Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Vars, nuwe stem boei enduit

Fiksie

Suitcase of Memory

A’Eysha Kassiem

KWELA, R270

Hierdie juweel van ’n debuut neem onmiddellik beheer oor van jou aandagspan.

Reeds beloof die pragtige voorplat-ontwerp met treffende gebruik van heldergeel iets van ’n verhaal waar die soektog na die lig, die goeie en ware­, ’n lewensaar sal wees. Dit is gepas in die verhaal-konteks, geskoei op verskillende wyses waarop die individu sy plek moet vind in ’n Suid-Afrikaanse samelewing waar ’n dikwels arbitrêre toepassing van verdoemende rasseklassifikasie dekades lank intieme kontak tussen rassegroepe wou verhoed, dat die bose nie twee keer ingenooi hoef te word nie.

Male sonder tal het skrywers reeds die masjinerie van die apartheidsregime, verontmenslikende wette, rassespanning, wrede geweld (fisiek en ideologies) en die verwoestende impak van die stelsel op families en die individu oopgeskryf. So ook is die onverwagte, onvoorsiene verhoudings, assosiasies en intimiteit tussen mense van totaal verskillende leefwêrelde goed gedokumenteer en verbeel in ons lettere.

Bastian Bredenkamp is die besondere held van Suitcase­ of Memory. Eerder as wat hy bloot nie is wat hy voorgee om te wees nie, is sy verhaal een wat stuk-stuk vorm aanneem en begin sin maak vir die leser soos Kassiem­ lewe gee aan sy spesiale gawe: Uit die hiernamaals word ’n kleurryke tapisserie geweef. Bastian kan alles onthou wat met hom gebeur het sedert sy geboorte. Maar om op so ’n unieke wyse te kan en mag onthou – om jou bagasie so heeltyd met jou saam te dra – plaas ook ’n ondenkbare las op sy skouers. Die spel tussen onskuld en kennis, en die verskillende liefdesverhale (nie bloot romanties of fisiek van aard nie) wat hier uitspeel, raak jou diep.

Suitcase of Memory vermy sover moontlik die versugting om ’n teks te word wat woed met kole van bitter ironie en wrang wyshede.

Suitcase of Memory vermy sover moontlik die versugting om ’n teks te word wat woed met kole van bitter ironie en wrang wyshede. Kassiem kies ’n gepaste, ontroerende alternatief: ’n eiesoortige magiese realisme gekombineer met versigtig gekultiveerde, beleë woordvernuf, teer emosionaliteit en ’n tasbare geloofwaardigheid en opregtheid. Die kleinste oomblikke van goedheid en menslikheid staan naas groter magte en narratiewe van ongeregtigheid en ongelykheid.

Kassiem se stem is vars, intelligent, deernisvol en gesofistikeerd; hierdie debuut, soos Ishtiyaq Shukri se skitterende debuut jare gelede, The Silent Minaret, wys watter fantastiese skryftalent wag om deur waagmoedige uitgewers raakgesien en ontwikkel te word. Soos Shukri­ se debuut het Kassiem iets diep ontredderends te bied oor die wyses waarop ons voortdurend in Suid-Afrika ’n ooglopende maar ook onsigbare stryd voer teen die kragte wat ons in rigiede identiteitsboksies plaas.

Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en -resensent van Stellenbosch.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.