Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Uittreksel: Marita van der Vyver peins oor kombi’s en oorgange
Willem Pretorius se olieverfskildery ‘Bright Eyes’ was die inspirasie vir Marita van der Vyver se skrywe.

’n Volkleur-kunsboek met die werk van die Vrystaatse skilder Willem Pretorius, bekend om sy nostalgiese plattelandse tonele, verskyn in Oktober vanjaar. Die 50 kunswerke is toegelig met herinneringsketse of kort kortverhale deur bekende skrywers. Hier is Marita van der Vyver se bydrae oor die kunswerk “Bright Eyes”.

Marita van der Vyver
Marita van der Vyver

“Bright Eyes”

Van die belangrikste oorgangsrituele in my lewe het in ’n kombi plaasgevind. As tiener is ek amper dood in ’n kombi wat teen ’n heuwel afgerol het. Nie vreeslik lank daarna nie het ek amper my kosbare maagdelikheid in ’n ander kombi verloor. Ek is amper uit ’n universiteitskoshuis geskors omdat ek op die eerste naweekaand wat ons toegelaat is om uit te gaan in ’n branderplankryer se kombi aan die slaap geraak het en eers die volgende oggend weer by die koshuis kon insluip. Miskien moet ek eerder sê van die belangrikste dinge in my lewe het amper in ’n kombi gebeur.

G’n wonder hierdie toneel van ’n ou kombi, met ’n dakrak, iewers in ’n verlate naglandskap geparkeer, torring soveel herinneringe los nie. In die jare sewentig en tagtig, toe ek jonk en belustig was, was ’n kombi ’n baie begeerlike vervoermiddel. Selfs meisies soos ek wat nooit deur ’n windgat in ’n slap sportmotor verlei sou word nie, kon voor ’n surfer in ’n kombi swig.

Ek het ure, dae, weke deurgebring in sulke kombi’s, met die agterste sitplekke altyd uitgehaal om ’n slaapplek in te bou, en natuurlik die baie belangrike rak op die dak om die branderplanke te karwei. Sommige van die kombi’s in my jeug was dieselfde uitgewaste blou kleur as die een in Willem Pretorius se skildery, soos die lug bo die see op ’n winterdag. Ek het baie tyd gekry om die lug dop te hou, die lug en die see in alle seisoene, want ek was meestal alleen in die kombi terwyl my surfer boyfriend doer ver in die see op ’n plank dryf.

Gewoonlik was hy só ver weg dat hy vir my in die kombi net ’n onherkenbare swart spikkel tussen al die ander branderryers in hulle swart wetsuits was.

Soms het een van die swart spikkels vlugtig regop gestaan vir ’n paar oomblikke van adrenalienbelaaide aksie voordat ’n reusagtige brander oor hom breek. Ek kon nie die adrenalien voel nie, want ek was nooit seker of dit “my” spikkel is wat die groot golf ry nie.

In daardie dae het min meisies die see op planke aangedurf. Ons het ons plek geken, en ons plek was in die kombi eerder as in die see. Ons was bewonderende ondersteuners van ’n macho kultuur van lieflike jong mans met seesand in hulle deurmekaar hare en lywe wat soos skulpe gesuis het as jy met jou oor teen hul borskas lê.

Hier ry ek skielik ’n golf van nostalgie soos ek dit nooit in my jeugjare sou waag om enige regte brander te ry nie. Ek vóél die adrenalien, ek próé die soutwater, ek staan op ’n plank en gil van plesier oor ek weggekom het uit die kombi. Want terwyl ek my dae in kombi’s omgedroom het, my oë wyd oop en so helder soos die kopligte wat dié skildery sy naam gegee het, het my hele toekoms soos die see voor my uitgestrek. En ek het instinktief geweet ek sou dit nie in ’n kombi deurbring nie.

Marita van der Vyver

• Onder die bydraers tot die koffietafelboek Willem Pretorius iewers êrens tel onder andere Dana Snyman, Gert Vlok Nel, Deon Meyer, Angus Taylor, Johan Myburg, Toast Coetzer, Nathan Trantraal, Ronelda Kamfer, Deon Maas, Richard van der Westhuizen, Lochner de Kock, Coenie de Villiers, Rian van Heerden, Cas Wepener en Lien Botha. Die voorwoord is deur Andries Bezuidenhout geskryf. Daar is 50 van sy jongste werke opgeneem in die boek, elke skryfsel by die skildery is nie ’n beskrywing of tegniese ontleding van die kunswerk nie, maar eerder ’n vry assosiasie, ’n kort kortverhaal of ’n herinneringskets. Die boek word deur Protea uitgegee.

Meer oor:  Protea  |  Willem Pretorius  |  Marita Van Der Vyver
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.