Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Uitgewer Cecilia Britz sterf onverwags

Die uitgewer Cecilia Britz (64), wat hygliteratuur en lekkerleesfiksie in Afrikaans “weer sexy” gemaak het, is Donderdag dood.

Britz, wat aan Lapa verbonde was, was die oggend in die hospitaal vir ’n prosedure en het onverwags gesterf. Meer as dit kon nog nie bevestig word nie.

Uitgewer
Cecilia Britz Foto: Izak de Vries

Izak de Vries, skrywer en uitgewer by Lapa, beskryf haar as die doyenne van ontspanningsfiksie.

“Sy het hierdie soort literatuur weer leesbaar en sexy gemaak. Sy het dit weer na die hoofstroom gebring. Sy het geweet hoe om te vernuwe en dit steeds herkenbaar te hou.”

Izak de Vries

Britz het verlede jaar afgetree toe sy die ouderdom bereik het, maar het steeds op kontrak vir Lapa gewerk.

Sy het voorheen by Perskor gewerk, waar sy in 1993 die gevaar geloop het om haar werk te verloor toe die hoofbestuurder haar afdeling wou sluit.

Sy het drie maande gehad om die voortbestaan van haar afdeling te regverdig.

“Sy het boeke wat mooi in sekere boksies pas se gehalte opgeskerp,” sê De Vries.

“Dit het vir haar oor die aanbod gegaan. As iemand in Engels lees, wát lees hulle? Sy het die visie gehad om lekkerleesboeke te bevorder sonder om die gehalte in te boet.”

Op 1 Desember 2004 het sy voltyds by LAPA aangesluit en legendes is gebore.

Een van haar bekende suksesse was LAPA se Romanza-reeks wat in 2020 vyftien jaar oud sal wees.

De Vries benadruk die groot leemte wat haar afsterwe laat.

“Sy kon ’n manuskrip optel en dit afrond en tussen die lyne lees. Persoonlik gesproke sal ek haar humor mis. ’n Mens was eintlik nooit seker of sy skerts of ernstig is nie.”

Britz, wat ook sagtebandboeke in Afrikaans gevestig het, het onder meer Elize Parker se boeke Vlam van verrukking en Amulet uitgereik.

Elize Parker

“Sy het nooit omgegee om jou kort te vat nie,” sê Parker.

“Sy was altyd bereid om enige windmeul vir jou om te dompel. Sy wou die wêreld verander, en as skrywer kon jy dit saam met haar doen.

Sy het ook daarin belanggestel om dinge deeglik en noulettend te doen.

“Toe ons besig was met die warmer liefdesromans in 1994, was dit weer eens op navorsing gegrond. En toe ons die resep vir die bielieromans, die mega-romans in 1996, aanpas, was daar weer navorsing.”

Cecilia het haar besluite en werk altyd op navorsing gegrond, ook wat die resep van ’n boek of die omslae betref.

“Dit was Cecilia. Sy was altyd bereid om vorentoe te gaan. Flegmaties. En ook om mense op ’n persoonlike vlak te ontmoet.”

Jeanette FerreiraFoto: Jaco Marais

Britz het die skrywer Jeanette Ferreira se eerste historiese roman, Babette, uitgegee.

“Sy het my uit my veilige letterkundige toring gedwing om ’n meer gewilde roman te skryf en ek dink sy het my voete op die pad gesit,” sê Ferreira.

Haar jongste historiese roman, Bloedlelie, is ook deur Britz uitgegee.

Sy het as keurder en redigeerder ook saam met Britz gewerk, eers by Perskor en later by Lapa.

“Die mooiste wat ek van haar onthou, is haar onverbiddelike bedryfsgerigtheid. As ek ’n roman vir publikasie gekeur het en sy twyfel nog, sou sy daardie twee outsize oë vir my rol en vra: ‘Sê my net, aan wie gaan ons dit verkoop?’

“Wanneer iemand ’n vername mens se werk aan haar wou verkoop, was haar reaksie: ‘Lekker. Kan hy skryf?’ ”

Ferreira werk tans aan ’n roman waarvoor Britz gevra het.

“Ek het reeds ver daarmee gevorder, maar nou voel dit vir my asof ek haar moet laat weet: Hei, waar’s jy?”

Die titel is Aan die soet Letaba.

Ferreira weet sy is nie die enigste skrywer wat Britz se dood betreur nie.

“Cecilia kon jou oë oopmaak vir iets wat onder jou neus lê wat jy nie benut het nie. En natuurlik vir iets waarmee jy die draai ver te wyd gevat het.”

Meer oor:  Elize Parker  |  Boeke  |  Lapa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.