Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Van Pretoria tot Provence

Retoer

Marita van der Vyver

LAPA, R230

Rubrieke en Essays

Watter vrou wens nié heimlik sy was Marita van der Vyver nie? Of dan ten minste een van haar vriendinne (of vriende, uit die aard van die saak) wat kan deel in daardie leefwêreld wat op die voorblad van haar nuutste boek opgesom word as die ongelooflike avonture van ’n skrywende ma . . .wie sou nou nié wou gaan kuier in daardie sprokie nie?

Retoer is daardie kuier saam met Van der Vyver. Sommer met die verwelkoming maak sy dit duidelik dat die boek nie haar memoirs is nie. Wat dit wel is, is ’n versameling kort skryfstukke wat in verskillende publikasies en op verskeie forums verskyn het. Op hul eie is elke stuk vermaaklik, nostalgies of ondersoekend. Maar saamgebind in hierdie bundel word die geheel baie meer as die som van die dele: Sy nooi die leser nader, skink vir jou ook ’n glas wyn, en raak aan die kuier en aan die gesels oor dinge wat verskillend maar ook dieselfde is van Pretoria tot Provence.

Die inhoud is in nege afdelings gegroepeer; genoem na van haar vorige boeke: Die blou van onthou, Vergenoeg, Die dinge van ’n kind, Bestemmings, Stiltetyd, Die hart van ons huis, Dis koue kos, skat, Wegkomkans en Al wat ek weet. Hierdie afdelingopskrifte gee ’n goeie idee van watter temas om te verwag – dit wissel van nostalgiese herinnerings uit kinder- en studentejare, reiservarings en gesinsoomblikke tot deernisvolle lewenswyshede wat met die jare saam kom. Die temas is onderling verweef en die bundel lees dus lekker as ’n geheel.

Daar is skaterlag-oomblikke wanneer sy met haar kenmerkende humor skryf oor onverwagte verskille tussen die Suid-Afrikaanse en Franse leefwêrelde, soos waar sy wens dat gradeplegtighede, wat ons as vanselfsprekend aanvaar maar wat nie by Franse universiteite plaasvind nie, ook haar kinders beskore was: “ . . . ek wou so graag ’n foto van onse Thomas met ’n toga en ’n snaakse hooftooisel hê dat ek voorgestel het dat ons iewers ’n Harry Potter-kostuum moet leen.” Dan weer die dodelik ernstige oomblikke soos wanneer sy besin oor die Charlie Hebdo-bloedbad of die #MeToo-veldtog.

Meerendeels is die trant egter lig; ’n viering van lewenservarings waaroor sy dankbaar is. In haar vorige niefiksieboeke het Van der Vyver breedvoerig geskryf oor daardie Franse lewe wat vir haar aanhangers altyd fassinerend sal bly: Provence, haar huis en familie en (onvermydelik) die Franse kos. Retoer is anders in die sin dat dit meer impulsiewe indrukke van die skrywer se leef- en gedagtewêreld gee omdat die bydraes (meestal relevante rubrieke) oor ’n paar jaar geskryf is en telkens “in die oomblik” was.

Ná só ’n lekker kuier sal sommige gesprekke ’n mens lank bybly.

  • Clari Niemand is ’n vryskutresensent van Pretoria.
Meer oor:  Lapa  |  Marita Van Der Vyver  |  Boekresensie  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.