Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Vasgenael agter ’n aangrypende storie aan

Fiksie

Een of ander held

Zirk van den Berg

KWELA, R300

Saal op vir ’n laaste galop saam met die ruiter Siegfried Bock en sy perd Zyklop.

Die Hochnamib-trilogie omspan ’n betreklik kort tyd van slegs tien maande. Een of ander held is die finale hoofstuk van Zirk van den Berg se hoogs onderhoudende verhaal. Die tydkapsule wat die drieluik is, ondervang ’n verdwaalde politieke ideologie, persoonlike hebsug, liefde en les bes die heroïese.

Heelwat het gebeur sedert Bock aan die begin van 1905 aan boord van die Jeanette Woermann van Hamburg vertrek het om sy land as soldaat in Afrika te dien. Nie net moes hy leer om te oorleef in ’n ongenaakbare land nie, hy moes homself ook vergewis van die ware aard van oorlog met sy selfbedrog.

As polisieman staan Bock op die drempel om as held bevestig te word met die verhoor in Windhoek van die man wat sy kameraad Hans Stempsky vermoor het. Dit sal re­spek by vriend en vyand afdwing, die tipe erkenning waarna hy al lank hunker. As daar egter een plek is waar jy nie jou kuikens te vroeg tel nie, is dit in die hof. Dit is juis hierdie gedagte wat by Bock opkom as hy na die advokaat luister wat die verdediging behartig: “Die feite is korrek, en tog is dit nie die waarheid nie.”

Terug by die Kaiserliche Landespolizei by Hochnamib kan dit op ’n afstand lyk of die lewe normaalweg aangaan. Selfs wat die romantiese betref, glimlag die geluksgodin vir ons held soos nooit tevore nie.

Net die stilte voor die volgende storm? Op sy spoor is Herr Gerd Dehlinger, die man wat in die eerste plek met ’n verskuilde agenda daarvoor verantwoordelik was dat Bock hom ver van sy vaderland af bevind. So ook wil Oberleutnant Moritz Berghammer eens en vir altyd met Bock afreken omdat hy nie sy motiewe vertrou nie. En of antagonisme uit eie geledere nie genoeg is nie, is daar ’n plaaslike vegter met een doel voor oë – om wraak te neem op Bock.

In Een of ander held is daar veral twee temas wat hulself aanmeld.

Eerstens die kwessie van kolonialisme, wat die verloorders in die oorlog as finale stap van verowering wil verkneg in hul eie geboorteland. Die hubris onderlê deur naakte rassisme kom weer pynlik onder die soeklig.

Een of ander held is ’n nogal besige verhaal met baie wat gebeur.

Die tweede tema wat as teenhanger van groepsdenke en -optrede aangebied word, is die individu se vermoë om krities na ’n situasie te kyk en op grond van persoonlike waardeoordele te besluit wat reg en verkeerd is en daarvolgens besluite te neem. Wat die aktuele argument van die roman rugsteun, is ’n boeiende storie. Hoe lekker is dit nie om vasgenael agter ’n aangrypende storie aan te lees nie.

Een of ander held is ’n nogal besige verhaal met baie wat gebeur. Die dramatis personae gee ’n stem aan ’n uiteenlopende versameling mense wat op verskillende maniere op oorlog reageer. Omdat die leser ’n diep betrokkenheid by die karakters ervaar, beleef jy die skrywer se siening van oorlog en kolonialisering op ’n intens emosionele vlak.

Om te skik by omstandighede waaroor jy min of geen beheer het nie of om jou daarteen te verset is die vraag waarmee diesulkes wat verslaan is, moet worstel. Jager Orlam het sy keuse gemaak. Vryheidsvegter of terroris? Hang af wie die oordeel vel.

Hoewel ontdaan van letterkundige pretensie is daar woorde en frases waarvan die skoonheid en trefkrag die leser nie verbygaan nie. So dink Bock oor die lewe as die meetsnoere vir hom nie op die regte plekke blyk te val nie: “Soos ’n man op ’n bevrore meer in die lente is hy nie seker van die vastigheid onder sy voete nie.”

Met naelbyt-oomblikke kan die afloop van Van den Berg se verhaal as monumentaal beskryf word.

Francois Bekker is ’n vryskutresensent van Pretoria.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.