Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Uitgewers wil WhatsApp-groepe vasvat wat e-boeke deel

Die Covid-19-pandemie het die plaaslike boekbedryf se aandag op boekklubs gevestig, wat tydens die staat van inperking e-boeke onwettig versprei – en die bedryf van ’n broodnodige inkomste beroof. Christiaan Boonzaier het met rolspelers oor die kwessie gesels.

WhatsApp
WhatsApp is glo ’n gewilde platform vir die onwettige deel van e-boeke. Foto: Getty Images

Die Kommissie van Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) het in ’n inligtingstuk sy stem dik gemaak oor sogenaamde “WhatsApp-boekklubs”, wat veral tydens die Covid-19-pandemie boeke onwettig op die kletsdiens versprei.

Volgens die inligtingstuk is dit een van die CIPC se doelwitte om eienaars van intellektuele eiendom in die Suid-Afrikaanse kunstebedryf – soos uitgewers en skrywers – se regte te beskerm en enigiemand wat dié regte skend, vas te vat.

Dit is ’n belangrike taak, luidens die CIPC, omdat die “kreatiewe ekonomie” in Suid-Afrika jaarliks sowat R90 miljard tot die nasionale ekonomie bydra – en enige skending van intellektuele eiendom eindelik die bedryf op sy knieë kan dwing.

“Die deel van ongemagtigde boeke op sosialemediaplatforms – meer algemeen bekend as ‘WhatsApp-boekklubs’ – is ’n misdaad,” lui die inligtingstuk.

“Jou deelname aan en die aktiewe deel van materiaal, wat deur kopiereg beskerm word, op enige sosialemediaplatform skend die eienaar van die intellektuele eiendom se regte en kan as kopieregskending beskou word.

“Dit kan lei tot strafregtelike vervolging met boetes van tot R10 000 per item of – sou jy skuldig bevind word – tronkstraf van tot tien jaar.

Dit (kopieregskending) kan lei tot strafregtelike vervolging met boetes van tot R10 000 per item of – sou jy skuldig bevind word – tronkstraf van tot tien jaar.
Die CIPC

“Let daarop dat jy verplig is om stappe te doen om enige daad of gedrag te vermy wat tot kopieregskending kan lei.”

Volgens Izak de Vries, bemarkings- en kommunikasiebestuurder by Lapa-uitgewers, maak WhatsApp-boekklubs “die bedryf ongelooflik seer” – en is die probleem eintlik weens die inperking en die sluit van boekwinkels vererger.

De Vries sê Lapa ondersoek in samewerking met die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (Pasa) én van sy lede, soos NB-uitgewers en Penguin Random House, eintlik al maande lank WhatsApp-boekklubs.

Hulle het selfs al by die Valke om raad gaan aanklop om dié “boeksindikate” stop te sit.

“ ’n Fluitjieblaser het ons van een spesifieke groep ingelig, wat ons begin volg het, en dit het ons bewus gemaak van nóg groepe – daar is eintlik ongelooflik baie,” sê hy.

“Die groep wat ons aanvanklik ondersoek het, het sowat 100 lede gehad wat net doodeenvoudig boeke gegaps en met mekaar gedeel het. Eintlik vat hulle só geld uit skrywers se beursies, en dit is ’n verskriklike klomp geld – honderdduisende rande.”

De Vries sê soortgelyke groepe bestaan ook op die klets-app Telegram, en hoewel meeste van dié groepe die boeke “vir die liefde van lees” deel, is daar ook ’n sterk vermoede dat groepe bestaan wat munt daaruit probeer slaan.

“Ons het ’n vermoede daar is ’n sindikaat wat dié ding dryf. Dit is op die oomblik nog net ’n bewering, maar ons het gehoor van groepe wat jou R150 vra om deel van die groep te word; as jy dit opdok, kan jy eat as much as you can – jy kry toegang tot oneindig baie boeke.”

Die (WhatsApp-)groep wat ons aanvanklik ondersoek het, het sowat 100 lede gehad wat net doodeenvoudig boeke gegaps en met mekaar gedeel het. Eintlik vat hulle só geld uit skrywers se beursies.
Izak de Vries, Lapa-uitgewers

Hy sê hulle probeer op die oomblik met onder meer prokureursbriewe “vriendelik” teen WhatsApp-boekklubs optree, veral omdat kopieregwetgewing mense verwar en sommige lesers nie eers bewus is daarvan dat hulle wette oortree nie.

“Ons probeer vir oortreders sê: Ons waarsku jou nou, jy is verkeerd, sluit jou groep – maar ook, dít is wat kopiereg is en dít is hoekom jy nie boeke mag steel nie. Jy mag nie ’n boek net vat en reproduseer nie. Net soos jy nie in ’n gesteelde motor mag rondry nie, mag jy nie ’n gesteelde boek versprei en lees nie.”

Hy sê hulle sal strenger optree teen mense wat nie aan die vriendelike waarskuwing gehoor gee nie, “hardegat” is, en bloot ’n nuwe groep begin nadat hulle ’n ander gesluit het.

“Ons sál teen jou optree – ons sál met die groot kanonne ingaan.”

‘E-boeke nou die bedryf se enigste lewenslyn’

Volgens Nicol Faasen, voorsitter van Pasa se komitee vir regsaangeleenthede, is dit moeilik om te kwantifiseer hoe groot die probleem is omdat dit “onder die radar” gedy.

Die probleem is ook nie heeltemal nuut nie, sê hy – by wyse van oordrywing: die kopieer en verspreiding van boeke en musiek “kom seker van die tyd toe monnike geïllumineerde tekste so swierig gekopieer en Mozart die pous se musiek afgeluister het”.

Ons het ’n vermoede daar is ’n sindikaat wat dié ding dryf.
Izak de Vries, Lapa-uitgewers

Dit is wel belangrik om nou met dringende ywer ’n stokkie daarvoor te steek, voordat ’n nuwe aanlyn generasie verkeerdelik aanneem dat enigiets op die internet gratis tot hul beskikking is, sê hy.

“Dit gaan oor die ervaring dat intellektuele eiendom gesteel word, maar vir my is die belangrikste dat daar toenemend ’n gees mag wees dat sodra iets op ’n skerm verskyn en dit uitgedruk kan word, dit gratis en verniet daar aangekom het.”

Faasen sê lesers kan fisieke harde- en sagteband boeke vir mekaar gee sonder om die gewysigde Wet op Outeursreg 98 van 1978 te oortree – maar hulle kan dit nié met e-boeke doen nie omdat wetgewing intellektuele inhoud én “die bepaalde vorm wat die uitgewer daaraan gee” beskerm.

“As jy ’n PDF van ’n e-boek het en dit vermeerder (kopieer en/of aanstuur), is dit so goed soos jy wat ’n fotokopie van ’n gedrukte boek maak, wat onwettig is.”

Marga Stoffer, uitgewersbestuurder by NB-uitgewers en voorsitter van PEN Afrikaans, benadruk ook dié punt.

“Wat mense nie besef nie, is dat as jy een e-boek per WhatsApp vir iemand aanstuur, is dit nie net daardie een boek wat ‘gesteel’ word nie, maar daardie een diefstal kan baie vinnig omgesit word in derduisende diefstalle omdat dit so maklik is om die PDF’s digitaal vir baie mense aan te stuur,” sê sy.

Stoffer sê die Covid-19-pandemie het ’n “verreikende uitwerking” op die boekbedryf, wat “tot stilstand geruk” is. Benewens ’n inkomste uit lisensiëring (danksy rolprent-, vertaal- en ander neweregte) is inkomste uit e-boeke uitgewers en skrywers se enigste lewenslyn tydens die inperking.

“Daardie verkope is nie naastenby genoeg om ons lopende koste te dek nie,” sê sy. “E-boeke se verkope is (normaalweg, voor die pandemie) ongeveer 5% tot 8% van ons totale verkope. Ons weet nie wat die persentasie sou wees as daar geen gratis (onwettige) verspreiding van e-boeke was nie – dit kan dalk effens meer wees.

“Selfs in die VSA, waar e-boekverkope ongeveer 10% van alle verkope is, kan e-boekverkope nie vergoed vir die verkope van gedrukte boeke nie. Samevattend dus: Skrywers en uitgewers wie se mark die algemene handel is, het boekwinkels nodig.”

Sy sê daar is eintlik verskeie redes hoekom die rooflees van e-boeke stopgesit moet word.

“Die eerste is dat dit gewoon verkeerd is om e-boeke onwettig te versprei. Dit is diefstal en dit is teen die wet. Klaar.

As e-boeke onwettig versprei word, beteken dit dat die uitgewer, skrywer en vryskutwerkers soos proeflesers, redigeerders en illustreerders geen inkomste uit daardie boek kry nie. As skrywers en uitgewers nie vir hulle werk betaal word nie, hou skrywers op met skryf en kan uitgewers nie voortbestaan nie.
Marga Stoffer, NB-uitgewers

“Op ’n praktiese vlak: As e-boeke onwettig versprei word, beteken dit dat die uitgewer, skrywer en vryskutwerkers soos proeflesers, redigeerders en illustreerders geen inkomste uit daardie boek kry nie. As skrywers en uitgewers nie vir hulle werk betaal word nie, hou skrywers op met skryf en kan uitgewers nie voortbestaan nie.

“In ’n klein en krimpende mark, soos die Afrikaanse mark, word niemand ryk uit die skryf en uitgee van Afrikaanse boeke nie, en dit is dus veral Afrikaanse skrywers en die uitgewers van Afrikaanse boeke wat kwesbaar is.”

Faasen sê hoewel daar baie “slim misbruikers” is wat uitgewers probeer fnuik, is daar ook “slim uitgewers en ontwikkelaars van nuwe tegnologieë soos blokkettingtegnologie”, wat die bedryf bemagtig om misbruikers uit te vang.

“Daar is nie net een manier om op te tree nie, maar ek dink ons ontwikkel nou ’n paar moontlikhede: openbare meningsvorming, persoonlike kontak, fluitjieblasers, aantreklike alternatiewe aanbiedinge deur uitgewers, nuwe sakemodelle, wetgewing, en samewerking met die departement van handel en nywerheid, die polisie en tersiêre instellings. As dit moet, kan die Valke, byvoorbeeld, die selfoondata van oortreders gebruik om ook klopjagte uit te voer.

“Maar voordat uitgewers sulke drastiese stappe doen, sal hulle liewer leesliefhebbers in hierdie tyd van inperking bystaan met aanbiedinge soos kortings en voorlesings.”

Meer oor:  Penguin Random House  |  Pasa  |  Cipc  |  Valke  |  Nb-Uitgewers  |  Lapa  |  Lapa-Uitgewers  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.