Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Uittreksel: ‘Ek maak jou vrek as ek jou weer sien!’

Lees die volledige vierde hoofstuk van Carina Diedericks-Hugo se eerste roman vir volwassenes, ‘Karaktermoord’, wat pas by Penguin verskyn het.

Carina Diedericks-Hugo Foto: Stephen Fourie

(Die uittreksel bevat woorde wat vir sommige lesers aanstootlik kan wees.)

‘Listen, Gabi, I suggest we continue this discussion in Frankfurt at the Book Fair. I know he is relatively new on the international scene, but I really do believe that Sebastiaan’s latest is going to make a strong impression on the British market. It did incredibly well in South Africa.”

Malan glimlag, swaai sy stoel om en kyk vir Tafelberg. Wynand is reg: Dit is ’n manjifieke uitsig. Hy laat die briewemes met die amberhandvatsel onderdeur en bo-oor sy vingers beweeg en luister nie veel verder wat die Londense literêre agent te sê het nie. Hy het ’n spesmaas hoe hierdie transaksie beklink gaan word. Beslis nie telefonies nie. Eerder oor ’n drankie, en dan . . . Hy swaai terug en loer op die kalender op sy skootrekenaar.

“Let’s say Wednesday evening after the dinner with the Dutch publishers? Eleven o’clock at the Hessischer Hof?”

Malan se kantoordeur vlieg oop. Hy kyk verbaas op en sit die telefoon neer sonder dat die afspraak bevestig is of dat hy haar gegroet het. Ou gewoontes. Instink wat kom van ’n dubbele lewe lei.

“Anna...”

“Malan,” verskyn Retha agter die vrou, “ek het probeer keer en gesê jy’s besig, maar . . .”

“Dankie, Retha. Ek sal hierdie . . . ek sal dit uitsorteer.” Hy kom orent, laat val die briewemes kletterend en gee ’n paar treë tot by die besoeker, terwyl Retha retireer en die deur agter haar toemaak.

Die vrou voor Malan se lang, donkerbruin hare hang los en wild oor haar skouers. Alles is swart: die noupassende broek, swart hoe¨hakskoene en langmou-chiffonbloes waardeur ’n kantbra net-net sigbaar is. Ook haar blou oë is met swart omlyn en staar kil na hom.

“Wat maak jy hier?” vra hy en kyk senuweeagtig oor haar skouer na die glasmure van sy kantoor. Dis eerder ’n ekstra gevaar as ’n troos, want wie kan dalk sien?

Sonder om haar oë van hom af te haal, trek sy ’n vel papier uit haar skouersak.

“Wat is dit hierdie?”

Malan neem die papier en bestudeer dit. Sy maagseer sis suur.

“Dit . . . dit lyk soos ’n e-pos van jou redakteur. Van Johan Roos.”

“Ek weet wie my redakteur is. Wat sê die e-pos, Malan?”

Anna se stem is diep en sag. “Wel, dit gaan oor jou roman wat jy voorgelê het vir publikasie. Dit blyk dit is afgekeur. Aldus Johan.” Hy wil dit teruggee, maar Anna klap sy hand weg en die papier veer grond toe.

“Kan jy sien hoekom ek ’n probleem het met die e-pos?”

Malan staar na Anna. Sy boordjie sit te styf om sy nek. Hy wens hy kan ten minste sy das losmaak. Wie dra in elk geval nog das? Haar skerp blik sny deur elke moontlike skans wat hy op sulke kort kennisgewing kon oprig.

“Ek sal jou help.” Sy loop om hom en gaan sit op sy stoel. Tel sy bajonet op en begin daarmee speel terwyl sy hom stip aankyk. “Daar is twee probleme. Een: Ek’t ’n e-pos van daardie kommaskuiwer gekry. Nie van die besturende direkteur wat al – sonder uitsondering – sestien jaar lank my skakel met hierdie uitgewery is nie. Nee, van sy lakei.”

Sy stoel. Tipies Anna. Verskuif die magsbalans. As ’n hartaandoening of aneurisme vir hom voorgelê het, sal dit nou ’n goeie tyd vir dit wees om aan te meld.

“En my tweede probleem: My roman is afgekeur. Afgekeur? Regtig?” Sy spring op. “Wie de hel dink Roos is hy om my werk af te keur? Weet hy wie ek is? Weet hy wat my naam vir ’n uitgewery beteken?”

“Anna, jy weet tog dat publikasie nie ’n gegewe is nie – maak nie saak hoe gevestig ’n skrywer is nie. En kom ons wees nou maar eerlik: Jy het lanklaas ’n boek gehad wat goed gedoen het. Die resensies doen jou beeld meer skade as goed en jou boeke verkoop gewoon nie. In die lig van die ekonomie en . . . en die bedreigde posisie van boeke moet ons baie versigtig wees met publikasies . . .”

Anna loop om sy lessenaar en kom staan voor hom.

“Dalk geld daardie ree¨ls en oorwegings vir ander skrywers, maar ek en jy het ’n ooreenkoms gehad. Jy het my belowe, Malan. ‘As jou roman klaar is, gee ek dit uit.’ Dit was jou woorde.”

“En dit was in ’n ander tyd, ’n ander plek. In ons albei se lewens.” Malan veg teen die versoeking om oor sy skouer te loer of iemand kyk. Hopelik hou Retha die toeskouers weg.

“Jy bedoel, jy het my genaai en in ruil daarvoor sou jy my boek uitgee. Maar toe los ek jou en nou is ons ooreenkoms van die tafel af. Is dit wat jy bedoel?”

Nou raak Malan ook kwaad en sy gesig vertrek.

“Is dit wragtag nodig om so kru te wees? Die woord waarna jy soek, is ‘verhouding’. Ons het ’n verhouding gehad. ’n Affair. Dis al. En dis verby. Al ’n geruime tyd.” Hy neem haar arm en wil haar na die deur toe stuur, maar sy ruk los en gluur hom aan.

“Ek het nie klaar gepraat nie! Dink jy ek kan nie sien wat jy probeer doen nie? Jy wil my loopbaan saboteer omdat ek die . . . ons ‘verhouding’ verbreek het. En nie een keer nie. Nee, twee keer.” Sy lag. “Broos en fragiel, jou ego en jou piel.”

Malan klem haar arm stywer vas. As hy kon, sou hy dit afdraai.

“Jy is ’n teef,” sis hy deur sy tande. “’n Stukkie wat haarself al in flarde geflenter het. Moenie dink jy het enige bedingingsmag nie. So lank as wat ek hier is, sal Blake­more & Blakemore nooit weer ink en papier op jou mors nie. En wie anders sal belangstel? Hang seker af wie jy nog genaai het, maar die feit dat jy hier is, bevestig dat jy niks is nie. Jy het gee´n bedingingsmag nie.”

Anna draai haar arm uit sy greep.

“Bedingingsmag? Ek sou sê ’n volle profiel in My Mense is ’n begin. Ek sou sê die onthulling van ’n verbode liefdesverhouding is ’n stappie verder. Ek sou sê die waarheid omtrent Adam se pa is iets waaroor almal wonder. Ek sou sê my dagboeke vir eksklusiewe publikasie in My Mense is ’n rand of twee werd. En jy weet ek teken alles in my dagboeke aan.” Sy skud haar hare oor haar skouer. “Jy’s gefok, Sinclair.”

Dit voel of ’n verblindende wit lig skielik in Malan se oe¨ skyn. Terselfdertyd kom daar ’n verlamming in sy arms en bene. Sy hande soek lomp vashouplek en hy kry ’n skouer beet, ’n gewrig. Stamp teen die skouer. Trek aan die gewrig. Kry die deur oop.

“Fokof hier uit! Ek maak jou vrek as ek jou weer sien!” Hy stoot ’n chiffonbolyf met albei hande by die deur uit. Sy stamp terug. Sy kop kap hard teen die metaalkosyn van sy deur.

“Vrek!”

Malan se fokus verskerp. Hy haal rukkend asem. Anna vlug uit die kantoor, maar nie ver van hom af nie staan drie verskrikte gesigte vir hom en kyk. Twee is in die gebou werksaam: Retha en die arme bode van die tiende verdieping. Die derde is sy vrou.

By die Woordfees
Carina Diedericks-Hugo, Joanna Trollope,  Britse topverkoperskrywer, en Sophia Kapp tree op 4 Maart om 14:00 by die ATKV Boektent met Hannelie Booyens in gesprek oor die treurige gebrek aan “kick-ass heroines” in Afrikaans.
Op 8 Maart om 14:00 gesels Diedericks-Hugo in die Adam Small-seminaarkamer met Suzanne Paxton oor Karaktermoord. Bespreek by Computicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.