Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Van stofstraatkind tot hardegat-polisieman

Jeremy vannie Elsies

Jeremy Vearey

TAFELBERG, R270

Niefiksie

Die boek is beter uitgelê as die woonbuurte van Jeremy Veary se grootwordjare.

Die storielyn loop ook so duidelik soos die turf, die gebiede wat die bendes beheer het op die Kaapse Vlakte, sy komvandaan.

Gordel vas vir die storiereis van genl.maj. Jeremy Veary: stofpadkind, Vlakte-oorlewende, Marxis, aktivis, politieke gevangene, onderhandelaar, amper-spioen.

Jeremy vannie Elsies verklap baie, maar min. Dit is so slim geskryf dat Veary jou op een plek laat voel jy weet alles van hom af, net om ’n hoofstuk verder agter te kom alles wat jy toe gedink het jy weet, is op sy kop gedraai.

Die boek vloei chronologies – van sy grootwordjare tot waar hy nou ’n baie senior pos in die polisie beklee. Wat dit egter nie insluit nie, is die lang stryd waar hy deur die howe moes baklei om in sy pos as Wes-Kaapse speurbaas heraangestel te word.

Vearey, toe groepspolisiehoof van Kaapstad, is op 4 April vanjaar ingelig dat hy die nuwe Wes-Kaapse speurhoof is. Sy herontplooiing na die pos was in die beste belang van die polisie se diensleweringsbehoeftes in die Wes-Kaap, het die brief toe gelui. Hy het die pos op 12 April aanvaar.

Vearey en lt.genl. Peter Jacobs, groepspolisiehoof van Wynberg, het hulle in 2016 tot die arbeidshof in Kaapstad gewend nadat hulle uit hul onderskeie poste as provinsiale speurhoof en Wes-Kaapse hoof van misdaadintelligensie verplaas is.

Die man wat duidelik nie terugstaan vir ’n lekker fight nie, het sy heraanstelling met ewe veel hardegatgeit aanvaar. Ja, dit is Vearey. Reg om moue op te rol – of dit nou vir baklei of vir werk is.

Hy skryf met ’n eerlikheid en geloofwaardigheid as hy in die tong van sy kinderjare praat. Mens loop die langloop saam oor naweke met sy pa as hulle dams gaan speel by vriende se huis.

Mens staan ook verskrik stil as die stofpadseuntjie sy eerste bendemoord sien. Sy pa trek hom vinnig aan die hand weg, waarsku dat dit niks met hulle te doen het nie.

Dit word nie bespreek nie, maar die jong Veary leer tog ’n lewe is bitter min werd in Mitchells Plain, in Elsiesrivier, in Hanover Park. Eintlik op die hele Kaapse Vlakte.

Maar dan swaai die stemtoon. Hy raak baie formeel, asof hy een tree wegstaan van die storie. Dit is die hoofstukke waarin hy vertel van sy eerste tree as politieke aktivis deur die UDF, die Mass Democratic Movement. Ook sy kennismaking met Marxisme.

Dis die lewe van Jeremy Vearey, stofstraatkind, hardegat-polisieman. Hy vertel baie, maar jy sal nooit alles weet nie.

In sy eerste paar dae in polisie-aanhouding, ná al die houe, gevloek en foltering, hoor hy die gille van ’n vrou weerklink. Pleks van hom knak, beur die hardegatgeit weer deur. “Ek het my fuck-you-punt bereik,” skryf hy.

Daar skemer ook ’n weerloosheid deur. “Dis die ding van foltering . . . die vlees raak gewoond daaraan. Maar die gees is ’n heel ander storie. Daar bêre jy die letsels van hulle dade diep weg, tot die wedersiens op die slagveld.”

Plek-plek sukkel mens om by te hou by die boeke, name en terme – dis Vearey se realiteit, maar omdat hy deur ’n ekstra lagie praat – nie soos sy grootwordstorie nie – het ek bietjie vinnig oor daardie paragrawe gegly.

Daai wipplankding: Nes hy die leser oortuig het hy is harder as klip, moet hy as lid van die polisie vir Stefaans Coetzee, wat die bom geplant het wat op Oukersdag 1996 by die Shoprite-sentrum in Worcester ontplof het, ondervra.

Hy herken die weerloosheid in die jong, wit man wat hy ook in die oë van jong slagoffers in sy tyd op die Kaapse Vlakte gesien het.

En hy besef die jong man voor hom is ook net ’n slagoffer van sy tyd.

Dis die lewe van Jeremy Vearey, stofstraatkind, hardegat-polisieman. Hy vertel baie, maar jy sal nooit alles weet nie.

* Koop die boek hier by takealot.

  • Ronelle Simmons is ’n vryskutresensent van Johannesburg.
Meer oor:  Jeremy Vearey  |  Boeke  |  Boekresensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.