Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Van Wyk Louw praat 50 j. later dieper as ooit

Die digter N.P. van Wyk Louw is volgende week 50 jaar dood. Benewens sy digterskap het hy sy stempel as dramaturg en intellektuele denker afgedruk. AJ Opperman het ’n paar letterkundiges oor sy literêre nalatenskap gevra.

“N.P. van Wyk Louw het die hoogste standaarde aan homself gestel, en hy stel dit vandag nog aan skrywers en intellektuele denkers.”

So sê prof. Gerrit Olivier, emeritusprofessor aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), oor dié digter wat volgende week 50 jaar dood is.

50 jaar ná sy dood
N.P. van Wyk Louw is in 1906 op Sutherland gebore. Foto: Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln)

Nicolaas Petrus van Wyk Louw is op 11 Junie 1906 op Sutherland in die Noord-Kaap gebore.

Hy is bekend om gedigte soos “Die beiteltjie”, “Vroegherfs”, “Grense” en die epos Raka.

Daarbenewens was hy ’n dramaturg en intellektuele denker.

Hy is die enigste skrywer wat die Hertzogprys vir poësie, drama én prosa kon wen.

“Hy is ’n geweldige groot digter. Deurslaggewend, onskatbaar, met blywende woorde,” sê Olivier.

As een van die Dertigers het sy debuutbundel, Alleenspraak, in 1935 verskyn.

“Met Alleenspraak het hy ’n nuwe standaard vir die Afrikaanse poësie gestel. Hy was vertroud met die internasionale poësie. So jy kan sy werk in die Europese konteks plaas.”

Olivier meen Van Wyk Louw het daarin geslaag om van tyd tot tyd sy eie poësie radikaal te verander.

“In die 1950’s het hy met Nuwe verse nuwe aspekte van Afrikaans verken, byvoorbeeld Afrikaanse streekstaal.”

Die digter N.P. van Wyk Louw is volgende week 50 jaar dood.

Louw, wat op 18 Junie 1970 dood is, se laaste digbundel, Tristia, is in 1962 uitgereik.

“Daardie bundel is ongeëwenaar in Afrikaans. Dis die grootste en mees komplekse bundel. Louw is in Afrikaans dalk die grootste naam. Tristia is bykans onmoontlik om te vertaal. As hy geskryf het in enige taal wat wyd gelees word, sou sy naam prominent wees.”

Louw het ook ’n groot bydrae gelewer met sy literêre kritiek en opstelle.

“Hy het ook in die politiek belanggestel. Hy het opstelle oor demokrasie geskryf. Hy het gereken liberalisme en nasionalisme kan intellektueel versoen word.”

Lojale verset: kritiese gedagtes oor ons Afrikaanse kultuurstrewe en ons literêre beweging het in die 1950’s verskyn. Dit is een van sy werke waarmee hy die Hertzogprys gewen het.

Lojale verset behels dat jy lojaal kan wees aan ’n volk, maar jy kan tog verset aanteken, oor iets soos kulturele vervlakking,” sê Olivier.

Louw is bekend om dramas soos Germanicus, Lewenslyn en Die pluimsaad waai ver.

In laasgenoemde het sy uitbeelding van die Afrikaner tot konflik met die voormalige eerste minister dr. H.F. Verwoerd gelei.

Prof. Ronel Johl, emeritusprofessor aan die Universiteit van Johannesburg (UJ), sê akademici en digters is steeds bereid om met sy werk en beskouings in gesprek te tree.

“Letterkundiges vind dit die moeite werd om sy poësie en dramas die soveelste keer innoverend te herlees, byvoorbeeld die enigmatiese gedig ‘Groot ode’, wat allerweë as die hoogtepunt in Van Wyk Louw se poëtiese oeuvre beskou word. Dit word in die eerste plek as ’n liefdeselegie herlees. Daar is die oorbekende ‘Die beiteltjie’ wat as ’n ingrypend sosiaal-politieke gedig gelees word. In dié opsig sou ’n mens van die onuitputlikheid van Van Wyk Louw se oeuvre kan praat.”

Johl is die redakteur van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se huldigingsbundel oor Van Wyk Louw wat later vanjaar verskyn. Dit vorm deel van die Akademie se reeks oor Hertzogpryswenners.

Johl is ook die gasredakteur van die uitgawe van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe wat op Van Wyk Louw se sterfdag uitgereik word.

“Ook sy sosiaal-politieke beskouings bied steeds stimulering,” sê Johl.

Prof. Andries Bezuidenhout, digter, skilder en hoogleraar in ontwikkelingstudies aan die Fort Hare-Universiteit, het in 2018 die N.P. van Wyk Louw-gedenklesing gelewer wat deur die UJ aangebied word.

Hy het op dieselfde geleentheid ’n skildery wat hy geskilder het van die huis waarin Van Wyk Louw op Sutherland in die Noord-Kaap grootgeword het, aan die UJ geskenk.

‘Karoo-dorp winteraand’ deur Andries Bezuidenhout.

“Die skildery is my dankbetuiging aan die Universiteit van Johannesburg omdat hulle nog Afrikaans as vak doseer, maar ook omdat hulle met die doseer van Afrikaanse letterkunde probeer om brûe te bou. Van Wyk Louw was gekant teen die idee van Afrikaans as ’n taal of kultuurwêreld wat aan ’n sekere ‘ras’ behoort. As ons wil hê Afrikaans moet aanhou leef as vak op universiteit, moet die nie-rassige aard van die taal ons erns wees.”

Bezuidenhout beskou Van Wyk Louw as deel van Johannesburg, al kom hy van Sutherland.

Van Wyk Louw het aan Wits doseer. Hy was voorheen hoogleraar aan die Universiteit van Amsterdam.

“Die skildery beteken vir my baie, asook die dorp Sutherland, wat my aan Karel Schoeman se roman Hierdie lewe laat dink,” sê Bezuidenhout.

“Ek hou daarvan dat ek ’n nagtoneel van die Van Wyk Louw-huis in Sutherland teen ’n muur in Johannesburg kan laat hang, as ’n soort huldeblyk.”

50 jaar ná sy dood
N.P. van Wyk Louw is die enigste skrywer wat die Hertzogprys vir poësie, drama én prosa kon wen. Foto: Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln)

Prof. Joan Hambidge, digter en letterkundige, se nuwe digbundel, Nomadiese sterre, tree in gesprek met Van Wyk Louw se gedigte.

“Louw is groot. Vir my is sy beste werke Tristia, Nuwe verse, Raka, en die klipwerk-gedigte,” sê Hambidge, wat die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad (UK) beklee.

Tristia het geen gelyke in ons taal nie. Trouens, dit is soos die tekste van Wallace Stevens en T.S. Eliot.

Tristia is ’n baken en al om die hawerklap probeer ’n literator of digter ’n Hertzogpryswenner se werk as so ’n mylpaal sien.

“Voortydig is dit. En: hierdie bundel, soos Opperman se Komas uit ’n bamboesstok, is ’n wentelpunt tussen die oorgang van modernisme na postmodernisme. Monsterverse van Wilma Stockenström praat met Tristia en Johann de Lange se Die algebra van nood bevat vele huldeblyke aan Louw.” 

Prof. Louise Viljoen, letterkundige aan die Universiteit Stellenbosch (US), verwys na die wyse waarop Afrikaanse digters ná Louw gesprekke met sy werk voer. 

“Dit staan vir my uit. Dit wil voorkom asof talle digters hom sien as ’n soort maatstaf teenoor wie hulle hulself moet artikuleer of van wie hulle hulself moet losmaak om hulle eie digterlike identiteit te vind.

"Hulle doen dit ook nie noodwendig met die piëteit wat jy vir ’n gekanoniseerde figuur reserveer nie: hulle verskil van hom, hulle verwyt hom, hulle distansieer hulleself van hom, hulle onderhandel met hom en erken daarmee die impak wat hy gemaak het met sy werk.”

Viljoen meen die gehalte van Louw se werk is sodanig dat hy sy lesers, of hulle self dig nie, uitnooi tot reaksie en gesprek. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.