Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Van Heerden-roman ’n ‘eerste weergawe van geskiedenis’

Die skrywer Etienne van Heerden se jongste roman, Die biblioteek aan die einde van die wêreld, oor studente-opstande, sosiale media en identiteitsoorloë wat onder jong mense woed, word as ’n “eerste weergawe van geskiedenis” beskryf. Hy het met AJ Opperman gesels.

Van Heerden glo elke aktuele roman het ’n probleem.

“Terwyl dit nog lyk asof jy die hede vasgevang het, het dit reeds die verlede geword.”

Die biblioteek aan die einde van die wêreld is onlangs deur Tafelberg uitgereik.

Etienne van HeerdenFoto: Izak de Vries

“ ’n First draft of history is ’n tydsdokument, dit kan gou verouder; dit is dalk so dun soos die koerant, en so vergeetlik. Dis maar die dinge waarmee ’n skrywer sit terwyl hy skrywe. Gaan mense eendag, metafories gesproke, fish and chips in hierdie bladsye toedraai?”

’n Ondeurdagte twiet, studente-opstande, ’n kruisboogskieter, #RhodesMustFall, #FeesMustFall en ’n biblioteek wat een van die karakters aan die einde van ’n grondpad in die Karoo wil oprig, is van die onderwerpe in dié boek van 634 bladsye.

Van Heerden het voor die skryf van die boek visioene van ’n Karoo-biblioteek aan die einde van ’n grondpad gesien.

Dit was nadat hy van sy bergfiets in Jonkershoek, Stellenbosch, geval het en sy ribbes beseer het.

Hy was op sy rug in die bed op kodeïen-pille toe die visioene hulle aangemeld het.

“Elke boek wat ooit oor die Karoo geskryf is – van Van Wyk Louw se gedigte en Olive Schreiner se romans tot Burchell se Travels en boeke oor wolboerdery, Boesmantekeninge of watertafels – is in daardie biblioteek versamel. Ek het van hierdie vlugte op Facebook gepos sonder om te weet waarheen die storie sal lei en toe ek daarna een aand op Shanghai se Bund voor ’n bruid in ’n bloedrooi, wapperende, blink syrok te staan kom, het die plot van die boek my te binne geskiet.”

“Jou verbeelding word ’n bedelaar. Deesdae bie aktualiteit soms sterker as die verbeelding.”

Die roman speel gedeeltelik in China af.

“Dit het als met soveel krag gekom dat my psige oorrompel is en ek kon die boek binne twee jaar ná (sy vorige roman) Die wêreld van Charlie Oeng publiseer. Dit was soos die Roof of Africa Rally.”

In die roman stuur die prokureur en Afrikaanse taalstryder Ian Brand ’n twiet voordat hy ’n vlug moet haal en die gort is gaar. Die studente-aktivis Thuli Khumalo, ’n student aan die Universiteit van Kaapstad, sit nie langs dieselfde vuur as hy nie. Sy is boonop sy gewese liefde, Elizabeth, ’n uitgewer, se sensitiwiteitsleser.

“So, jy het ’n roman soos hierdie wat as ’n polifoniese roman beskryf kan word,” sê Van Heerden.“Dis veelstemmig; dit praat met die stemme van vele botsende karakters, en hul stemme bie teen mekaar en weerspreek mekaar. Dis ’n manier van joernalistieke optekening van mense uit verskillende leefwêrelde se gedagtes en ervarings. Om by wyse van stórie ’n argument te dryf (en ek glo elke storie het in sy hart ’n argument), is natuurlik meer kompleks as om byvoorbeeld ’n meningsartikel oor ’n gegewe onderwerp in ’n koerant te skrywe. Met ’n storie moet jy tot verhaal kom met verskillende karakters se gevoelens en menings, en jy moet elke mens in jou verhaal met deernis probeer uitbeeld.”

Van Heerden waak daarteen om sy mes vir ’n karakter in te hê. Hy reken ’n skrywer moet eerder in die karakter se kop en hart klim en sy binnewêreld vir die leser oopmaak.

“Ons is in ’n land met mense uit verskillende agtergronde, verskillende verledes, verskillende verhale om te vertel. Om optekenaar daarvan te wees is die romanskrywer se terrein. Beteken dit die boek het nie uiteindelik ’n ‘sê’ nie? Allermins. Maar dis dalk ’n meer komplekse standpuntinname as wat jy in ’n meningsartikel in die koerant sal vind.”

Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden.

Van Heerden voeg onmiddellik by dat sy boek se “sê” verskillende interpretasies sal oplewer en dat sommige lesers die boek na hul eie politieke oortuigings sal wil buig.

Ian se beoogde biblioteek aan die “einde van die grondpad in die Karoo” is maar een van die biblioteke wat in die boek ter sprake kom.

“Dis ’n ideale ruimte wat hy wil skep, waar elke enkele boek wat nog oor die Karoo geskryf is, sal staan. Maar die biblioteek word iets meer. Dit stal ook oorblyfsels uit die geskiedenis uit. Dis geen veilige ruimte nie. Dis ’n biblioteek vol ongemaklike artefakte; oorblyfsels uit die verre en nabye verlede. Opponerende standpunte. Jy word gekonfronteer. Jou vel word van jou lyf gestroop.”

Biblioteke neem verskillende vorms in die storie aan.

“Die karakters, nes ons almal, word ingesuig in ’n wêreld waar sigbewaking in die besonder, maar kunsmatige intelligensie in die breë, splinternuwe probleme skep rondom identiteit. Waar word al die data oor ons geberg? In ’n groot databiblioteek! Hierdie data is mos die nuwe olie. En wie is die nuwe kolonialiseerders wat in besit van hierdie biblioteek vol data is? Die boek kyk na hierdie koloniseringsproses terwyl (en dis die tweede deel van die storie, en die tweede been van die ‘biblioteek’) studentebewegings op kampusse amok maak oor identiteit en dekolonisering. En dis hier waar ’n ánder biblioteek ter sprake kom, in hierdie deel van die storie . . .”

“Letterkunde is uiteindelik daar om jou deernis te gee vir ander mense, vir hul leefwêrelde, die drag wat hulle dra, die menings wat hulle het. Om jou gees oop te maak vir ánder mense se weerlooshede en woedes.”

Van Heerden het gedurende die twee jaar wat hy aan die boek geskryf het na verskeie kampusse in onder meer China, Zimbabwe, Italië, Nederland, Engeland en België gereis.

Hy het waargeneem hoe “intens” die identiteitsoorloë oral is waar jong mense bymekaar is.

“Soms is dit ónder die radar.”

Sy navorsing oor waarnemingskapitalisme sowel as sy werkreise na Hongkong en China was die groot navorsing wat die roman voorafgegaan het.

“Hier te lande in Suid-Afrika lees lesers die roman in die eerste plek agter die storie aan wat dit oor Suid-Afrika vertel. Die groot onmiddellikheid is vir hulle ons plaaslike identiteitsoorloë. Dis waaroor die roman se ontvangs tans veral gaan.”

Vir Van Heerden weeg dit egter swaarder dat data kosbaarder as olie is.

“Dís die groot identiteitsdebat: Die biblioteek wat gulsig opgeslurp aan ons data en dit berg; dus die kwessie van privaatheid in ’n sfeer van sigbewaking en data-oorloë. Dis asof die harde aktualiteit van Suid-Afrika soos dit in die boek uitgebeeld word, vir lesers só warm is dat hulle nie nou die groter aspek in die oë kan kyk nie.”

Van Heerden stem saam met die skrywer Philip Roth, wat opmerk: “Actuality is outdoing our talents.”

Hy haal Roth ook in sy boek aan.

“Jou verbeelding word ’n bedelaar. Deesdae bie aktualiteit soms sterker as die verbeelding.”

Fopnuus versprei vinnig en die werklikheid word vreemder as fiksie.

Tog moet letterkunde ’n leser laat vrae vra.

“Letterkunde is uiteindelik daar om jou deernis te gee vir ander mense, vir hul leefwêrelde, die drag wat hulle dra, die menings wat hulle het. Om jou gees oop te maak vir ánder mense se weerlooshede en woedes.”

* Die biblioteek aan die einde van die wêreld word deur Tafelberg uitgegee en kos R360.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.