Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Van Coller dankbaar vir Afrikaanse prys in moeilike tyd
Prof. Hennie van Coller

“Dit is goeie nuus, maar terselfdertyd hartseer om hierdie prys te kry terwyl Afrikaans op vele gebiede nek omgedraai word.”

So sê prof. Hennie van Coller, wat Dinsdag saam met prof. Ina Wolfaardt-Gräbe die Jan H. Marais-prys vir hul bevordering van Afrikaans as wetenskapstaal van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gekry het.

“Dit maak ’n mens nie net moedeloos nie, maar ook bekommerd en dit ruk ’n mens tot besinning. As jy aan universiteite dink, het bastions van Afrikaans as wetenskapstaal gesneuwel en as ’n ledemaat verwyder word, kry die hele liggaam seer.

“Ek is bly en natuurlik dankbaar dat ek die taal op soveel vlakke kon aanwend en ook vir die opofferings van soveel mense oor dekades heen wat gewerk het aan die uitbou van Afrikaans se hoër funksies.

Prof. Ina Wolfaardt-Gräbe

“Tog is die prys werklik goeie nuus op ’n droë dag soos vandag.”

Wolfaardt-Gräbe is veral bly dat die prys vir literatuurwetenskap toegeken word.

“Dit is die teoretiese verdieping van enige studie van die letterkunde. Dit is ’n groot voorreg om in hierdie stadium so ’n prys te kry. Ek dink dit het te doen met my werk as redakteur van die Tydskrif vir geesteswetenskappe, maar baie van my kollegas onthou ook die werk wat ek in my vroeëre akademiese loopbaan gedoen het.

“Dis ’n groot voorreg. Jy doen jou lewe lank ’n werk waarvan jy hou – dit het my nooit onder druk laat voel nie.”

Dié prys ter waarde van R500 000 word later vanjaar op ’n funksie in Stellenbosch oorhandig.

Luidens ’n verklaring is die prys in 2015 ingestel deur drie instellings wat bestaan danksy ’n erflating van Johannes Henoch Marais (1850-1915), vooraanstaande Stellenbosser en voormalige inwoner van Kimberley, waar hy sy welvaart deur harde werk op die diamantvelde opgebou het. Hulle is Het Jan Marais Nationale Fonds, Naspers (Media 24) en die Universiteit Stellenbosch (US).

Die prys word jaarliks toegeken as erkenning vir ’n uitnemende bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op ’n hoë vlak en van ’n hoë gehalte in Afrikaans.

Albei wenners het as literatuurwetenskaplikes naam gemaak.

Van Coller, ook ’n digter, vertaler en prosaskrywer, is in 1997 deur die Universiteit van die Vrystaat (UV) vereer met ’n bevordering tot uitgelese professor.

Hy het aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) gestudeer, en doktorsgrade aan die Universiteit van Utrecht in Nederland en die Randse Afrikaanse Universiteit (nou Universiteit van Johannesburg (UJ)) verwerf.

Wolfaardt-Gräbe, wat aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys gepromoveer het, was van 1984 tot met haar aftrede in 2005 verbonde aan Unisa – eers aan die departement algemene literatuurwetenskap en later Afrikaans.

Sy is bekend om haar werk as teoretikus.

• Die keurkomitee het bestaan uit prof. Marius de Waal (voorsitter), van die US se regsfakulteit; prof. Ian Dubery, hoogleraar in biochemie aan UJ; Albert Grundlingh, emeritus professor in geskiedenis aan die US; Ena Jansen, oudhoogleraar in Suid-Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam; prof. Debra Meyer, dekaan aan die fakulteit natuurwetenskap aan UJ; en dr. Johan van Zyl, oudrektor van UP en die voormalige hoof van Sanlam. Prof. Christof Heyns, regsprofessor aan die UP, was etlike jare lank ’n lid van die komitee, maar is onlangs oorlede. Prof. Andreas van Wyk, oudrektor aan die US, is in sy plek gekoöpteer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.