Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Uitgewer soek jóú biegstorie vir ‘Biegboek’

Suid-Afrikaners wat iets op die hart het, maar te skaam is om dit met enigiemand te deel, het nou die kans om anoniem ’n bydrae tot Wenkbrou, ’n druknaam van Lapa-uitgewers, se Biegboek: Ware geheime onthul te maak.

Jou geheim kan dalk anoniem in Wenkbrou se ‘Biegboek: Ware geheime onthul’ opgeneem word.

“Psst … Het jy ’n geheim?” lui ’n mediaverklaring. “ ’n Sondige plesiertjie? ’n Donker fantasie? Hou jy meer van jou troeteldier as jou eggenoot? Het jy ’n lelike flater begaan of jou onbehoorlik vergryp aan iets? Skandalig groot of humoristies klein, ons lees graag jou biegstorie.”

Madri Victor, fiksieuitgewer by Lapa, vertel aan Netwerk24 die idee vir die boek het onder meer begin met gesprekke oor Wenkbrou as druknaam.

“Wat laat deesdae nog mense se wenkbroue lig? Wat is vreemd of anders? Hoe vernuwe jy boeke as daar baie min dinge is wat ongeskrewe of onaanvaarbaar is? Moet jy die klem plaas op inhoud of vorm?

“Wat van ’n boek sonder ’n outeur? Wat van ’n boek met baie outeurs wat almal naamloos is? Wat van ’n boek met baie stories deur naamlose outeurs wat wys hoe vreemd en anders, maar terselfdertyd herkenbaar en dieselfde ons as mense is?

“Uiteindelik hoop ek Biegboek gee vir mense genotvolle, vreemde fantasieë wat sommige wenkbroue sal lig – maar ook bevestig dat dinge soos vrees, begeerte, skuldgevoel en hunkering universele gevoelens is.”

Die eindproduk sal ’n versameling anonieme biegstories bevat, wat op 1 Junie as ’n e-boek gepubliseer sal word, mits Victor en haar span genoeg bydraes voor 30 April ontvang. Indien daar ’n aanvraag daarvoor is, sal die boek ook later in die jaar gedruk word.

Sy sê mense het vrye teuels om te bieg net waaroor hulle wil – wat beteken dat die boek ook dalk eindelik met ’n ouderdomsbeperking uitgegee kan word.

“Wenkbrou plaas nie perke op wat mense mag instuur nie, maar ons gaan nie noodwendig alle biegstories publiseer nie,” sê sy.

Biegstories kan op twee maniere ingedien word: Besoek die webblad https://bit.ly/2RlCVcI of skandeer dié QR-kode met ’n app op jou slimfoon.

“Oor die ouderdomsbeperking sal Wenkbrou besluit sodra ons die biegstories begin lees – ons weet self nie regtig watter tipe stories om te verwag nie. Ons hoop om uiteenlopende verhale bymekaar te maak wat uiteindelik die menslikheid, waagmoed, durf en weerloosheid van ons samelewing weerspieël.”

Biegstories van hoogstens sowat 600 woorde kan anoniem op die webblad https://bit.ly/2RlCVcI of deur die QR-kode (hiernaas) ingedien word. Skrywers, wat ouer as 18 moet wees, word nie vir hul naam of kontakbesonderhede gevra nie, wat beteken dat hulle nie sal weet of hul storie in die boek opgeneem is tot die boek uitgegee word nie.

Skrywers moet ook daarop let dat hulle nié tantième of vergoeding sal kry indien hul biegstories gepubliseer word nie. Bydraes moet skrywers se eie wees – en hulle mag nie ander se intellektuele eiendom gebruik of geheime uitlap wat nie hul eie is nie.

Besoek https://wenkbrou.co.za/bieg/ vir meer inligting.

Meer oor:  Lapa-Uitgewers  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.