dis ook boeiend om te sien hoe hy met die verloop van tyd sy depressie hanteer.

Die hoofstukke oor die rooftogte by die banke (wat meestal slegs deur Stander en Heyl uitgevoer is, McCall was baie op die agtergrond) laat die leser met verbasing én verwondering. Die uiterse doodluiterse gemak waarmee hulle dit uitgevoer het, is letterlik ongelooflik.

Dis moeilik om te glo, maar daar is ook humor in die boek, en dit het hoofsaaklik te doen met die onbeholpenheid van die eksentrieke McCall en al sy impulsiewe, vergesogte ingewings wat dan tog ’n werklikheid geword het, soos toe die drie ’n duur seiljag in Kaapstad gekoop het.

Wat my betref, kon die boek langer gewees het as 206 bladsye. Heyl kon gerus die sluier ’n bietjie hoër gelig het oor al die jolighede in die Houghton-huis, maar hy was nie self ’n drinker en partytjiedier soos Stander nie. Meer inligting oor Stander se agtergrond en ’n fotoseksie sou ook welkom wees, maar ek vermoed Heyl wou nie ’n sensasionele aanbieding hê nie, waarvoor ’n mens hom krediet kan gee indien dit so sou wees. (Die feit dat sy boek nie soos ’n pulpfiksieroman geskryf is nie, versterk ’n mens se vermoede. Sy doel is nie om homself te verheerlik nie.)

Die boek eindig te stomp. Heyl skryf hy het hom ná 27 jaar in die tronk skielik in ’n wêreld bevind wat ingrypend verander het. Dit sou interessant wees as hy meer daaroor vertel het. ’n Mens sou ook graag meer wil lees oor sy ervarings as motiveringspreker.

Ondanks dié besware is Bank Robber ’n moeitewerd-leeservaring omdat dit die eerste keer is dat daar uit die Stander-binnekring gepraat word. Heyl verdien lof vir sy eerlikheid, en ook omdat hy sy storie sonder enige fieterjasies en verontskuldigings vertel.

  • Theunis Engelbrecht is ’n skrywer en joernalis.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.