Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
UJ-debuutwenner broer van digter

Nadat oudregter Andries Buys, wenner van die UJ-debuutprys met sy roman Die dao van Daan van der Walt onder die skuilnaam Lodewyk G. du Plessis, vroeër sy identiteit bekend gemaak het, het hy Vrydag laat blyk die ontslape digter PW Buys is sy broer.

UJ-letterkundepryse
Andries Buys, wenner van die UJ-debuutprys vir letterkunde. Foto: Annette Ford/UJ/LanCSAL

’n Gedig oor ’n herfsblaar deur sy broer het juis die laaste brief van die hoofkarakter in die roman geïnspireer.

“In sy laaste brief skryf Daan dat hoe ouer hy word, hoe makliker huil hy. ’n Goed geskrewe sin beweeg hom tot trane. Oor ’n herfsblaar op die grond huil hy skaamteloos.”

Die dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G. du Plessis (Andries Buys).

Buys het ook sy broer se gedig voorgelees. Sy broer het hom ook dikwels geïnspireer.

Buys, wat jare in die regsberoep was, het die toekenningsgeleentheid by die Universiteit van Johannesburg (UJ), saam met sy lewensmaat, die Maleisiese regsgeleerde en internasionaal bekroonde skrywer Tan Twan Eng, bygewoon.

Met die uitreik van die roman in 2018 het mense bespiegel oor wie die skuilnaamskrywer Lodewyk G. du Plessis is.

Buys het in April sy identiteit onthul nadat die wenners van die pryse bekend gemaak is.

Hy is ook in April as die wenner van die Eugène Maraisprys deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon.

“In my 81ste lewensjaar staan ek vanaand voor u in verwondering – in verwondering oor die Afrikaanse taal. Die onmeetbare hoogtes wat die taal bereik, in die letterkunde, die digkuns, in die akademie, en die beroepswêreld. Dit sou oneerbiedig en ondankbaar teenoor die keurpaneel en die Universiteit van Johannesburg wees om nie vanaand hier te wees nie. Hoe kan ek u bedank vir die eer? Ek spartel nog.”

Volgens Buys moet ’n mens baie ondervinding van die lewe opdoen voordat jy kan hoop om dalk ’n goeie sin te skryf.

“Ek het die pad met Die dao van Daan van der Walt geloop. Ek het ophou tel hoeveel keer ek die boek oorgeskryf het. Veral daardie eerste hoofstuk, veral daardie eerste drie sinne van die eerste hoofstuk.

“Ná al die oorskrywery het ek, die debuutskrywer, myself afgevra: Is alles wat ons skryf nie maar net eggo’s van stories wat ons vroeër gehoor het en oor gedroom het nie?”

UJ-letterkundepryse
Charl-Pierre Naudé, wenner van die UJ-letterkundeprys. Foto: Annette Ford/UJ/LanCSAL

Tydens die funksie het die digter Charl-Pierre Naudé die UJ-prys vir sy roman Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey ontvang.

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé.

“Dit is vir my ’n eer om hierdie prys vir my eerste roman te ontvang, juis omdat die UJ-letterkundeprys sinoniem is met die idee van ’n werk wat miskien die potensiaal het om te verras. En dit was nog altyd vir my ’n belangrike beginsel.”

Die roman verken ewewêrelde en dit is ’n teks waarmee Naudé in die voorwoord “bieg” dat hy nie die boek geskryf het nie, en dat dit ’n teks deur ene Hermanus Verdomp is.

Naudé het die boek met die ewewêrelde as leitmotief geskryf.

“Dit is omdat die idee my juis eerstens as metafoor aangryp. Omdat ek aan min scenario’s kan dink wat in ’n neutedop meer aan die verwikkeldheid en veelvoudige aard van Suid-Afrika se samelewingslandskap herinner.

“Fiksie is dikwels ’n vorm van feitelikheid, nie die teenoorgestelde daarvan nie.

“Uiteindelik is ek meer geïnteresseerd in die implikasies van die ewewêrelde as in hierdie ondermaanse soos wat dit dag vir dag in ons manifesteer – dat elke mens in hom- of haarself baie mense ronddra.

“Nadat ek die storie geskryf het, dink ek, weet ek minder van die wêreld, maar het ek tog meer daarvan gesien. En het ek minder oortuigings, maar glo ek in meer moontlikhede, want fiksie is werklikheid. Só leer die ewewêrelde ons. As iets voorstelbaar is, bestaan dit. Iewers deur die wiel van die tyd.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.