Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Uittreksel: 'n Wekroep vir begrip vir mense anders as ons

Sy is grootgemaak as ’n seun in ’n Joodse Johannesburgse gesin. Anastacia Tomson het nooit geweet hoeveel van haar konflik aan haar stormagtige gesinslewe en streng grootmaakjare toegeskryf moet word nie. Sy het as dokter gekwalifiseer en heelwat later eers vrede en selfaanvaarding gevind. Always Anastacia: A Transgender Life in South Africa, is ’n wekroep vir begrip vir transgender mense, geslag en identiteit. Hier is ’n uittreksel.

Moedersdag

Dag 42, 20 Mei 2015

Dit was ’n stil dag by die werk. Ek het by my lessenaar gesit, probeer om orde te skep uit die dokumente wat onvermydelik opstapel. Stapels X-straalverslae en laboratoriumverslae het beland tussen mediese joernale en promosiebrosjures vir nuwe medisyne. Ek het die tyd omgewens, die lang ure getel, en my halfhartige pogings tot netheid is af en toe deur ’n pasiënt onderbreek. Die praktyk het geen middeweg geken nie – dit was óf erg stil óf belaglik besig. Woensdae, waarop ek net halfdag gewerk het, het veral stadig verbygesleep. Dié dag was nie ’n uitsondering nie.

My foon biep. Die boodskap is van my ma, wat vra of ons griepinspuitings het. Sy was in die omgewing, en vra of dit my sal pas as sy vinnig aankom vir ’n inspuiting. Al was die middae steeds warm, het Mei-oggende en -aande ’n skerp koue gehad. Die winter was ongetwyfeld besig om sy kloue in te slaan. Ek het vinnig by Judy seker gemaak of ons wel inspuitings gehad het voordat ek my ma geantwoord het.

                                                                              ***

Dit verbaas my hoe die dinamika van ons verhouding verander het. Ek het nog altyd daarmee geworstel om ’n innige verhouding met my ma te hê. Jare se fisieke skeiding het die grondslag waarop die verhouding gebou is, geskaad. My oorlede pa het ’n diepe skuldgevoel en skaamte gevestig met enige poging om ’n band met haar te vorm. Ek is gekondisioneer om daardie skuld en skaamte te vermy, en om dit reg te kry, moes ek haar vermy.

Ek was langer as sewe jaar bevry van sy baasspelerigheid, en hy is byna net soveel jaar al oorlede. Sedertdien het ek onafhanklik geraak, maar ek het dit steeds moeilik gevind om met my ma te kommunikeer.

Om eerlik te wees het alles verander. Ek het meer as drie maande gelede my geslagsidentiteit met haar bespreek, maar sy het nog nie haar dogter self gesien nie. Ek het angstig gewag om haar te wys – dit was die onvermydelike volgende stap, een waarvoor ek lankal gereed was. Ek was seker sy sou vrese en onsekerhede hê, maar ek was net so seker dat sy rustig sou wees as sy my net eers kon sien.

Tien dae gelede was die geleentheid eindelik daar: Moedersdag, ’n dag wat die vorige jare soos ’n verpligting of werk gevoel het. Dit was ’n dag waarteen ek opgesien het, ’n herinnering aan ons stokkerige verhouding. ’n Dag van valse vrolikheid en kunsmatige praatjies.

Die naweek het ek vriende in Nelspruit besoek wat ek drie jaar laas gesien het. Ek het die Saterdagoggend vertrek met ’n oornagsak met geen enkele stuk mansklere daarin nie. Dit was dieselfde Saterdag waarop ek besluit het om heeltemal as ’n vrou buite werksverband te leef.

Die Sondagmiddag laat was ek al halfpad op pad huis toe toe ek haar bel.

“Dis Moedersdag,” het ek gesê, “en ek het jou geskenk. Dit sal lekker wees om jou te sien.”

“Is jy . . . Anastacia?” het sy huiwerig gevra.

“Ek is altyd Anastacia,” het ek geantwoord.

Ek het geweet wat sy my probeer vra het. Sy het gesukkel met die woorde, maar sy wou weet of sy die regte weergawe van myself kon verwag, die een wat sy nog nie ontmoet het nie.

“Jy weet wat ek bedoel,” het sy gesê. “Ek vra of jy . . .

. . . vroueklere aan het,” het ek haar in die rede geval en haar verlos van die vraag. “Ja, ek het dit aan. As ek nie werk nie, lyk ek nou altyd so. En ek dink jy moet daaraan gewoond raak, vroeër eerder as later.”

“Wel, ek is tuis. Kom enige tyd,” het sy geantwoord.

Die rit tussen Nelspruit en Johannesburg was lank – meer as 300 km – maar dit was rustig. Ek het die pad baie gery toe ek jare lank in Mpumalanga gewerk het. Ek het die pad drie jaar laas gery, maar kon nou elke hoek en draai onthou. Ek het soos altyd verbaas gestaar na die pragtige bergagtige landskap wat tot by die horison strek. Ek het onthou hoe klein dit my altyd laat voel het, en interessant genoeg het ek dié keer anders gevoel.

Met die snelweg agter my het ek na my ma se dorpshuis gery. Ek het ’n stel sleutels gehad en kon self die huis oopsluit. Ek het verwag sy sou in die sitkamer wag, al starend na die ingang wagtend op my koms, maar sy was op die boonste verdieping.

“Ma!” het ek geroep. “Ek is hier!”

Ek het haar voetstappe op die trappe gehoor terwyl ek op die woonvertrek se wit geteëlde vloer staan, uiters kalm.

Ek het nou jeans en ’n paar bruin kniehoogte stewels aangehad, met ’n noupassende pienk T-hemp. My lang bruin hare was los, en ek het ’n dikraamplastiekbril, ’n armband en ringe aan my vingers gedra. My naels was ’n metaalkleur denimblou geverf.

My ma het by die trappe afgestap en ek het omgeswaai om haar te groet.

Sy het ’n oomblik lank stilgestaan terwyl ek na haar stap.

“Jy is . . . lieflik,” het sy gestamel. “Pragtig.”

“Moenie so verbaas lyk nie,” het ek stil geantwoord en gelag.

“Draai om?” het sy gevra.

Ek het stadig op my hak omgedraai.

“Dit . . . pas net,” het sy gesê met trane in haar oë. “Dit pas alles net.”

“Ek weet,” het ek gefluister en haar teen my vasgedruk.

Die omhelsing was stywer as enigiets wat ek van my kinderjare kon onthou.

“Ana. Jy is my dogter. My pragtige dogter.”

Ons het in haar woonkamer gesit soos drie maande gelede toe ek haar vertel het. Maar dié keer was dit ek wat regoor haar gesit het.

Sy het byna onmiddellik die verskil in my agtergekom: nie net die klere of die grimering nie, maar alles. Sy kon sien watter geweldige las van my skouers af is. Dit het haar in trane gehad, maar trane van vreugde.

Sy is uiteindelik met haar kind verenig.

                                                                                 ***

Ek was besig met ’n pasiënt toe my ma by die spreekkamer aankom. Sy het in die wagkamer gesit totdat die pasiënt vertrek het, en het toe aan my kantoordeur geklop om my te groet.

“Kom binne,” het ek gesê.

Die deur het stadig oopgegaan, en sy het ’n oomblik lank stokstil gestaan toe sy my sien.

“Ek het jou nie herken nie,” het sy gesê.

Net ’n week en ’n half gelede het sy my ware self gesien. Sedertdien het ek ’n keer of wat by haar gaan kuier, en sy het my vier dae gelede by die feesvieringsaandete gesien.

“Ek weet,” het ek ingedagte geantwoord. “Ek het myself nie herken nie.”

  • Always Anastacia: A Transgender Life in South Africa deur Anastacia Tomson word uitgegee deur Jonathan Ball en kos R240.

Meer oor:  Anastacia Tomson  |  Transgender  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.