Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Venter verken die kontoere van onheil

Sondag

Irma Venter

HUMAN & ROUSSEAU, R275

Misdaadfiksie

Sondag is dalk nie haar opruiendste ekskursie na die nagkant van die lewe nie, maar dit boei enduit. Hier is leesstof vir ’n week van Sondae, skryf Schalk Schoombie.

Irma Venter. Foto: Rudi de Beer

Rusdag. Gesinsdag.

Dag van samesyn, slaap, kerkklokke, uitstappies, bederfies. Dag van vrede. In die Westerse tradisie en religie is Sondag ’n tyd van aanbidding en vernuwing, die verkwikking van liggaam, siel en gees.

In die sesde aflewering van Irma Venter se vindingryke S-reeks, Sondag, is die pas langsamer, en soos die titel suggereer, rustiger as in haar vorige woelige misdaadromans. Jy vra jouself af: wou die skrywer ’n verdiende blaaskans neem, verwissel na ’n laer rat?

Tog, in die hande van ’n gedugte speurskrywer, kan jy verwag dat die rusdag minder heilig of heilsaam sal wees, onrustiger – as ’t ware ’n herdefinisie en omverwerping van die konvensionele Sondag. ’n Sondige dag. ’n Bose dag wat familie, gesinswaardes en sielerus ontwrig en verskeur.

Die gegewe om ’n gesinstragedie word oor 430 bladsye sorgsaam ontplooi, sonder die adrenalien en hoogspanning, kat-en-muis-speletjies en noue ontko-mings wat die reeks deurgaans kenmerk; soos in Sirkus (2017), waar die eksotiese hoofkarakters (’n vroulike sirkusarties wat messe dodelik akkuraat slinger, ’n rampokkerbaas) deur tydperke en oor vastelande heen rinkink het en geweld deel van die intrige was. Plaaslike politiek was deel van dié vermaaklike hutspot.

Haar jongste speurverhaal is minder epies geweef, die karakters is gewone mense en politiek is afwesig. Dit speel kronologies en oorwegend in een stad in die noorde af. Stylgewys is daar ook briek aangedraai. Die aanslag is gestroop, die taal sober en onopgesmuk, tiperend van ’n polisieverhaal wat fokus op forensiese metodiek.

Die sentrale raaisel word op ’n Sondag en Oukersaand ontplooi en wentel om ’n bloedige voorval wat sterk herinner aan die Van Breda-gesinsmoorde. ’n Inbraak by ’n luukse landgoed laat ’n sakeman, Lafras van Zyl, gewond en in ’n koma; terwyl die res van die gesin spoorloos verdwyn: sy vrou, Katerien, hul seun, Willem, en jongste kind, Maria, oftewel Cath. En nes die jong bylmoordenaar, Henri van Breda, word die verdwene Willem van gemene spel verdink.

Twee eerstepersoon-perspektiewe ontvou gelyk, dié van die opvlieënde kaptein AJ Williams wat die ondersoek na die vermisde gesin oorneem, en dié van joernalis Alex Derksen wat saam met sy vriendin, die fotograaf Ranna Abramson, die nuusstorie dek en die spoor volg van Martina Buitendag, ’n verloopte tiener van Stilfontein.

Daar is onvoltooide sake tussen AJ en Ranna, wat samewerking kompliseer. ’n Derde, ontstemmende perspektief duik sporadies op, dié van jong Maria, iewers in aanhouding sonder kos en water. (Kan sy uithou, oorleef, ontsnap?)

Dus, ’n teksboekvoorbeeld van die “procedural” oftewel polisiemisdaaddrama, ’n subgenre van krimi-fiksie wat die ondersoeke na talle (skynbaar onverwante) misdade in ’n enkele spanningsverhaal saamvleg. Dit neig eerder na ’n “howcatchem” as “whodunit”, terwyl forensiese wetenskap, ondervraging van getuies/verdagtes, digitale kortpaaie en die sif van leidrade voorrang geniet.

Venter se navorsing is soos gewoonlik noukeurig.

Daar word geleidelik ingedelf na die wortel van die kwaad, met doelbewuste herhaling van sekere besonderhede deur albei vertellers, wat die ondersoek kreeftegang laat vorder.

Sondag is dalk nie haar op­ruiendste ekskursie na die nagkant van die lewe nie, maar dit boei enduit. Hier is leesstof vir ’n week van Sondae.

Speurders, beamptes en talle verdagtes, soos nabye bure van die Van Zyls, word heel terloops en sonder omhaal van woorde in gesprekke en handelinge uitgebeeld, in kort hoofstukke wat in realistiese gesprekke en alledaagse situasies afspeel. In dié vlot, onbelemmerde verteltrant word ’n magdom brokkies inligting ter tafel gelê – ’n allemintige legkaart van leidrade.

Oorbekende genre-motiewe gedy: ’n seksklub, afpersing, vermiste minderjariges, gierigheid, ’n groot bedrag geld, porno en pedofilie – die krimi-konkoksie word dik aangemaak. Vir die oplettende leser lei die spoor in ’n minder opvallende rigting. En soos jy van Venter verwag, is die vroue sterk, atleties, slim en soms ook slinks – gatskop-karakters wat hul eie paadjies uitkap en oopskiet. Dit is eerder die mans – met enkele uitsonderings – wat neig na agterbaksheid.

Daar is verskeie varke in die verhaal, en hoewel die onthulling van ’n belhamel verras, kon daar meer gemaak word van dié skurk in die skadu. Enkele sleutelkarakters uit vorige S-romans help om die knope los te woel, en dit wil selfs lyk asof Ranna, wat deur die polisie gejag word vir moorde wat sy nie gepleeg het nie, uiteindelik ’n blaaskans en uitweg gegun kan word.

Meer durf jy nie verklap nie. Ná ’n ietwat dolende aanloop, vele leidrade en vals spore, is die slot plofbaar en die ontknoping bevredigend, met ’n lieflike geskiedkundige kinkel.

Venter verken die kontoere van onheil, die algoritmes van vrees. Sy lei die leser op voorstedelike paadjies wat afdraai na die donkerste sinkgate.

Sondag is dalk nie haar op­ruiendste ekskursie na die nagkant van die lewe nie, maar dit boei enduit. Hier is leesstof vir ’n week van Sondae.

* Koop die boek hier by takealot.

  • Schalk Schoombie is ’n skrywer en joernalis van Alberton.
Meer oor:  Irma Venter  |  Boeke  |  Boekresensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.