Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Uittreksel: My lief

Die misdaadfiksieskrywer Karin Brynard se man, Rien van Gils, is op 27 Januarie verlede jaar in die ouderdom van 86 oorlede. ‘My lief’, ’n essay wat sy nege maande ná sy dood geskryf het, is opgeneem in ‘Wreed e´n mooi is die dood: Verhale oor verlies, hunkering en heling’, wat pas verskyn het.

Saans, wanneer ek by my ma langs gaan daar in die ouetehuis, sit sy dikwels na jou begrafnisbrief en kyk.

Dis skemer in haar vertrekkie. Sy sit mos nie ’n lig aan nie. Wag vir die “aandster” om uit te kom voordat sy bed toe gaan. Ek durf nooit sê die aandster is gewoon ’n straatlig nie. Dit sou gemeen wees, het jy altyd gemaan.

Maar daar sit sy, so in die donkerskemer, met die brief.

Soos altyd is sy bly om my te sien. Soos altyd blom sy, gaan dit goed-goed-baie-goed met haar. Sy wys my jou foto op die voorblad van die blaadjie. Jy staan onder ’n boog van pruimbloeisels in ons agtertuin. Dis laatmiddag, die nagloed van sononder op jou gesig, jou oë vol heimwee.

Mens gaan dus nêrens nie, besluit ons. Jy gaan die grond in.

“Ek praat elke dag met hom,” verklaar die moeder ingenome.

“O? En wat vertel jy alles?”

Sy glimlag skelm. “Ag, sommer ou dingetjies.”

“En hy?”

“Hy sê hy verlang na ons, maar hy’s gelukkig waar hy is. Hy praat net ’n bietjie sag, ek hoor nie mooi nie.”

Rien en Karin op hul troudag.
Rien en Karin op hul troudag.

Ek moet sluk, soos altyd.

“Is jy nou alleen?”

“Ja, Mamma.”

“Waar woon jy?”

Ek verduidelik, die duisendste keer: net hier af in die straat en dan links af tot by die rivier.

Ons geliefde boom in die parkie ager die huis.
Ons geliefde boom in die parkie ager die huis.

“Woon jy dan in die rivier?” Sy lag uitgelate vir haar grappie.

“Langs hom, skapie.”

“Hoekom kry jy nie iemand om by jou te slaap nie?”

“Ek wil nie ’n vreemde daar hê nie.”

“Woon tannie Mart dan nie by jou nie?” Sy verwys na haar ouer suster, wat nou 96 sou gewees het.

“Sy’s mos lankal oorlede, Mamma.”

“Ag.” Sy raak effe bewoë, maar bolangs, soos al haar emosies deesdae maar blyk te wees – vinnige veegsels oor haar gelaat.

Rien en Karin by ’n bekendstelling van Tuisland.
Rien en Karin by ’n bekendstelling van Tuisland.

Dan sê sy:

Langsaam word die stoele ledig

Een vir een het weggegaan

Sal die huiskring eens volmaak wees,

Een maal weer, een maal weer.

In ’n beter hemelwoning

By die Heer, by die Heer.

Ek is elke keer verbaas as sy dit opsê – die ou half-Hollandse gesang uit haar kinderjare. Sy’s 93 en kan skaars al haar kinders se name onthou, maar hierdie ou rympie hoor ek minstens twee keer tydens my daaglikse besoek.

“Ja, my ou kind, ons moet maar almal gaan,” eindig sy gewoonlik. “En ek is reg.”

Dan blink die glimlag weer: “Ek woon baie lekker hier, hoor. Ek is dankbaar. En tevrede. Maar ek is ook reg om huis toe te gaan.”

“Oukei,” sê ek.

“Bly jy nou alleen?”

“Ja, Mamma.”

“In daardie grote huis? Waar’s jou man dan?”

“Hy’s dood, Mamma.”

Sy tel jou begrafnisbrief weer op, lees die gedig agterop. Dit was een van jou lieflinggedigte, van Breyten:

Ek sal sterf en na my vader gaan

Wellington toe met lang bene

blink in die lig

waar die kamers swaar en donker is

waar sterre soos seemeeue sit op die nok

en engele vir wurms spit in die tuin...

My ma lag vir die wurms, draai weer die brief om en kyk na jou foto voorop.

“Wie’s hy nou weer?” vra sy.

“Dis my man, Mamma. Kyk, sy naam staan daar.”

Sy lyk ’n bietjie verward. Haar spierwit hare spokerig in die skemerte. Snaaks hoe sy deurskynend word, dink ek. Wasig, byna, asof sy fisiek verdof. Uitdoof. En hoe sy onder my uitglip, sagkens onder my vingers uit. Hoe sy die ankers een-een lig. Kindse onskuld oor haar gelaat. Gewillig. Sy dryf weg in ’n groot rivier, gee haarself inskiklik oor.

En ek bly op die oewer staan, hulpeloos, kyk hoe sy glimlaggend al hoe verder van my wegvloei.

Ek gaan weer huis toe. Die huis by die rivier. Waar ek alleen bly. Godsydank alleen, besef ek ineens.

Waar ek soos ’n wolf kan huil saans sonder om ’n ander te ontstel.

Ek dink aan die kontras tussen julle twee. Julle, wat my lewenshegting was, my tribe. Sy, wat talmend, gelate, vervaag en jy wat uit my arms weggeworstel is.

Here, hoe het jy nie baklei nie. Soos ’n dier. Rage, rage against the dying of the light... En ek het saam baklei. Tot aan die einde toe: vyf dae en nagte lank in daardie verdomde ICU. Jy, só vol buise en plakkers en maskers, dit was moeilik om aan jou vas te hou. Maar ons het geklou. Verbete. En desperaat bly glo ons sal dit weer maak, nog één keer weer, een keer om die hoekie skuur, betyds. En jy bons weer diékant toe, lewe toe. En ons gaan weer terug huis toe, met jou ’n bietjie broser, meer weerloos, jou skulp ’n bietjie dunner. En ek, die moederhen, meer kloekend en beskermend.

Maar ons het verloor.

Hoe stylloos is die dood. Hy pik. Fataal. En seil geruisloos weg na godweetwievolgende.

En in sy sleepsel lê daar chaos.

’n Spesialis gee jou ’n pynmiddel. Dit blyk ’n oordosis te wees. Jou organe gee in, jy glip in en uit bewusteloosheid. As jy by is, baklei jy: jy wil op en uit. Uit die bed uit, by die venster uit. Weg hier uit die doodsbed uit. Jy trek my nader, stoot my weg, klem my vas, roep uit dat ek jou moet help. Jy moet uit, jy moet hier uit.

“Help my,” roep jy oor en oor, “help my!” Jou kinders bel uit die buiteland, sukkel met visums om “nog betyds” te wees. Welmenendes kom langs, stry vir toegang tot die ICU. Die gelowiges roep gebede oor jou af, beveel God en die Heilige Gees om in te gryp. Huil. Ander kom om my te ondersteun, dra vir my tee aan by jou bed, los my af om badkamer toe te gaan, sit deur die nag en wag. En wag.

Soms slaap jy, skrik dan rukkend wakker met jou arms wat uitskiet, soos een wat agteroor tuimel. “Ek val,” roep jy. “Help my, ek val!” En dan begin dit weer: “Ek moet uit, ek moet hier uit, help my!” Dis hier dat die koue wete my tref. Dit sny soos lemme deur my buik: Ons red dit nie.

Jy weet dit ook, my lief. Stoei en woel en roep en baklei al hoe feller. Ek smeek die dokters om jou meer morfien te gee om jou trauma te verminder. “Ons speel nie God nie,” sê jou spesialis saaklik en groet. Dis sy af naweek. ’n Nuwe kom in sy plek. Hy’t sy tekkies aan, is laat vir tennis.

Jy baklei tot jy jou arms nie meer kan lig nie. Nog net jou hand gryp. Gryp na my. En los. Gryp en los. En roep. Uiteindelik kan jy nie meer beweeg nie, nie meer woorde vorm nie. Maar die roep bly in jou oë. Ek vang dit dapper op, keer my geen moment weg nie. Dis die laaste wat ek nog vir jou kan doen. Ek sit by jou, kyk terug met soveel oopheid, soveel liefde as ek kan. Deurentyd probeer ek paai en troos, die vrees en wanhoop uit jou blik verjaag.

Ek durf nie meer aan jou raak nie. Jou hele lyf het seer geword. Ek kan nog net oor jou hare vryf.

En dan, ten laaste, is die geveg verby. Jy’s in jou laaste slaap. Jy haal nog asem, maar jou suurstofvlakke is minimaal.

Jou liewe huisdokter kom langs. Sy bring ’n fles vars koffie. En troos. Lê vir my die monitors en masjiene se duistere tydings uit.

“Hy is nou breindood,” sê sy en hou my hande vas, “sy lyding is verby.”

Maar jou hart bly klop, meedoënloos. “Dis die pasaangeër,” sê sy, “ons mag dit nie afskakel nie. Dit stop eers wanneer die hartspier ingee vanweë gebrek aan suurstof.”

Godverdomme, sou jy sê.

HOE LANK HANG die skaduwee van dié dag nie al oor ons twee nie. Reg van die begin af, eintlik, oor jy soveel ouer was as ek. En oor ons gelukkig was, die 26 jaar verskil ten spyt.

Van meet af aan was dit deel van ons gesprek. “Moenie,” het jy vir my gesê toe ek jou kies, “jy word ’n jong weduwee.” Maar ek was verlief. En vir albei van ons was dit ’n tweede kans op geluk. Ons het dit gulsig aangegryp.

Maar altyd was daar die wete dat ons horison ’n bietjie anders was as dié van leeftydsporture. Altyd het jy gesê: “As alles reg loop, dan gaan ek eerste. Wie weet, dalk is dit binnekort.”

Kort ná jou sewentigste het dit jou hard begin tref. Vir die eerste keer in jou lewe is jy na ’n sielkundige, wat jou huis toe gestuur het met ’n boek: The Tibetan Book of Living and Dying.

Jy’t nie weer teruggegaan nie.

En ook nie die boek gelees nie. Maar ons het gepraat. Baie gepraat. Oor dood en doodgaan. En agterbly. Jy sou vir my artikels uit The Economist of die Financial Times aanstuur: medisinale deurbrake, nuwe teorieë oor kriogenika, doodservarings, doodsbegeleiding. En genadedood. Jy’t alles gelees oor genadedood.

Ek het ineens besef hoe lank ek al met die dood besig was. Op universiteit al my eerste boek gelees oor die skyndood – On the Edge of the Etheric, onthou ek vaagweg, was die titel. Wat ek wél helder onthou, is dat my ma die boek verbrand het. Dit was in die eerste jare ná my pa se dood, ’n wond waarvan sy nooit herstel het nie. Sy het in ’n stadium in ’n charismatiese soort waankerk beland, waar alles wat vreemd was, vernietig moes word. Saam met ’n ander lidmaat het sy byna die helfte van my boekrak in ’n reusevuur verbrand. Dít, het ek destyds besluit, is die raserny wat ontstaan wanneer ekstreme verdriet en ekstreme godsdiens mekaar ontmoet.

Die snaakse van dié verhaal is dat my ma sélf so ’n skyndood gehad het, nagenoeg agt jaar eerder. Pappa het nog geleef en sy was in haar vroeg veertigs en het aan’t bloei gegaan ná ’n histerektomie. Sy was lank in die hospitaal en het my daarvan vertel toe sy uiteindelik tuis was – die gevoel dat sy haar liggaam verlaat, die tonnel van lig wat haar intrek, die gevoel van salige vredigheid, alles. Toe ek haar later weer uitvra, het sy dit ontken. En nou, ag, nou onthou sy skaars haar naam.

Ek en jy het gewonder of die skyndoodfenomeen eg was. Is dit waarlik wat gebeur wanneer jy doodgaan?

Ons kom af op ’n dokumentêre program oor vegvlieëniers wat glo reëlmatig skyndoodervarings het. Dis klaarblyklik in toestande van ekstreme swaartekrag, soos wanneer hulle deur die klankgrens breek. Die bloed na die brein word letterlik in die liggaam teruggedruk en die vlieë­nier raak bewusteloos. Dié toestand word beskryf as G-LOC. Dan die klassieke doodservaring.

Die tonnel met die “wit lig” is volgens die program heel eenvoudig verklaarbaar: namate die brein minder suurstof kry, is daar paniekreaksies by neurone wat met jou sig te doen het. Hulle begin onwillekeurig vuur, wat die effek van lig veroorsaak. En omdat daar meer neurone in die middel van ons sigveld is, lyk dit of die lig in die middel helderder is – vandaar die tonnelvisioen. Ook stel die brein groot hoeveelhede hormone vry, soortgelyk aan opiate, wat die euforie en hallusinasies veroorsaak, die gevoel van volkome vrede en liefde.

Dít, sê ons afgehaal vir mekaar, help fokkol om te weet. Al hierdie helder, harde feite.

Ons lees ’n boek oor die geskiedenis van die heelal, trap oor ’n ander werklikheid: die dood as essensiële onderdeel van lewe. Om te lewe, moet daar dood wees. Reeds in die baarmoeder, waar miljoene selle in die fetusvuis moet sterf om vingertjies te vorm. Die uiteindelike waarheid is nog meer banaal: dit gaan glad nie oor jóú nie, maar oor jou DNS. Dis al onsterflikheid aan jou. Sodra jy jou DNS oorgedra het, is jou taak voltooi, word jy weer misbaar. Nutteloos.

Was ons bly oor hierdie nuwe insigte oor die dood? Het dit jou verlammende vrees laat bedaar?

Natuurlik nie. Dit haal net God uit die verhaal, slag die mistieke uit die draak. Maar die draak bly steeds die draak. Hy word selfs heftiger.

Ter troos begin jy Paulo Coelho lees. En André P. Brink, wat beskouend oor sy lewe en oudword skryf. Coelho bied vir jou te min. En Brink vuur jou vrees aan. Julle was portuurs. Ewe oud, albei met jonger vroue. Sy dood het jou geskok, ’n nuwe depressie ingelui. Die dokter stuur jou na ’n nuwe shrink. Maar teen die tweede sessie dank jy hom af: “Ik weet wat me schelen, man. Ik ga dood. Je kan daar niets aan doen.”

Ek lees ander boeke. Staring at the Sun: Overcoming the Terror of Death van Irvin D. Yalom. Die dood, sê hy, krap gedurig aan ’n deur hier in ons binnekamers. Saggies, skaars hoorbaar, net onder die membraan van die bewussyn. Maar hy lek uit in ons simptome en is die bron van vele van ons handelinge, ons sorge, neuroses, konflikte en keuses. Dis die wurm in die kern van ons bestaan.

Ek koop vir jou Nothing to Be Frightened Of van Julian Barnes. Maar jy skuif dit weg. Ek lees dit. Dis ’n mooi boek oor Barnes se eie vrees vir doodgaan, geskryf in sy kenmerkend elegante, intellektueel verfynde styl.

Maar die onderstroom is banaal en bar: “We live, we die, we are remembered, we are forgotten.”

Die boek het ’n onvergeetlike openingsin: “I don’t believe in God, but I miss him.”

Ons trap dit deur in ons gesprekke. Jy het grootgeword in die Rooms-Katolieke Kerk. Was ’n koorknaap as seun in jou gemeente in Amsterdam, ken steeds die ou Latynse liturgieë, luister eindelose Gregoriaanse korale, Fauré se Requiem, die Stabat Mater van Pergolesi. Ons praat oor die koestering van die bekende, die kalmte wat ritueel bring.

Daar’s soveel troos in geloof. Daar’s die belofte van ’n kontinuum, van wedersiens in my moeder se “beter hemelwoning, by die Heer, by die Heer”.

Maar ons twee is te sinies. Die lewendes kan hoogstens spekuleer. En die dooies praat nie (of hulle praat ’n bietjie sag, aldus my moeder). Want, moet jy jou kinderlik afvra, ’n siel kan tog nie praat nie. Dit benodig lug. En longe. En ’n longpyp en ’n strot en tong en tande. En blykbaar weeg die siel maar 27 gram – die gewigsverskil van jou liggaam kort voor en ná die dood. Maar dis ’n bogteorie, vertel jy my, die 27 gram is gewoon die gewig van die lug in jou longe en buik. Praat bly buite die kwessie.

Mens gaan dus nêrens nie, besluit ons. Jy gaan die grond in. Waar jy dalk weer bruikbaar word vir die aarde. So by so is ons opgemaak uit atome wat biljoene jare al bestaan, en wat voortdurend uitge­ruil en herwin word, gehersirkuleer. Ons was eens deel van plante, visse, water, klip. Ook ander mense voor ons. Nou, vir ’n kort rukkie, is ons óns, ’n kort verposing in die nimmereindigende siklus.

En die hemel dan? “Mijn hemel ist hier, nu,” sê jy. Daarvoor hoef jy nie dood te gaan nie. Dit is hier by my, by ons huis, in ons welige tuin met sy waters en sy voëls en die miere wat onder die huis deur tonnel en winters hulle eiers agter die yskas indra vir die hitte.

As jy ’n siel het, is dit hiér.

Maar wáár, hier? Hoekom kon ek dit nog nooit gewaar nie?

Ek dink aan daardie allerlaaste oomblikke in die ICU, hoe ek na jou kyk. Hoe verskriklik kyk ek nie, asof my oë alleen jou vlees kan lewend hou. Maar ek sien hoe dit jou lyf verlaat. Weg-eb. En dan, skielik, is alles anders. Jy word vreemd, hoekiger, skerper afgeëts. Bleek. Jou neus, sag gefrommel deur die ouderdom, word weer die sterk haak van jou warse aard. Maar wit. Beenwit.

Ek vat aan jou, voel die hitte onder my hande taan. Binne minute begin die bloed op plekke poel, jou skouerblaaie, die onderkante van jou ore. Here, jou ore. Ek wil keer en klou, maar iets onsigbaars rem jou weg. Onwrikbaar. Onder my uit.

Jy’s weg.

Die susters wig ’n opgerolde handdoek onder jou ken in om die doodsgaap te verbloem, skakel die masjiene af, trek die gordyne om ons toe.

Ek sit by jou. Die tyd vou toe tussen jou en my, raak heilig. Ek beskerm dit jaloers, wys almal weg wat dit wil betree. Ek hoor ’n lae, eentonige kermklank, besef verras dis ek.

Ek kam jou hare, die silwer tong van jou gladde kuif. Ek soen dit, sien my trane daarop drup. Ek praat met jou, vertel jou van die kinders, hoe ’n goeie vriend jy vir hulle was, hoe goed jy hulle staangemaak het. Sagte, slim, superbeskaafde wesens. Kind people. Ek vertel jou van jouself, hoe ’n rots jy was. En hoe bly ek met jou was en is, met jou bodemlose liefde. Ek sê dankie vir ons avonture saam, dat jy my elke dag hard kon laat lag. Van alles en almal vertel ek jou, bedank ek jou.

Ek raak aan jou, streel jou vrylik noudat jou pyn verby is. Jou wange, jou oë, jou arms, jou sagte maag. Ek kyk vir oulaas na elke bekende moesie en merkie daar, soen dit sag. Ek trek jou hospitaaljurkie mooi reg, streel oor jou knieë en voete. Jou voete.

God, hoe lief het ek jou lelike oumansvoete. Naels horingrig van ouderdom, een toontjie krom, selfs in die dood.

Die hakskene word blou. Doodsblou. Jy’s weg. Jy het tóg doodgegaan.

Maar lê nog nie in die grond nie, lief, ek kan jou nog nie loslaat nie.

TUIS VIND EK JOU nêrens nie. Gaan soek jou in die tuin, in jou lieflingplekkies waar jy laatmiddae gesit en kyk het hoe die son deur die strelitzias opvlam, die muggies op die water van die meulstroom dans. En in die hoekies van die huis, jou leesplek op die agterstoep, jou gemakstoel by die trap, waar jy gesit en luister het na jou musiek.

Ek kan jou nêrens aanvoel nie.

Ek leef soos ’n dowe, my wêreld soos ’n klankdigte vertrek. Ek hoor jou nie. Ek sit vir ure tjoepstil in jou kantoor, by jou portret en die vaas met tulpe en die lelike boksie met jou as. Jou naamplaatjie bo-op sit skeef en is gedagteloos in Engels, jou lewe saaklik gereduseer tot die strepie tussen twee datums.

Jy is dood, maar ek is die spook in die huis.

Hoe is dit moontlik? Hoe kan dit waar wees dat so ’n skitterende, volgeleefde gees so volslae uitgedoof kan word? Dis so hard, hierdie werklikheid. So ystersmaak-in-die-mond-hard, vaal-wind-in-die-bors-ellendig. Van Wyk Louw se woorde kom by my op: “mooi is die lewe en die dood is mooi”.

Kak! wil ek uitroep. Julle praat almal kak. Almal wat die dood romantiseer, wil verfraai in kitscherige aanhalings van Kahlil Gibran of die een of ander mindfulness guru.

Die dood is meedoënloos en wreed. Daar is nie troos nie. Ook nie vir die oorlewendes nie. Jy word wees.

Die tyd genees, sê iedereen. Dit word beter, kom die trooswoord. En wat presies word “beter” wonder ek. En asseblief, wyk met die vyf fases van rou van Küb­ler-Ross. Praat dan liewer van die “beter hemelwoning, by die Heer, by die Heer”.

Daaroor wíl ek fantaseer, my lief. Waar ek weer jou hande sien. En jou oë. En hoe jy my waarlik gesien het, my geanker het en my lewe agbaar gemaak het. Hoe dit my geleer het wat die liefde is: aandag, tyd, stip teenwoordige getuienis van ’n ander een se diepste wese, sy essensie.

Tussendeur soek ek jou, pak ek jou sokkielaai weer reg, stapel jou sakdoeke netjies haaks soos jy daarvan hou, stryk jou T-hemde met my hande plat. ’n Italiaanse vertaling van my boek arriveer in die pos. Soos ’n idioot wys ek dit vir jou foto by die tulpe, gaan pak dit by die res daar langs jou rekenaar.

As dit lente word, gaan pluk ek takkies van die yesterday, today, tomorrow af, sit dit in ’n glaspotjie by jou bed. Ek soen jou kussing, ruil getrou jou lakens om. Met Pase speel ek jou musiek, Bach se Johannes-passie galm deur die huis.

Ek maak nuwe rituele, vind vreemde troos in my besoeke daagliks aan my ma daar in die ouetehuis. Waar ek haar telkens weer met jou begrafnisbrief aantref. Nou al vol koffievlekke, liefderik verweerd.

“Ek weet nie mooi wie dit is nie,” glimlag sy, “maar ek praat elke dag met hom.” Sy draai dit om en lees die gedig agterop, lag vir die sterre wat wurms spit in die tuin.

“Waar woon jy nou?” vra sy.

Ek glimlag en soen haar. En bly haar ’n antwoord skuldig.

Stories oor verlies, heling

Wreed e´n mooi is die dood: Verhale oor verlies, hunkering en heling is saamgestel deur Tobie Wiese en word bemark as ’n aangrypende en soms ook humoristiese teenvoeter vir die stilte wat heers oor die dood. Dit bevat verskeie “diep persoonlike stories oor verlies en heling” deur onder andere Marita van der Vyver, Antoinette Pienaar, Valda Jansen, Dana Snyman, Heindrich Wyngaard, Kerneels Breytenbach en Wilhelm Jordaan, asook die ongepubliseerde korrespondensie tussen Karel Schoeman en Willem Landman van Dignity SA, maar daar is ook raad om die dood van geliefdes te verwerk, jou eie sterflikheid te konfronteer en ’n lys van goed wat ’n mens vir ’n sterwende moet sê en nie moet sê nie. ’n Resensie verskyn eersdaags op die boekeblad.

Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R270.

Meer oor:  Dood  |  Uittreksel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.