Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Uittreksel: Iewers aan die grens

In ’n boks gemerk ‘Army 1975/76’ ontdek Theresa, die hoofkarakter in Marita van der Vyver se nuwe roman, ‘Grensgeval’, ’n bloedbevlekte brief wat ’n Kubaanse soldaat gedurende die Bosoorlog aan sy kind geskryf het. Hier is ’n eksklusiewe uittreksel.

Marita van der Vyver

Theresa vee oor haar oë, vat haar bril raak op die koffietafel langs haar, bekyk die foto weer om Theo te probeer herken. Dit was ’n hele paar jaar voordat sy hom as nagraadse student op Stellenbosch ontmoet het. Watter een van hierdie grynslaggende tienerseuns sou verander het in die gefolterde man wat sy liefgekry het? Dalk die maerste ou in die middel, die wilde bos swart hare, die skewe glimlag – tóé al? Ja, sy herken die kuite onder die toiingrige afgeknipte langbroek. Sy onthou hoe mooi sy bene altyd vir haar was, die lang lenige dye, die skerp knieë en gespierde kuite en dun enkels en smal Griekse voete.

Troep Theo van Velden in die somer van 1975-1976 “iewers aan die grens”.

Net, hy was toe eintlik al ver oor die grens.

In Angola mag hulle nie die bruin weermaguniforms gedra het nie, het sy eers baie later gehoor. Hulle het sulke groen “tronkklere” gedra wat aan hulle lywe gevrot het. Bata-tekkies, pleks van weermagstewels. Dog tags aan die ketting om die nek afgehaal, handelsmerke verwyder van tandepastabuisies en seep, geen persoonlike besittings wat aandui dat hulle Suid-Afrikaners is nie. Ingeval hulle gedood of gewond of gevange geneem word. Want dit was mos veronderstel om ’n geheime inval te wees. Sommige van hierdie besonderhede het sy stuk-stuk deur die jare gehoor, altyd onverwags en gewoonlik ongevraag, wanneer hy saans te veel gedrink het of snags hygend uit ’n nagmerrie wakker geskrik het.

Maar daar is soveel wat sy nooit gehoor het nie. Wat sy waarskynlik nie wóú hoor nie.

Ontmoet die skrywer

* Johannesburg: Jenny Crwys-Williams lei op Dinsdag 12 November (18:00 vir 18:30) die gesprek oor Borderline by The Royale in Jan Smuts-rylaan, Craighall Park. Kaartjies kos R100 p.p. en sluit happies en drankies in. Bespreek by  https://qkt.io/Borderline.

* Centurion: Op Woensdag 13 November (18:00 vir 18:30) by Exclusive Books in die Centurion Mall gesels Ilse Salzwedel met die skrywer. RSVP: 012 663 3204.

* Pretoria: Op Donderdag 14 November (09:00 vir 09:30) by Graffiti Boeke se Boek & Koek-gesprek by O’Galito in die Zambezi Junction is Phyllis Green die gespreksleier. Kaartjies kos R75 p.p. – RSVP by 012 548 2356 of shop@graffitibooks. co.za.

* Pretoria: Op Donderdag 14 November (18:00 vir 18:30) vra Bibi Slippers die vrae  by The Book Keeper Shop, Meerlustlaan 1 in Equestria. RSVP: info@thebookkeepershop.co.za of 083 414 4126.

Aan die einde van 1975 was sy vyftien jaar oud, in standerd sewe op ’n Bolandse dorp so ’n uur se ry van Kaapstad af. “Sorgvry” is nie die woord wat sy destyds sou gebruik het om haar lewe te beskryf nie, want haar tienerjare was die ene sorge en kwellinge. Sy was nie so maer soos sy graag wou gewees het, nie naastenby so gewild onder die ander skoolkinders soos sy gedroom het om te wees nie, en haar ouers kon nie verstaan het waarom sy ure lank in haar bedompige slaapkamer na Pink Floyd se The Dark Side of the Moon lê en luister het nie. Oor en oor. Sy het nie geweet wat sy eendag wou word nie, sy het skaars geweet wat sy wás, behalwe verward, verveeld, vervreemd.

Haar aardrykskunde-onderwyser het te veel aan haar gevat, kamtig vaderlik oor haar rug gevryf of tergend aan haar vlegsel getrek, en sy was so naïef dat sy nie eens kon uitwerk waarom dit haar ongemaklik laat voel het nie. Heimlik was sy verlief op die jong kunsonderwyser met die sielvolle donker oë en die skraal vingers, maar aangesien haar pa geweier het dat sy kuns as vak neem – hoe sou dit haar help om eendag ’n ordentlike werk te kry? – moes sy die kunsonnie maar van ver af dophou. “Stalk” sou dalk ’n beter woord gewees het. Tussen klasse het sy keer op keer “per ongeluk” in hom vasgeloop – letterlik teen hom gebots, om sy lyf teen hare te voel – asof sy blind was. Blind van kalwerliefde.

“As hy maar aan my vlegsel wou vat!” het sy giggelend teenoor Karien gebieg. “Eintlik kan hy maar aan enige deel van my lyf vat.”

Karien was die bure se dogter, ’n jaar of twee ouer en veronderstel om ’n “wilde meisie” te wees. Volgens die skinderbekke in die skool het sy “al die pad gegaan” met meer as een seun in matriek. Maar wanneer Theresa haar oor hierdie fassinerende onderwerp probeer pols het – Wat presies beteken “al die pad” nou eintlik? Hoe ver is “te ver”? Wat moet jy doen om ’n “wilde meisie” te word? – het Karien net geheimsinnig geglimlag.

En die kunsonderwyser het nooit die geringste belangstelling getoon nie. Jare later het sy gehoor hy is gay.

Aan húlle opgedra
Grensgeval en die Engelse vertaling, Borderline, word deur Penguin uitgegee en kos R280 by boekwinkels landwyd. Die boek is “ter nagedagtenis aan David Bi­shop”, Van der Vyver se eksman, wat ook die “D.B.” is aan wie Ruan Kemp vroeër vanjaar sy debuutroman, Gedeeltelik bewolk, opgedra het. Van der Vyver dra Grensgeval op “aan al die mans wat nie wou gaan nie en al die vroue wat nie kon bly nie”. ’n Resensie verskyn eersdaags op die boekeblad.

Dít was haar sorge in die somer van 1975. Haar gewig, haar voorkoms, haar gebrek aan gewildheid, haar sotlike verliefdheid, haar konserwatiewe ouers wat haar nie verstáán nie.

Alles onbenullig, weet sy vandag.

In dieselfde jaar, in dieselfde land, moes ander kinders van haar ouderdom veel groter probleme hanteer. Armoede, hongersnood, dakloosheid, ouers wat nie werk het nie, klaskamers wat nie boeke het nie, familielede wat in die tronk is, nie omdat hulle misdadigers is nie, maar omdat hulle in opstand gekom het teen die regering, omdat hulle ’n verbode byeenkoms bygewoon of ’n verbode boek gelees of ’n verbode gedagte uitgespreek het.

Van dié soort sorge het die vyftienjarige Theresa Marais net mooi niks geweet nie.

En “iewers aan die grens” het haar toekomstige minnaar en man – en duisende ander dienspligtiges soos hy – mense doodgemaak, nie slegs “terroriste” nie, maar soms ook vroue, kinders, bejaardes, babas. Oorkant die grens, in ’n ander land, het die negentienjarige troep Theo van Velden ’n groot swart gat in homself ontdek, dinge gedoen en gesien en gehoor wat hy vir die res van sy lewe nooit weer sou kon vergeet het nie. Jare lank reggekry om die gat weg te steek, bedags, in elk geval, versigtig ’n fasade opgebou om almal te flous.

Snags was dit ’n ander storie.

Tot alles uiteindelik uitmekaar geval het, helder oordag, die fasade opgeblaas soos ’n gebou wat deur ’n bom getref is. Daarna het daar nie veel van Theo van Velden oorgebly nie.

Van hierdie onvertelbare en onvoorstelbare dinge het die vyftienjarige Theresa ook niks geweet nie. Maar dit maak haar nie onskuldig nie. Dit weet sy vandag. Guilty by association.

Sy kyk skrams na ’n paar van die ander foto’s, tel een of twee op en laat hulle gou weer val, asof die papier haar vingers sal brand as sy dit ’n oomblik te lank vashou. Almal weermagkiekies. ’n Hele boks vol army memorabilia wat hy met niemand kon deel nie. Beslis nie met die vrou met wie hy getroud was nie.

In die chaos van die egskeiding het die boks in hulle eertydse huis in Tamboerskloof agtergebly. Hy het verdwyn, haar alleen gelos met haar woede en haar skuldgevoelens en ’n pak herinneringe uit ’n tydperk voordat hulle mekaar geken het. Toe sy ’n paar jaar later ’n tweede of derde keer moes trek, het sy die onbekende kartonhouer tussen haar persoonlike besittings ontdek. Army 1975/76 op die deksel geskryf, in vet swart viltpenletters, in ’n skewe handskrif wat sy onmiddellik herken het.

Maar toe was dit reeds te laat om dit vir hom terug te gee.

Sy het die boks oopgemaak, hier rondom 2000, as sy reg onthou, gesien dis gevul met vergeelde foto’s en briewe van sy ma en persoonlike papiere, en die deksel dadelik weer toegedruk. Niks met háár te doen nie. Buitendien, sy het toe nog gesukkel om die egskeiding te verwerk, haar vel het rou en blou en bloederig gevoel, daar was nog nie genoeg tyd om rowe te vorm nie.

Pandora se boks, het sy besluit, beter om dit styf toe te hou. Heel agter op die hoogste rak in ’n donker kas te druk. En voort te gaan met haar “herstelproses”.

Dit was ’n lang pad wat sy moes stap.

Sy dog dis klaar gestap, al die pad. Oplaas, in haar vyftigerjare, het sy begin verstaan wat “al die pad” beteken, en dat dit soms niks met tienerseks te doen het nie. Dis ’n pad wat jy soos ’n pelgrim aflê terwyl jy jou verliese verwerk. Die verlies van ’n huwelik en ’n lewensmaat, van ’n prentjie van persoonlike geluk wat jy gereken het jou beskore is, later ook die verlies van professionele ambisies en politieke illusies, en uiteindelik kom jy by ’n soort aanvaarding uit.

Jy het soveel minder as wat jy gehoop het jy sou hê, maar jy het nogtans genoeg om min of meer gelukkig verder te lewe. ’n Gemaklike kothuis in ’n buurt wat al hoe gevaarliker voel (maar jy sê vir jouself dis nog nie so gevaarlik soos baie ander buurte in die land nie), ’n bevredigende pos by ’n groot mediamaatskappy (al droom jy steeds soms dat jy gaan bedank en jou eie baas word, bly jy eerder veilig waar jy is; jy raak in elk geval nou te oud om sulke kanse te waag, dis beter om nog ’n paar jaar aan te hang tot jy met ’n behoorlike pensioen kan aftree), genoeg vriende saam met wie jy kan gaan fliek of uiteet of naweke iewers kan gaan stap.

Maar vanaand vermoed sy dat sy twintig jaar lank in ’n sirkel gestap het, want hier is sy dan nou weer terug waar alles begin het.

By die verinneweerde man wat sy liefgehad het, die deel van hom wat hy wou weggesteek het, die herinneringe wat hy nie met haar kon gedeel het nie, alles ingeprop in die skoenboks op haar skoot. Die enigste tasbare voorwerp wat oorbly van sy lewe vóór haar.

Theo vóór Theresa.

  • Lees by www.maritavandervyver.info/Borderline%20Blog/Border_Blog.pdf ’n blog (in Engels) wat die skrywer tydens die skryfproses gehou het. Dit kan ook as PDF-dokument van 57 bladsye afgelaai word.


Meer oor:  Marita Van Der Vyver  |  Uittreksel  |  Grensgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.