Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Uitgewer Stephen Johnson sterf
Stephen Johnson

Stephen Johnson, ouduitgewer en voormalige besturende direkteur van Exclusive Books, het Maandag sy eie lewe geneem.

Johnson (66), wat in Groenpunt, Kaapstad, gewoon het, was vir meer as 40 jaar in die uitgewersbedryf en het boeke deur George Bizos, Antjie Krog, Ivan Vladislavic, David Goldblatt en André P. Brink uitgegee.

Hy was ook die stigters- besturende direkteur van Random House Struik.

Die boekhandelaar Leonie van Rensburg van Graffiti in Pretoria onthou hom as ’n mentor en vriend van 30 jaar.

“Hy was my baas en het my aangestel by Exclusive Books Sunnypark. Ons twee het Suid-Afrika se heel eerste Book Fair in Sunnypark gehou. Met sy aanmoediging en hulp het ek 14 jaar gelede Graffiti begin. Hy het my ongelooflik ondersteun en ek sal hom altyd dankbaar wees. Sedert my Sunnypark-dae het hy my altyd as Mevrou Johnson aangespreek, na aanleiding van ’n voorval by ’n ander boekwinkel, waar die assistent na my verwys het as sy vrou. Stephen laat ’n groot leemte in soveel mense se lewe. Ek gaan hom mis.”

Hettie Scholtz

Hettie Scholtz, sameroeper van die kykNET-Rapport-pryse, het verwys na die duisende boeke en talle loopbane waarvoor hy “met sorg en die oortuiging dat boeke lewe kan verander” verantwoordelik was.

Sy sal altyd sy uitdrukking by boekbekendstellings onthou: “Bless this book and all who sail in her!”

Nicol het Dinsdag op sy Facebook-blad oor Johnson geskryf.

“Daar is boeke wat ek nie sou geskryf het as dit nie vir Stephen was nie. Boeke wat ek nie sou geredigeer het nie. Ons mag miskien aanvanklik nie oor my eerste misdaadroman, Payback, saamgestem het nie, maar daarna was hy ’n stoere ondersteuner.”

Toe Johnson in 2012 as stigters- besturende direkteur van Random House Struik afgetree het, het hy dié reël van E.M. Foster in Howard’s End aangehaal: “Only connect the prose and the passion and both will be exalted”.

Hoewel hy afgetree het, het hy by baie ander instellings betrokke geraak.

Johnson was meer as een keer die uitgewer Frederik de Jager se baas, eers by Random House en later by Penguin.

Toe Johnson in 2014 as uitvoerende hoof by Penguin die tuig neergelê het, het De Jager hom as die laaste van die “gentleman publishers” beskryf.

“Ek het dit al oor ander hoor sê, maar roeriewaar, Stephen is die laaste, allerlaaste een van die gentleman publishers. Hulle word nie meer gemaak nie. Die wêreld word geregeer deur telraamkabouters en tegnokrate. Spreadsheets but no spreading wings. En wat Stephen meer as enigiets anders die droombaas maak, het met vlerke te doen: Hy laat jou oopmaak en opstyg, en blaas al die pad wind onder jou vlerke.”

Antjie Krog

Krog het met sy formele aftrede in 2012 na Johnson se “uitstekende literêre intuïsie” verwys.

“Hy is ’n skrywer se droom: Hy is so kreatief soos jyself, hy dink aan moontlikhede wat nooit eens by jou opgekom het nie. Hy is ’n oordeelkundige manuskrip leser en hy kan baie gou sê of ’n manuskrip werk of nie.”

Krog het verwys na ’n vrou wat haar eendag op die lughawe in Kaapstad voorgekeer het.

“Sy het gesê: ‘sal jy asseblief aan die mense wat Country of my Skull (haar boek oor die Waarheids-en-versoeningskommissie) gemaak het, sê dat dit mooiste boek is wat ek nog in my hande gehou het? Ek gee dit nie aan mense om dit te lees nie, maar om dit vas te hou’.” Volgens Krog het dit gebeur danksy die “A-span” wat Johnson gekies het om haar eerste en tweede boek (A Change of Tongue) te behartig.

Johnson word oorleef deur sy dogters, Audrey en Nadia.

Meer oor:  Antjie Krog  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.