Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Vaardige verteller oortuig

Drieklawerblaar

Christine Barkhuizen-le Roux

HUMAN & ROUSSEAU, R275

Erfgrond en erfsonde is die hooftemas van Christine Barkhuizen-le Roux se jongste roman, Drieklawerblaar.

Die drie hoofkarakters se afsonderlike stories, wat uiteindelik met mekaar verweef word, wentel almal om grond en erfenis.

Kate Jooste, ’n knap maar gefolterde verpleegster, worstel met ’n stamboom vol geheime en ellende. In ’n poging om vergifnis vir haar voorvaders se sondes te kry, gaan sy na ’n plaas in die omgewing van Barrydale in die Klein-Karoo.

Daar ontmoet sy Tinneke le Grange, ’n bot en omgesukkelde vrou wat ’n gastehuis bedryf. Gou kom Kate en die leser agter dat daar allerlei donker redes vir Tinneke se stugheid en bitterheid is.

En dan is daar Abel Marais, die ryk en ongenaakbare wildboer op die aangrensende plaas. Waar Kate vergifnis namens haar voorvaders soek, is Abel daarop uit om die onreg teen sy voorvaders te vergeld.

Elkeen van dié karakters het ’n noue en komplekse band met hul verlede wat hulle in die hede dryf en hulle dan in mekaar se lewens instuur – almal na dieselfde stuk grond toe.

Barkhuizen-le Roux verklap in die begin net genoeg van die karakters se wroegings en geheime om die leser nuuskierig te maak. Stadigaan gee sy dan meer leidrade weg. Só laai die skrywer die spanning op tot by ’n dramatiese onthulling en ontknoping.

Dit is Barkhuizen-le Roux se derde roman en sy is ’n vaardige storieverteller wat weet hoe om ryk, komplekse karakters te weef. Dit is ook Drieklawerblaar se sterk punt: Die karakters is volrond en lewensgetrou. Al drie is ouer mense wat deurleef en geskakeerd is.

Die skrywer kry dit ook baie goed reg om ’n sterk kontras te skets tussen die eenvoudige, rustige buitelewe op die plaas en die verstrengelde, stormagtige binnelewens van die karakters. Dit sorg vir lekker afwisseling in toonaard.

Plek-plek trap sy in die slaggat om haar karakters te oorverduidelik. Op bl. 153 spel Abel dit byvoorbeeld in sy eie woorde uit hoe hy ’n man is “wat ’n soeke na vergelding in hom omdra”. Dit is iets wat die leser eerder self oor Abel moes agterkom.

Die dialoog tussen die karakters wil ook nie altyd vlot nie. Dit klink dikwels of elke karakter op sy eie ’n stram monoloog voer, soos die interaksie tussen Drienie en Abraham op bl. 208, eerder as om gemaklik en natuurlik met mekaar in gesprek te tree.

Maar behalwe vir dié paar dinge wat pla, is Drieklawerblaar ’n sterk roman met stories, temas en karakters wat oortuig.

Marida Fitzpatrick is ’n skrywer en Stemme-redakteur by Netwerk24.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.