Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Van Niekerk se ‘Sneeuslaper’ begogel jou, selfs in Engels

Fiksie

The Snow Sleeper

Marlene van Niekerk

HUMAN & ROUSSEAU, R270

In 395 kla Jerome dat sy vertaling van ’n pouslike brief gekritiseer is, aangesien hy nie alles woord vir woord vertaal het nie.

Hy daag gevolglik sy kritici uit om Homerus woord vir woord uit Grieks in Latyn oor te sit.

Insiggewend, dat van die vertaalkwessies wat hy uitlig, vandag nog geld.

Hoe moet die vertaler van literêre tekste te werk gaan?

Moet hy of sy die teks vertaal soos dit interpreteer word?

Of moet die direkte ekwivalent vir elke woord, frase en sin gevind word – met inagname van die grammatikale reëls?

In ons globale era word ook Afrikaanse tekste in Engels (of ander tale) vertaal.

Een van die jongste pogings in dié verband is Marius Swart se vertaling van Marlene van Niekerk se Die sneeuslaper (2010).

Al Van Niekerk se romans tot op hede is reeds meesterlik in Engels vertaal deur onder meer Michiel Heyns en Leon de Kock – terloops, sien iemand kans om Die vrou wat haar verkyker vergeet het en Kaar in Engels te vertaal?

Van Niekerk se onlangse twee digbundels, Gesant van die mispels en In die stille agterkamer, bevat ook die Nederlandse vertalings van die onderskeie gedigte en dit lei myns insiens tot ’n interessante wisselspel tussen die teks en sy Nederlandse variant.

Wanneer ’n mens die vertaling, The Snow Sleeper, opneem, begin jy dadelik wonder wat die vertaler gemaak het met die verse, die inheemse woorde, die Nederlandse inslag, asook die poëtiese frases wat deurgaans in die tekste voorkom.

Ook moet jy jouself afvra: lees ek die teks as synde iemand wat nie die Afrikaans ken nie, of lees ek vergelykend? Albei, sou ek sê.

Soos ek die vertaling gelees het, het ek gewonder wat maak die oorsese lesers met die tekste? Slaan hulle dit ewe hoog aan as ons? Word hulle ook meegevoer deur die mineurletterkunde met sy stamelende, stotterende taal?

Die fyn waarnemingsproblematiek van “by sy oë uit, by jóúne in”? Staar die Brit eweneens dof­oog in die lewerikspieël en word gesjarmeer deur die intratekstuele spel?

Wat Marius Swart se vertaling betref, hou hy getrou by die oorspronklike teks en poog hy om ekwivalente (as mens nou dié gewraakte term moet gebruik) te vind in die doelteks.

Hy gee ook nie onnodige dikgelaagde omskrywende vertalings ter wille van die Engelse leser nie en hy slaag myns insiens daarin om die bekkighede van die swaanfluisteraar/sneeuslaper goed te ondervang.

Ter illustrasie, die bandindeks 22, waar die sneeuslaper, in sy woorde, ’n stukkie resiteer. Ek was veral geïnteresseerd in wat hy met die slotstrofe gaan doen:

“En dan sit hy ’n suikerklontjie op my tong, / op my lal, in die middel van my lalie, / in die spoelgeut van gelieg. / Tralalie, tralala! bomdabarie, bombom.”

Die ritme word behou; die guitige inslag en selfs die vertaling van “lal” en “lalie”, maar die poëtiese van “spoelgeut” gaan verlore in “gutter”.

Engels: “And then he puts a sugar cube on my tongue, / in my gob, in the middle of my lick, / in the gutter of all lies / Tralalee, tralala! Zip-a – dee–doo-dah, zip-a-dee-ay.”

Die ritme word behou; die guitige inslag en selfs die vertaling van “lal” en “lalie”, maar die poëtiese van “spoelgeut” gaan verlore in “gutter”.

Dit is ook die geval met “Oggend van ’n waterfiskaal” / “Morning of the Southern Boubou”. Is “Holy crack” net so sterk soos “Allagot”; of “in the looking glass” vir “spiekspiegel”?

Een van die mooiste beskrywings in “Die swanefluisteraar” is die volgende:

“Dit was of ek vir die eerste keer gesien het wat ’n swaan is: pluimedos van melkwit glas, ’n nek geblaas in ’n droom van vuur, ’n vaas wat vaar, dig aan sy weerkaatsing vas, ’n tweeling gemasker, bors aan bors gebind in ’n dans, ’n donker musiek in die webbe.”

In Engels lui dit:

“It was as if I saw for the first time what a swan is: feathery raiment of milk-white glass, a neck blown in a dream of fire, a vase under sail, coupled to its reflection, masked twins, breast to breast in a dance, a dark music in the webs.”

Eweneens geslaagd in Engels.

So kan mens nog hope voorbeelde aanhaal.

Miskien is ek as leser bevooroordeeld teenoor die Afrikaans, maar ek dink tog dat die vertaler daarin slaag om die klankmatigheid, die sardoniese skerpte en die slim intratekstuele spel goed vas te vang in sy vertaling.

Vir Spivak is vertaling die intiemste vorm van lees, wat impliseer dat die vertaler ook interpreteerder is en noodwendig betekenisnuanses in ag moet neem.

Ook word die vertaalde bundel ingelei deur ’n motto uit Orhan Pamuk, oor skrywers se soeke na hul tweede innerlike wese.

Marius Crous doseer Afrikaanse letterkunde aan die Nelson Mandela-Universiteit in Port Elizabeth.

Meer oor:  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.